Menings

Vier Jacinda Ardern se krag én broosheid

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die stryd destyds was nooit bloot vir vroue se reg om te werk nie, skryf Inge Kühne.

Kragdadig: LP's klap hande ná 'n toespraak van Jacinda Ardern in die parlement. Foto's: Getty Images
Kragdadig: LP's klap hande ná 'n toespraak van Jacinda Ardern in die parlement. Foto's: Getty Images

Laat ek erken: Ek is spyt Jacinda Ardern het bedank. Nie omdat ek vreeslik meegevoer was deur Ardernmania, soos die heldeverering vir haar genoem is nie, maar omdat haar bedanking net weer 'n klomp aanvegbare wanopvattings oor vroue in die werkplek versterk het.

Kom ons kry een ding eers uit die pad uit: Ardern was 'n inspirerende leier vir Nieu-Seeland en sy het in haar tyd as premier 'n paar groot suksesse behaal.

Dis ook haar goeie reg om halt te roep omdat sy voel dat haar "tenk leeg is", soos sy dit in haar bedankingstoespraak gestel het.

Sy én haar party is al lank onder druk. Die golf van ondersteuning waarop sy twee keer tot premier verkies is, was besig om, soos sy, stoom te verloor te midde van hoë inflasie, weghol-behuisingskoste en ongewilde of onuitvoerbare beleid.

Dít is waarom die premier se tenk leeg is.

En daar sou dit eindig as Ardern 'n gewone politikus was - in Suid-Afrika 'n kort koerantstorie onderaan bladsy agt. Want wees nou maar eerlik, Nieu-Seeland is 'n klein, polities bra vervelige eilandjie ver van alles. Ons sou hier skaars kennis geneem het daarvan as hulle van premier verander het.

Maar Ardern was anders. Sy was die superster-premier wat sommer in 'n sweetpak-top met die nasie oor Covid gepraat het nadat sy haar baba in die bed gesit het.

En ja, sy was mooi en jonk. En daardie baba is midde-in haar termyn as premier gebore.

Ardern se krag, of dan haar broosheid, was ook haar handelsmerk.

Sy was meer openlik oor haar huis-lewe as wat politici en vroueleiers gewoonlik is. Sy het byvoorbeeld haar drie maande oue baba saamgevat toe sy in 2018 'n toespraak gaan lewer het by die Verenigde Nasies - nie net tot by die venue nie, maar tot binne-in die vergadersaal waar sy gepraat het. Daardie foto's het amper die internet gebreek.

Ardern, Gayford en hul dogter, Neve, in 2019.
Ardern, Gayford en hul dogter, Neve, in 2019.

Dit was haar reg om haar baba, wat sy in daardie stadium nog geborsvoed het, sover moontlik elke minuut by haar te hou en haar keuse om haar moederskap op dié wyse op 'n wêreldverhoog te deel.

Ardern wou daarmee aan die wêreld wys dat vroue hul plek in leiersposisies kan vol staan sonder om hul selfver­wesenliking of hul rol as ma's af te skeep.

Dit het dalk ten onregte meegebring dat sy wêreldwyd die simbool gemaak is van vroulike leierskap in die algemeen.

O, swaar is die kop wat die kroon dra!

Om 'n simbool te wees vir vroue - daardie mense wat so hard baklei het om uit die beperkinge van boksies te ontsnap - is veral problematies.

Mans kan sterk leiers wees of swakkelinge, ikone of narre, tiranne of redders. Maar oor vroue in leiersposisies is vreeslik baie vooropgestelde idees.

Allerlei eienskappe word aan hulle toegedig, asof vroulikheid 'n soort kleed is wat net mooi en opreg laat deurskyn. Amper soos wanneer 'n baba sy eerste skreeutjie gee en ons besluit hy gaan 'n sanger word, sê ons vir mekaar "hierdie een gaan meer medelydend en empaties wees", want sy is 'n vrou. Of sy gaan meer mensliewende beleid en wette maak.

En dan, wanneer die vrou nie voldoen aan hierdie idealistiese beeld nie, haal ons die ander etiket uit. Ons noem hulle harteloos of koud.

Saam met Angela Merkel toe sy swanger was met Neve.
Saam met Angela Merkel toe sy swanger was met Neve.

Dis min of meer die twee beskikbare opsies: empaties of harteloos.

Die empatie-etiket word meer gereeld gebruik vir vroue soos Ardern, aan die liberale kant van die spektrum, terwyl niemand Margaret Thatcher daarvan verdink het dat sy meer empaties as haar manlike kollegas sou wees nie. Ook nie vir Helen Zille nie.

Barack Obama en Nelson Mandela se presidentskap is natuurlik gekenmerk deur diep empatie en medemenslikheid. Al is hulle mans. Maar ons laat dit gerieflik buite rekening wanneer ons vroue in die boksie druk.

Die ironie is dat dit juis die sogenaamde kampvegters vir vroueregte is wat die hardste sing oor vroue se skynbaar eenvormige eienskappe, behoeftes en drome. En swakhede.

Want wat impliseer kommentators wanneer hulle in reaksie op Ardern se bedanking sê dat die werksomgewing of die openbare lewe te ongenadig is vir vroue soos sy?

As jy aanvoer dat vroulike leiers onregverdig uitgedaag word wanneer hulle oor hul voorkoms uitgevra word, wil jy impliseer dat dié vrae hulle uitknikker tot só 'n mate dat dit 'n onhanteerbare persoonlike tol eis? Of dat Ardern minder in staat sou wees om die situasie te hanteer wanneer iemand iets oor haar skoene sê as Donald Trump wanneer hy 'n gek gemaak word oor sy haarstyl?

Ardern en haar verloofde, Clarke Gayford, ná haar verkiesingsoorwinning in 2020.
Ardern en haar verloofde, Clarke Gayford, ná haar verkiesingsoorwinning in 2020.

Ons misken die ware krag van vroue.

Partykeer voel dit asof die twee punte van die hoefyster baie na aan mekaar kom wanneer 'n saak soos vroueregte bespreek word. "Vroue is slagoffers wat beskerming nodig het" is 'n standpunt wat gehuldig word deur sowel kampvegters vir vroueregte as diegene wat glo 'n vrou hoort 'n onderdaan van die man te wees.

In ons ywer om vroue soos Ardern te beskerm teen werklike en gewaande geslagspesifieke aanslae, onderspeel ons soms die veerkragtigheid van vroue en die vooruitgang wat gemaak is vir vroue by die werk en in leiersposisies. Ons misken die ware krag van vroue.

Want terwyl Ardern se tenk nou leeg is, is die meerderheid van Nieu-Seeland se parlementslede steeds vroue. Elders in die wêreld is 33 vroue op die oomblik staats- en regeringshoofde, van wie die nuutste, Borjana Kristo, die afgelope week in Bosnië beëdig is. Die 61-jarige Kristo oorleef al vir amper 30 jaar in daardie onstuimige politieke arena.

In haar bedankingstoespraak het Ardern gekies om spesifiek haar gesinslewe op te haal toe sy gesê het: "Neve, Mamma sien uit daarna om daar te wees wanneer jou skool dié jaar begin. En Clarke, kom ons trou uiteindelik."

Top-politikus én ma. Sy het baie hooi op haar vurk gehad. Angela Merkel het al gesê sy het nie kinders gehad nie, want dan sou sy die politiek moes los. En sy wou nie die politiek los nie.

Maar dis nie onmoontlik nie.

Merkel se minister van verdediging het sewe kinders gehad. Werkende vroue maak al geslagte lank suksesvolle kinders groot in liefdevolle, geborge huise.

Trouens, navorsing wys ouers in ontwikkelde lande bestee deesdae gemiddeld meer tyd aan hul kinders as 50 jaar gelede, selfs al het baie minder ma's destyds buite die huis gewerk.

Dis in elk geval 'n skeefgetrekte idee dat net vroue onder druk is om betrokke te wees by hul kinders. So asof geen man al ooit wou gaan kyk wanneer die kannetjie krieket speel nie. Toe Mark Boucher verlede jaar, nes Ardern, ná 'n taai tyd by die werk as Protea-afrigter bedank, het hy ook gesê hy wil meer tyd saam met sy gesin deurbring.

Maar wanneer jy begin redeneer dat ma's 'n soort "afslag" of spesiale simpatie in die werkplek moet kry, bevestig jy die wanopvatting dat hulle nie ewe gefokus as hul manlike of kinderlose kollegas kan werk nie.

Een van die gewildste argumente teen vroue se reg om 'n beroepslewe te hê, was hoeka dat vroue hul primêre plig as moeders sou afskeep as hulle toegelaat word om hulle aan 'n loopbaan toe te wy. Vyftig jaar nadat die vroue hul bra's verbrand het, is daardie mite al behoorlik weerlê.

Die eise wat 'n beroep aan die gesinslewe stel, is nie net vroue se probleem nie. Wanneer ons daaraan aandag gee in werkplekke of in die samelewing moet ons nie net op vroue fokus nie. Ons moet eerder kyk hoe maak ons werkplekke 'n veiliger omgewing vir mense en vir families, ongeag geslag.

Nog een van die ou argumente wat in die vorige eeu gebruik is om vroue uit die werkplek te hou, was dat dit 'n manswêreld is wat allerlei gevare vir vroue sou inhou.

'n Superster-premier tydens die Covid-19-pandemie.
'n Superster-premier tydens die Covid-19-pandemie.

In die reaksie op Ardern se bedanking is dié standpunt geklee as 'n pleidooi dat die werkplek moet verander om plek te maak vir vroue.

Dis natuurlik waar dat die politiek 'n ongenadige, robuuste plek kan wees, nes korporatiewe raadsale, oorlogsones, die meeste skoolterreine en veral sosiale media. En dis so dat wanneer vroue aangeval word, seksisme, fisieke dreigemente en geslagspesifieke vernedering dikwels as wapens gebruik word.

Maar wanneer ons daaroor praat, moet ons nie vergeet dat dit nie net vroue is wat deurloop in die werkplek nie. En ons kan gerus ook onthou dat vroue robuus, dapper en vindingryk is.

En dat baie van hulle diepe vervulling put uit hul beroepe én uit hul gesinslewe.

As een vrou besluit om te bedank, beteken dit nie die werkplek is té ongenadig vir vroue nie.

Daar moet plek wees in ons wêreld vir Ardern wat mag kies om eers haar tenk te gaan volmaak, maar ook vir Mpho Phalatse, Angela Merkel, Helen Zille, Margaret Thatcher, moeder Teresa, Hillary Clinton en Helen Suzman. En vir die miljoene ander werkende vroue, die vlieëniers en boere, die masjienoperateurs en die entrepreneurs vir wie hul loopbane juis die petrol is wat hul tenks volhou.

Die stryd was nooit bloot vir vroue se reg om te werk nie. Dit was ook vir die reg om te werk al is jy 'n ma. En ewe belangrik, maar minder prakties vir diegene wat werk om den brode, is natuurlik die reg om nié te werk nie, soos Ardern nou doen, of om 'n minder uitdagende pos te kies.

Dis 'n reg op keuse waarvoor vroue hard baklei het. Vier gerus vroue se broosheid, maar vier dan ook hulle krag.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM