
Skielik is die eerste tekens van lente hier en ek voel skoon opgelug. Die varsgroen skynsels aan die bome, die vinke se frenetiese nesbouery en die kat wat haar lankuit strek op die vensterbank wanneer ons ’n uur vroeër wakker word as taks ’n week gelede maak my bly.
Ek is allermins een van dié wat beskryf sal word as ’n Polyanna en het ’n wantroue in selfhelp-ghoeroes se soms soetsappige voorskrifte om immer positief deur die lewe te huppel (gewoonlik in sewe stappe. Waarom nooit 13 stappe nie?). Maar hier by die stoeptafel met die oggendson teen my rug wil ek my dankbaarheid opteken.
Die blote gedagte dat albei dogters vir die eerste keer in sowat 12 jaar terselfdertyd in onse suiderland is, laat my glimlag. Die een sit nou wel tans in Kaapstad, maar dis in dieselfde tydsone en ek wéét mos hoe dit daar lyk sonder om in vreemde stede te verdwaal op Google Earth.
Dit is góéd om weer te voel hoe kielie my neus in jongste se krullebol wanneer ons tydig en ontydig vir mekaar drukke gee hier waar sy nog weke lank op my werf sal wees. Ook dat ek ná byna drie jaar eindelik haar skoonouers kon ontmoet al die pad uit die Filippyne.
Ek was sommer gelukkig en verlig die genepoel brei uit, want het die kind nie hoeka gevra toe ons gesels oor dié en daai en dit uitloop op ’n ongemaklik nabye genealogiese warboel nie: “Is daar ’n Afrikaanse iemand wat nié op ’n manier familie is van ons nie?!”
My verwondering is groot en met ’n lied in die hart sê ek dankie dit het slegs twee dae geneem vir die tuinvoëls om die nuwe voerbak te ontdek. En een van die dae gaan die janfrederikkie hans genoeg wees om ’n meelwurm uit my hand te eet.
Dat ’n Duitse sjef-vriendin my vertel het ’n mens kan wintersalat maak van bitter slaaiblare en kapokaartappels was ’n vreugdevolle oomblik. Die slaaikoppe in my tuin het heeltemal te stadig gegroei in die knypende winter en proe pure bitterals – nie eens die verloopte bobbejaan sit sy mond daaraan nie.
Ek verkneukel my steeds aan die tuinwerker se vertelling vroeër die week oor sy onlangse hospitaalbesoek. Die man is ’n diabeet en raak al hoe dunner. Nee, hy was nie daarvoor in nie, hy het die groot boek gaan soek, sê hy.

“Dis oor Sunday.” Sy seun, snap ek.
“Ons moet die certificate van birth kry.”
Ek skat Sunday so kort voor 30 jaar oud.
“Maar sy naam is nie by die masjien nie. Dis by die boek. Disse baie groot boek. Ons kry hom nog nie. Next week dalk.”
Ek vra nie, maar hy antwoord: “Nee, ons koop hom nie die ID nie. Dis nie reg nie.”
Saam gaan ek saam, is die voorneme, om te gaan soek in daardie groot boek.
Ek wil daar wees as Sunday homself kry. Min dinge sal my blyer maak.
• Van der Walt is ’n vryskutskrywer van Kaapsehoop. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.















