Die dag of die nag wanneer Julius Malema wit mense prys, moet ’n mens weet die wegraping gaan waarskynlik binne twee sekondes geskied. Dit sal die hardvogtige Malema polities impotent maak as hy die hosannas begin sing vir wit mense. Dit sal vir hom grens aan hoogverraad.
Daarom is Dawie glad nie verbaas oor sy tirade teenoor die wit vrouelanddros in Oos-Londen wat hom daaraan skuldig bevind het dat hy onwettig ’n vuurwapen in ’n stadion afgevuur het nie. Hy beweer die “rassiste” het van die begin af sy bloed gesoek en dat hy bereid is om te sterf of tronk toe gestuur word vir die revolusie.
Hy gaan ook sy saak tot in die hoogste hof beveg om sy onskuld te bewys. Ja, nè, ons weet hy het mooi by Jacob Zuma geleer en gaan die Stalingrad-taktiek toepas. Malema gaan die regsproses so lank as moontlik uitrek.
Dis ’n berekende strategie. Hy weet sy ondersteuners wil glo dat elke hofuitspraak, elke ondersoek, elke terugslag niks anders is as ’n komplot teen hom is nie.
Tog is Malema se reaksie kenmerkend van die patroon wat ons al te goed ken. Nie selfondersoek of aanspreeklikheid nie, maar aanvalle op die regbank en die “regime”. Elke regsproses teen hom omskep hy in ’n politieke veldtog.
Malema en sy EFF is gemarineer in sosialisme. Hulle gaan nie tot ander insigte gebring kan word nie. Dit gaan eenvoudig net nie gebeur nie, al staan en skree jy op ’n dak. Sy EFF is bloot ’n politieke sekte, met al die kenmerke van ’n sekte waarvan die bewondering van ’n leier deur troue volgelinge maar slegs een is.
Malema verteenwoordig een uiterste van die politieke landskap. Ekstremisme en meesal sosiaal onaanvaarbare gedrag. “Kragdadig” in naam, maar afstootlik en meestal belaglik in sy gevolge. Malema projekteer hom as ’n dapper politieke Dawid wat nie skroom om Goliat aan te pak nie. Feit is: Malema het nie eens ’n behoorlike politieke slingervel behalwe haat en uitgediende sosialistiese slagspreuke om sy vyande grond toe te bring nie.
Dawie weet by nou al dat Malema se reaksie so voorspelbaar is dat dit byna vervelig raak. Hy bied geen verdediging nie, maar bly op die aanval. Hy maak van sy eie skuldigbevinding ’n wapen om weer sy ou liedjie te sing: wit mense is die probleem, die stelsel is teen hom, hy is die enigste sober en dapper stem van die verdruktes.
Malema se hele DNS bestaan uit haat. Hy bottel dit, etiketteer dit as “radikale ekonomiese transformasie”, en verkoop dit aan diegene wat voel dat die reënboognasie se beloftes leeg was.
In plaas daarvan om oplossings te bied, voed hy die vuur van frustrasie. In plaas daarvan om hoop te plant, strooi hy gif van verdeeldheid. Sy retoriek gaan nie oor die bou van ’n beter Suid-Afrika nie, maar om te polariseer. Hy is ’n groothandelaar van haat.
En ’n populis soos Malema sal nooit verantwoordelikheid aanvaar nie. Populisme werk altyd volgens dieselfde formule, en Malema pas dit klokslag toe. Hy begin deur ’n vyand te skep – die wit regbank, die “establishment”, die rykes. Iemand moet altyd die booswig wees. Dan verhef hy homself tot die ewige slagoffer, die martelaar van die stryd, en weier om ooit verantwoordelikheid vir sy eie dade te aanvaar. Sy taal is deurdrenk van woede, want emosie, nie feite nie, is die geldeenheid waarin ’n populis handel dryf.
En uiteindelik bied hy dramatiese antwoorde op komplekse vrae: grondgrype, nasionalisering en radikale slagspreuke. Dis sy kitsoplossings wat sy volgelinge opgewonde maak, maar geen daadwerklike oplossings bied nie.
Suid-Afrika kan nie bekostig om sy politiek van gif as ’n resep vir vernuwing te aanvaar nie.
• Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.




















