Menings

Gert Coetzee: As dit maar die Groot Doen was

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die realiteit is dat die heuglike dag wat mens wou hê nooit moes aanbreek nie omdat dit onnodig moes wees, tog aanbreek met die Groot Praat - met dawerende desibels, hoogdrawende versoeningstaal en ego-poetsery.

Dus laat dit mens met g'n keuse nie as om in beskeidenheid deel te neem - vir 'n skyfie dalk van daardie R700 miljoen wat die pratende president, buiten oor dít wat saak maak, sê bespiegeling is. As 'n amptenaar van 'n staatsverwante instelling 'n ondersoekende joernalis R60 000 aanbied om nie te praat nie, hoeveel sou dit des te meer werd wees om wel te praat?

Waaroor gepraat moet word, is hoeveel die praatsessie dan kos. Inligting bemagtig, soos die aanvoerders van die ANC-gekaapte gesprek, nou minus geloofwaardige instellings, moet weet.

Sê sommer ook wat die ho­no­ra­rium­pie is van elke has-been, never-been en wannabe op wie die kollig daar sal val. Of kom hul viriele verbositeit vloei­en­de van 'n flatulent-self­be­koor­like dampkring uit die goedheid van hul patriotiese hart as nederige geskenk van die pater en mater familias aan Suid-Afrikanertjies benede wat swoeg en spartel om die land te máák werk?

Ja, gewone aardlinge kan ook breedsprakig raak. Maar soos pres. Jan Brand, of iemand, gesê het: "Swyg en wees sterk, daar's werk."

Ek sou juis een kratergrootte-slaggat, onsigbaar in die boomskaduwee, van die straat wat na pres. Brand genoem is (en wonderbaarlik sy naam behou het) in die hoofstad van die afgebreekte provinsie onder die eens pratende ANC-onaantasbare Ace Magashule wou opper.

Die hoof van die Hoërskool Sentraal sou die eerste spreekbeurt wou hê oor die sinkgat op sy sportveld wat nou al jare met lint afgesper is en waaroor tot vervelens toe met die beweerde Mangaung-metro gepraat is. Sonder ingryping, want dit sou beteken die metro moet plan maak met die ondergrondse afvoerkanaal, waarvan die rioolklank inwoners van Dan Pienaar al van voor die ontstaan van die sinkgat teister. Die vrot kanaal is die oorsaak van die sinkgat, maar die raad blink uit in praat, nie in kousale probleemoplossing nie.

As elke Suid-Afrikaner oor probleempies in sy wyk of dorp wou praat, gaan die Groot Praat langer as die 30 jaar duur wat dit geneem het om die probleme te skep wat weens die spogpratery van uitspattig betaaldes in blink limousines ontstaan het. Om te praat oor pyne van die platteland, waar net strokies teer die slaggate aanmekaar hou, gaan langer duur as wyle Mangosuthu Buthelezi se KwaZulu-Natalse wetgewer-rede van 28 uur (versprei oor 11 dae).

Maar kom ons praat oor al die pratery. Die president wat ons in sy volkstoesprake en weeklikse nuusbriewe (deur 'n toespraakskrywer) oor Phala Phala op die hoogte hou, het jou werklikwaar met Die Donald oor handelstariewe gepraat. En . . . niks nie.

Had ons maar 'n ambassadeur in Washington DC vir voortydige praat- en doenwerk. Eerder as presidensiële, party-, regerings- en munisipale woordvoerders wat praat en praat en praat. Buiten wanneer joernaliste hulle om kommentaar oor kwessies en realiteite vra.

Daar is ook die pratery in munisipale rade, wetgewers, die parlement en kommissies wat praat oor kommissies wat praat oor kommissies waarvan die duur pratery futiel was. Van praat kan hulle by Carl Niehaus, Louis Liebenberg en Fikile Mbalula gaan leer.

Ek sou wou praat oor sekere praters wat as grenslose "omroepers" bly praat. Of oor hoe Rassie Erasmus tussen Han­dré Pollard, Manie Libbok en Sacha Feinberg-Mngomezulu gaan kies. Daaroor móét gepraat word.

As die Groot Praat maar die Groot Doen was. Dan kom versoening vanself.

• Coetzee is 'n Volksblad-oudredakteur. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM