Menings

Rapule Tabane: Onthou, Nathi het Zuma gered

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
 
  ( )

In Suid-Afrika praat ons nie sleg van die dooies nie. Dis menslik, maar elke nou en dan lyk dit of mense weier om die feite te ignoreer.

Dis die geval met die dood van Nathi Mthethwa, Suid-Afrika se ambassadeur in Frankryk. Die omstandighede rondom sy dood word steeds ondersoek.

Wat ons weet, is dat hy sy huis in Parys verlaat het, by ’n hotel ingeboek het en ’n teksboodskap aan sy vrou gestuur het waarin hy verskoning gevra het en aangedui het dat hy sy eie lewe gaan neem. Volgens die Franse polisie het hy van die 22ste verdieping van die hotel gespring. Skeptici bespiegel dit was dalk nié selfdood nie.

Terwyl die president, die regering en die ANC Mthethwa gehuldig het, was Suid-Afrikaners op sosiale media nie so vergewensgesind nie. Mthethwa se loopbaan as openbare ampsdraer was hoogs omstrede en teleurstellend. Hy is waarskynlik die enigste voormalige minister wat in drie kommissies van ondersoek betrek is.

Hy was in 2012 die minister van polisie toe 34 stakende mynwerkers by Marikana buite Rustenburg deur die polisie afgemaai is. Die Farlam-kommissie van ondersoek wat daarop gevolg het, het hom nie direk strafregtelik aanspreeklik gehou nie, maar was krities oor die polisie se optrede onder sy politieke toesig.

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het wydlopende bevindings oor Mthethwa gemaak, primêr in sy tyd as minister van polisie. Dit sluit in die misbruik van ’n misdaadintelligensiefonds vir die koop van ’n Mercedes-Benz en die verbetering van veiligheid by sy huis. Hy het ook vir Richard Mdluli as hoof van misdaadintelligensie aangestel en later glo ingemeng toe aanklaers Mdluli weens moord, bedrog en korrupsie wou vervolg. Die kommissie het bevind Mthethwa was ’n sleutelfiguur in ’n omgewing waarin korrupsie op die hoogste vlakke in die polisie plaasgevind het.

In die Madlanga-kommissie, wat onlangs begin het om bewerings van misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel te ondersoek, het lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi verlede week getuig hoe Mthethwa ingemeng het in polisiewerk en Mdluli se vervolging probeer stopsit het. Sommige mense meen dit hou direk verband met sy selfdood.

Mthethwa was simbolies van die meeste dinge wat skeefgeloop het in ons politieke stelsel.

Hy is wyd erken as die man wat nuwe lewe geblaas het in die loopbaan van oudpres. Jacob Zuma. In 2005, nadat oudpres. Thabo Mbeki Zuma as adjunkpresident afgedank het weens sy beweerde betrokkenheid by die wapenskandaal, het dit gelyk dat Zuma se loopbaan verby is. Zuma het vrywillig afstand gedoen van sy pos as adjunkpresident van die ANC.

Op die party se nasionale raadsvergadering daardie jaar, het Mthethwa ’n rebellie uit KwaZulu-Natal gelei om voorstelle van Mbeki om die party te hernuwe te dwarsboom en Zuma weer as adjunk aangestel te kry. Dit het die weg vir Zuma gebaan om uiteindelik president te word.

Mthethwa het Zuma aan ons geskenk en als wat daarop gevolg het. En hy is daarvoor beloon. As minister van polisie was hy pateties. As minister van sport, kuns en kultuur het hy die bynaam “minister van meegevoel” gekry omdat hy basies net verklarings uitgereik het by die afsterwe van kunstenaars. En toe kry hy die knusse pos van ambassadeur in Frankryk – een van die mees gesogte poste in die diplomatieke diens. Hy het dit nie verdien nie en dis tragies dat dit só moes eindig.

Suid-Afrikaners sal tereg voel of ’n onreg gepleeg is omdat hy dood is voordat hy vir sy wandade kon boet.

·Tabane is politieke redakteur van City Press. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM