Menings

‘Godsdiensblaps wys dat Jesus steeds nuus is’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
‘Dat ’n juis Paryse Olimpiese seremonie, karplaks! ’n godsdiensblaps kan maak, is nie verstommend nie.’ Foto: Skermgreep
‘Dat ’n juis Paryse Olimpiese seremonie, karplaks! ’n godsdiensblaps kan maak, is nie verstommend nie.’ Foto: Skermgreep

Geen gelowige het die afgelope week die Christendom, die Bybel en Jesus só nuus kon maak as wat kunstenaars by die Olimpiese Spele gedoen het nie, skryf die teoloog CJS Lombaard.

En daar sit hulle die "bo" in bohaai! - die Olimpiese Spele se openingseremonie raak toe 'n hele geloofsherrie. Leonardo da Vinci se bekende Laaste Avondmaal-skildery word vir vermaaklikheidsredes geparadeer, 'skies: geparodieer deur 'n gefopdossery en dies meer. (Baie mense, Christene én nie, sou eerder sê, "en sies meer". Smaak, mos maar . . . En Europa kán nogal swak smaak uitbasuin, soos maar onverwags gereeld met die jaarlikse Eurovision-musiek en modeskouspel).

Of, soos 'n klomp "ja, maar . . ."-kommentare die internet vol, half smalend, nagenoeg die ganse mensdom wil korrigeer, was dit nie die antiek-Griekse Bacchus-fees waarmee die Olimpiese tafeltoneel gespeel het nie? Want die Olimpiese Spele stam tog, al is dit lukraak (soos met enige tradisie), van die ouwêreldse Grieke af.

Soos 'n mens vir 'n kleinding sou sê, egter: "Kyk'ie kiekies." Dis mos maklik om te sien. Die eerste prent wat in jou kop opkom as jy daardie nou berugte Paryse openingseremonietoneelskermgrepe sien, is die Laaste Avondmaal-skildery. Met Bacchanale skimpe ingemeng, noudat jy dit noem. Waarmee 'n klomp gelowiges, aangehits deur biskoppe en pastore en selfs onse eie X-vaarder Elon Musk, hulle allermins laat vermaak het.

Selde as 'n apologie vir Da Vinci - wie se skildery die eintlike bron is waarmee die Franse kunstenaars speels gespot het. Ook maar goed só, want net 'n knertsie kultuurgeskiedenis sal jou herinner aan Laaste Avondmaal-speelshede sonder tal met dié skildery (inkluis nou-die-jaar se Dan Brown-Da Vinci Code-gegons), soos met ander kunswerke.

‘Die herrie bedaar'

Die kunstenaars lyk nou asof hulle verontskuldiging soek, tot tyd en wyl. Later wel sal hulle krediet opeis vir iets sinoniems aan "vernuwing". So lyk die liturgiek van 'n kunsskandaal telkens: die kunswerk verskyn, die establishment is geskok, sommige betrokkenes sê iets soos 'n kleuter se "so, wê!", die kunstenaar of galery of ondersteunende joernalistiek prewel iets konteksskeppend wat dalkies ook as 'n verskoning kan oorkom, die herrie bedaar en die laaste ronde interpretasies verskyn oor jare heen.

Kuns gaan nie oor iets wat mooi of tans aanvaarbaar is nie, maar móét nuut wees; dit moet mense laat dink en praat - moet skok, dus. Daarmee bly draai die wiele van die kunsbedryf. Te meer nog binne die Franse kultuur, waar letterkunde, filosofie, kunswerke, op- en uitvoerings die refleks insluit om te ondermyn. Oftewel, om te vernuwe.

'n Ander breedweg-Franse kenmerk is 'n amper-selfvoldane onkunde oor godsdiens. Dit is die demokratiese land met die sterkste sentiment téén openbare godsdiensuitinge. Onder hul laïcité-beleid is alle openbare tekens van geloof verbode. (Laïcité is iets soos amptelike openbare ateïsme; die term "godsdiensvryheid" is altyd dubbelsinnig. Dit het, teen talle misverstande in, nie sedert hulle 1792-republiekwording nie, maar eers meer as 'n eeu later, soos tans in die Franse politiek begin uitspeel.)

Die beste huidige illustrasie van laïcité is: as ek met 'n hidjab aan by die Champs-élysées sou afwandel, kom sien die polisie my. Gewapend. Hulle sal sê ek mag nie. Want San Publiek móét godsdiensloos wees: nie énige godsdiens nie, maar géén godsdiens mag in die openbare ruimte vertoon word nie.

‘ 'n Godsdiensblaps'

Dat 'n juis Paryse Olimpiese seremonie, karplaks! 'n godsdiensblaps kan maak, is daarom nie verstommend nie.

‘Groot dele van die Christendom sukkel nou wel met die hóé van die Olimpiese openingsvermaak, maar die dát daarvan word te maklik misgekyk.' Foto: Reuters
‘Groot dele van die Christendom sukkel nou wel met die hóé van die Olimpiese openingsvermaak, maar die dát daarvan word te maklik misgekyk.' Foto: Reuters

Christene die wêreld oor se aanvangsreaksies was ook nogal voorspelbaar. (Eweneens, die Schadenfreude anti-Christelike teenreaksies.) Baie gelowiges se sin vir heiligheid maak dat Jesus-beeldspelings in die kunste en media dikwels ongemaklik tuiskom. (Die grappies dat die Olimpiese Parysenaars, gedagtig aan die Charlie Hebdo-tragedie, Mohammed en Moslems mooitjies geïgnoreer het, raak 'n senupunt fyn aan.)

Maar daar is ook 'n ander uitkykpunt wat ons as Christene, tot eie skade, nie dikwels neem nie. Dit is dat Jesus steeds nuus is.

Geen gelowige het die afgelope week die Christendom, die Bybel en Jesus só nuus kon maak, die wêreld oor, as wat kunstenaars, as eerste impuls hieroor, nou het nie. Dat die kunstenaars 'n ikoniese Jesus-skildery (reeds positief) kon kombineer met 'n antiek-Griekse feesseisoen en een van die sensitiewe sosiopolitieke kwessies van ons era, die LGBQTI-debat, en dít nogal by 'n reusagtige sportbyeenkoms, uitgesaai die aardbol oor, wys iets besonders. Naamlik: Jesus, afbeeldings van Jesus en idees van én oor Jesus, is steeds relevant. Nie net binne die kerk nie, maar sommer oral.

‘Jesus veelkantig uitgebeeld'

Emosies loop nie hoog oor niksseggendhede nie - mense kry stry net oor wat saak maak.

Groot dele van die Christendom sukkel nou wel met die hóé van die Olimpiese openingsvermaak, maar die dát daarvan word te maklik misgekyk. Soos met baie ander daaglikse geloofsuitinge rondom ons.

Ons is kultureel-polities en selfs geloofsmatig gekondisioneer, as't ware, om só te kyk, dat ons konkrete geloofsimpulse rondom ons dikwels miskyk; misken, selfs. Dit terwyl, gewoon demografies gesproke (en Suid-Afrika as taamlik tipies hiervan) die afgelope dekades reeds, die wêreldbevolking meer godsdienstig word - en meer konserwatief godsdienstig.

Maar ons sién dit nie raak nie; onverklaarbaar, eintlik. En hier het ons pas 'n helder voorbeeld gehad van die Jesus-figuur en -boodskap wat vir 'n miljard mense skouspelagtig uitgesaai word.

Watter sendeling sou dit kon doen?

En watter sendeling sou dit nie wou doen nie?

Natuurlik weet alle Christene wat die Bybel lees, dat ook daar Jesus veelkantig uitgebeeld word, met die prismabeelde van die vier evangelies en van Paulus as die bekendste verkondigings. Ewe natuurlik weet almal dat nie alle Jesus-beelde deur die geskiedenis heen, ewe goed was nie: die ekstreme voorbeelde van die Nazi-Jesus, die mafia-Jesus, en dies meer, was en is twyfelloos 'n gruwel in Gods oë.

‘Vir wie is Christus? Vir almal.' Foto: Unsplash
‘Vir wie is Christus? Vir almal.' Foto: Unsplash

Daarteenoor moet ons erken, die meeste Jesus-voorstellings wil iets positiefs oor geloof (God, naaste, die natuur, liefde, genade) sê; ook eietyds ánders sê; al sluit dit heel dikwels in dat juis daardeur iets negatiefs oor gelowiges uitgewys word.

Op dié punt - vergeef my dat ek hierdie gebeure nou lees soos die Grimm-broers se fabels in die VSA geïnterpreteer is - is daar twee verdere lesse te leer uit hierdie bohaai: een les vir gelowiges, soos ek, en een vir LGBQTI-positiefgesindes, soos ek.

Vir die Christendom in den breë bly dit maar moeilik om sogenaamd alternatiewe seksuele oriëntasies te verwerk. Gegrond op natuurlike teologie (dinge is soos wat hulle geskape blyk te wees), eerder as op openbaringsteologie (dinge is inderdaad anders in die Christus-lig), wil heelwat kerkmense eerder die eenvoud van man-en-vrou terughê. Soos wat ons (maar aangeneem het ons . . . ) daarmee grootgeword het.

Die menslike realiteit is egter anders. Groter. Selfs bloot Bybels-gesproke en binne die vroeë kerkgeskiedenis, al is daar 'n hele paar moontlikhede; almal ewe kritiekloos aanvaar. Van heteroseksuele monogame mans en vroue, tot heteroseksuele poligamiste (of tegnies meer korrek, poliginiste: legendariese haremmeester Salomo, maar ook die aartsvaders Abraham en Jakob, en Dawid en andere), tot a-seksuele mense van verskeie soorte (eunugs, om verskillende redes; ook soos Paulus, weens sy wederkomsverwagting, plek-plek wens sy kerkmense sou wees; ook soos gelowiges amper altyd oor Jesus dink; ook soos nonne en monnike, wat die selibaatheid as heiligheidsoffer beoefen, lewe), tot die erotiese bloemlesing van Hooglied (waar daar van 'n huwelik geen sprake is nie en waar vroue die eerste, die meeste en die mees eksplisiete aan die woord is).

‘Vir wie is Christus?'

As ons onsself Bybels- en kerkgefundeerde gelowiges wil noem, moet ons dit wees óók deur raak te sien wat die grondige geloofstradisie ons reeds bied. As ons, daarmee saam, wêreldgerigte Christene wil wees (sendelinge, dus), moet ons ook ons onrealistiese eenvoudsverwagtige rakende seksualiteit laat vaar.

Die Bybel reeds ken nie so 'n eenvoudsverwagtig nie - inteendeel. Meer nog, volgens die openbaringsteologie in Christus: Vir wie is die geloof dan nou nie? Niemand nie! Beter gestel, sonder die Afrikaanse dubbel-nies: Vir wie is Christus? Vir almal.

En soos ek elders oor laasgenoemde geskryf het, enige "Ja, maar"-redenasie daaroor verstaan genade nie.

‘Daarteenoor moet ons erken, die meeste Jesus-voorstellings wil iets positiefs oor geloof (God, naaste, die natuur, liefde, genade) sê.' Foto: Unsplash
‘Daarteenoor moet ons erken, die meeste Jesus-voorstellings wil iets positiefs oor geloof (God, naaste, die natuur, liefde, genade) sê.' Foto: Unsplash

Dan, laastens, my afleiding vir positiewe LGBQTI-gesindes.

Dit is darem nou al 'n halfeeu dat hierdie beweging bestaan. 'n Protesbeweging is dit dus nie meer nie. Ouderdom en suksesse inaggenome, is LGBQTI (ook as metafoor vir die diverse ander moontlikhede) nou al góéd hoofstroom. Dit is tyd om die rebellie-identiteit in te ruil vir 'n gemeenskapsidentiteit, nes en naas ander belangegroepe.

Soos alle hoofstroomsake, egter, sal ander mense hierdie identiteite verbluffend goedkoop maak, deur dit blatant as bemarkingsmateriaal aan te wend. Soos gedoen word met Kers- en Paasfees, byvoorbeeld. Hierdie verskuiwing in die samelewing beteken egter maar net, welkom tuis. Al stem die binnegroep nie saam met die gebruikersgroep se motiewe nie, toon die aanvaarding nog steeds dat die voorheen-randgroep nou net 'n gewone onderdeel van die breëre samelewing geword het.

Meer nog: Deesdae, as 'n politieke party, 'n filmster, 'n lugdiens, 'n kettingwinkelgroep of kunstenaars by 'n wêreldsportopeningseremonie 'n pro-LGBQTI-sein die openbare-betrekkinge-hemele instuur, is dit nie om verdruktes te help nie. Dit doen sulke selfbemarkers nooit nie.

Aan die maniere van verhoofstroming van LGBQTI-identiteite, kan hierdie beweging nie veel verander nie. Maar dit het tyd geword dat pro-LGBQTI-gesindes hulle nie meer so laat misbruik vir andere se deugdelikheidsinjalering nie.

• Lombaard is professor en departementshoof, Praktiese Teologie en Sendingwetenskap, aan die Universiteit van Pretoria. Sy kwalifikasies sluit in 'n meestersgraad in die Joernalistiek (UJ) en doktorsgrade in die kommunikasiekunde (NWU) en in die teologie (UP). Die menings van skrywers is hul eie en verteenwoordig nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

CJS Lombaard

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM