Menings

Hein Willemse: Vyf stede in SA op dié moordlys

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hein Willemse
Hein Willemse (Netwerk24)

Op die tuisblad van die Igarapé-instituut, ’n Brasiliaanse organisasie sonder winsbejag, staan dié ysingwekkende sin: “Vyf lande – Brasilië, Nigerië, Mexiko, Indië en Suid-Afrika – is in 2023 verantwoordelik vir 40% van alle moorde wêreldwyd.”

Vyf Suid-Afrikaanse stede tel onder die 30 stede met die hoogste moordsyfers ter wêreld: Nelson Mandelabaai, eThekwini, Kaapstad, Pietermaritzburg en Oos-Londen. Slegs Mexiko en Brasilië met onderskeidelik sewe en ses stede is hoër op dié lys. Die instituut roem daarop dat sy moordmonitor op “van die mees omvattende openbare beskikbare datastelle in die wêreld” berus.

Suid-Afrika word lank reeds in dieselfde asem as Venezuela genoem, met 40 moorde per 100 000 mense van die bevolking. Vergelyk die VSA se 6,3 moorde, Brittanje se 1,1 of dié van Japan, Spanje, Italië, China of Duitsland waar dit minder as een moord per 100 000 is.

Vir Suid-Afrikaners is dié syfers geen verrassing nie. Elke dag sien, hoor en lees ons die nuus wat naasbestaandes in smart dompel en gemeenskappe verbysterd laat. Die laaste paar dae is wyd berig oor die sluipmoord op ’n Johannesburgse prokureur. In Gqeberha soek die polisie verdagtes wat Maandag twee vroue (40 en 65 jaar oud) en ’n negejarige meisie in Soweto-on-Sea, Kwazakele, doodgeskiet het. In Kariega is ’n jongman doodgeskiet. In Mooiplaas naby Oos-Londen is ’n polisiesersant die naweek ná ’n struweling met die ma van sy kind doodgesteek.

In Pietermaritzburg staan twee vermeende sluipmoordenaars saam met ’n tradisionele leier, die beweerde baasbrein, weens verskeie moorde tereg. Hulle word met minstens 15 moorde verbind, onder meer op plaaslike raadslede, sakelui en ’n massamoord op ’n gesin.

Vroeër die week duik die volgende berig oor moorde in Kaapstad op sosiale media op. “Verskeie skietvoorvalle wat met bendegeweld verband hou, is . . . in die Steenberg- en Retreat-gebiede aangemeld, met minstens vyf sterftes sedert Saterdag. Op Saterdag en Sondag is daar minstens twee skietvoorvalle aangemeld, wat tot die dood van twee mans gelei het.

“Op Maandag het die koeëls aanhou vlieg, en onder die slagoffers was ’n 17-jarige tiener wat in Beethovenstraat in Retreat net ná 12:00 op Maandagmiddag doodgeskiet is . . . omstreeks 16:30, is twee mans, ouderdomme 24 en 37, doodgeskiet op ’n veld in Fluitstraat, Steenberg . . . (D)ie geweld (is skynbaar) die gevolg van ’n interne stryd in die Junky Funkies-bende.” ’n Dag later word ses mense in Kraaifontein afgemaai.

Geweld in hierdie land kan nie aan ’n enkele oorsaak toegeskryf word nie. Kundiges is dit eens dis ’n komplekse verskynsel met diepgewortelde historiese, sosiale, ekonomiese en politieke oorsake. Ons historiese nalatenskap van strukturele ongelykheid word dikwels genoem, maar hedendaagse geweldsmisdaad moet sekerlik toegeskryf word aan onder meer wydverspreide armoede, georganiseerde misdaad, korrupsie, verswakte en gekompromitteerde wetstoepassing, gebrekkige regspreking en maatskaplike verbrokkeling.

Die beveiliging van die bevolking is van die belangrikste voorwaardes vir goeie regering. Op dié gebied ploeter ons regering voort. Gemeenskappe word meesal aan hul lot oorgelaat. Van die regering hoor ons allerlei ad hoc-planne, maar waar is die omvattende visie en strategie wat doelgerig en dringend nagevolg word?

Inklusiewe ekonomiese groei, maatskaplike opheffing, saambindende programme en geskikte opleiding is nodig, asook behoorlike polisiëring en die beskerming van weerlose gemeenskappe. Bowenal moet die regering dringend en doeltreffend optree.

• Willemse is ’n emeritus professor in letterkunde en teorie. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM