Dekades nadat sewe mans buite Kaapstad deur die polisie "gejag en doodgemaak is", het sy vasgestel waarom hierdie sluipmoorde gepleeg is, sê Beverley Roos-Muller aan Murray La Vita.
Dr. Beverley Roos-Muller se oë skiet vol trane wanneer ons praat oor hoe Jabu Miya (23) se ma, Eunice, teen dagbreek van die dag waarop hy doodgeskiet is, haar laaste R5 met hom gedeel het - sy het vir hom R2 gegee sodat hy 'n taxi kon haal om te gaan werk soek.
Miya was een van die sewe jong mans wat op die oggend van 3 Maart 1986 deur die polisie in die Kaapstadse township Gugulethu doodgeskiet is. Volgens die polisie was dié mans, wat as die Gugulethu-sewe bekend geword het, "terroriste" en deel van 'n MK-sel wat beplan het om 'n polisie-eenheid aan te val.
Roos-Muller onthul in haar boek Hunting the Seven: How the Gugulethu Seven Assassins Were Exposed haar verbintenis oor dekades heen met dié gebeure en hoe sy na die waarheid oor hul dood gesoek het deur met groot stiptheid en deursettingsvermoë deur die getuienis te werk en met talle van die betrokkenes te praat.
Die ontroerende vignette van ma en seun word aan die begin van Hunting the Seven beskryf.
"Die teerheid daarvan . . . die laaste ding wat jy ooit vir jou kind doen, is om vir hom R2 te gee . . . Daar was tye tydens die skryf van dié boek wat ek baie emosioneel was. Ek het in 'n stadium op aanbeveling van my dokter medisyne begin gebruik. En die skryf van daardie deel waarin die begrafnisse en so aan figureer, het beslis posttraumatiese stres teruggebring; iets waaraan ek ses jaar gely het."
Roos-Muller beklemtoon haar boek is nié die storie oor die Gugulethu-sewe nie; dit is die storie oor hul sluipmoordenaars.

"Ek is nie by magte om oor die sewe se kort en ongelukkige lewens te skryf nie. Hierdie storie gaan oor die wít sluipmoordenaars en die wít toesmeerdery van wat werklik gebeur het.
"Dit is vir my 'n Suid-Afrikaanse Watergate-skandaal, maar met erger gevolge vir die verslaggewers. Met die Watergate-skandaal kon die joernaliste Nixon tot 'n val bring, terwyl Chris Bateman en Tony Weaver [van die Cape Times] aangekla is en vyf tot tien jaar tronkstraf kon gekry het.
"So, as enigiemand enige twyfel het oor die belang van die media, die ernstige media in Suid-Afrika, is dít 'n goeie voorbeeld van hoe 'n storie amper nie aan die lig gekom het nie, maar toe wél het - te danke aan Chris en Tony."
‘Wat Tutu gesê het'
Die onderhoud met Roos-Muller vind plaas in 'n sitkamer van die Mount Nelson Hotel waar ons mettertyd die strelende klanke kan hoor van die man in die portaal se klavierspel.
"As jong aktivis is ek baie beïnvloed deur wat aartsbiskop Desmond Tutu gesê het: As ons nie mekaar se stóries verstaan nie, sal ons mekaar nooit verstaan nie.
"Om die storie van die Gugulethu-sewe te vertel was 'n kragtige, skrikwekkende en traumatiese ervaring. Neem byvoorbeeld my beskrywings van waar ons in die townships was . . . die gewere, die begrafnisse . . .
"Ek het 'n dogtertjie by die huis gehad, Nandi. En ek het soms nie geweet of ek haar weer gaan sien nie."
Sy bly vir 'n oomblik stil.
"Ek het 'n ryk lewe gehad waarin ek dinge gedoen het wat die meeste ander mense nié gedoen het nie.
"Ek was teenwoordig tydens die onmiddellike nadraai van hierdie verhaal. Ek het die families in rou en skok gesien. Toe ek die Mjobo-familie [Zandisile ‘Sammi' Mjobo was een van die Gugulethu-sewe] in die Paarl ontmoet het, het ek opgemerk hoe verskriklik onwel John, die pa, gelyk het.
"Wat ons op daardie tydstip nie besef het nie, is dat hy baie erg gemartel is - onder meer deur elektriese skokke aan sy genitalieë. Hy is kort daarna dood.
"Maar ál die families is gebrutaliseer. En ek het dit gesien. Ek het daardie hartseer gesien. Dít is vir my in 'n groot mate die verhaal van sewe ma's wat jong seuns - ses van hulle was in hul 20's en een was 32 - gehad het wat op 'n dag wreedaardig om die lewe gebring is.
"Hulle het toe lykshuis toe gegaan en hul liggame daar aangetref . . . Hulle was naak en vuil en vol skietwonde. Die liggame is nie gewas of voorberei vir die besigtigings nie. Sammi se gesig was heeltemal uitmekaar geskiet."

'n Geregtelike doodsondersoek het later daardie jaar [1986] gevolg en 'n tweede een in 1989.
‘Moeders in rou'
Ondanks al die getuienis tot die teendeel is bevind die polisie is onskuldig, sê Roos-Muller. Joernaliste is klaarblyklik met groter geesdrif vervolg.
"In 1987 was daar die verhoor van Tony [Weaver]. Hy is daarvan aangekla dat hy die Polisiewet oortree het deur onder meer ‘onwettig vals inligting te publiseer' oor die dood van die mans in Gugulethu."
Bateman is ook aanvanklik aangekla, maar die klagte teen hom is later teruggetrek.
"In Tony se verhoor het dit volkome duidelik geword dat die polisie inderdaad hierdie mans tereggestel en wapens op hulle geplant het.
"Ná dié saak en die geregtelike doodsondersoeke het daar tien jaar niks gebeur nie. Die ma's sit grotendeels in Gugulethu en rou. Hulle weet hul seuns is vermoor, maar niemand wil na hulle luister nie. En boonop is hulle afgesny van hul eie gemeenskappe, want niemand wou naby wees aan enigiemand wat moeilikheid met die polisie gehad het nie.
"Cynthia Ngewu en Eunice Miya en die ander het 'n groepie gevorm . . . Hul kerke het hulle wel ondersteun, maar hulle was 'n groepie moeders in rou aan wie niemand wou aandag skenk of na luister nie. Hulle het in armoede voortgesukkel en die kinders van hul seuns wat doodgeskiet is alleen grootgemaak. Cynthia, Christopher Piet se ma, sê sy is steeds bitter oor die feit dat hulle nooit enige vergoeding ontvang het nie.

"Toe breek die WVK aan en ek het van die sittings bygewoon. Tian van der Merwe [die PFP-LP] wat 'n baie belangrike ondersteunende rol gespeel het, was toe al dood, maar Tony en Chris [Bateman wat kort ná die slagting met ooggetuies gepraat het en vir die Cape Times daaroor geskryf het] het dit ook bygewoon.
"Ons wou hoor met watter nuwe feëverhaal die polisie vorendag gaan kom, watter magiese denke. Hulle het in daardie vertrek ingemarsjeer met hul duur regspan waarvoor die belastingbetaler betaal het, en hulle het geglo hulle is die meesters van hul heelal.
"Daardie maj. Dolf Odendaal was veral erg . . . Hy het net daar gestaan en vir die hof geblaf. En die ma's moes daar langs hulle sit, aan die ander kant van die gang, wel wetende dat hulle hul seuns doodgemaak het.
"Hulle was tróts op wat hulle gedoen het - selfs daar by die WVK. Ek dink die meeste van hulle is bevorder en het medaljes ontvang. Hulle is aangeprys en met spesiale etes vereer. Hulle het gedink hulle het die wêreld 'n guns bewys.
"Maar toe was daar natuurlik die onthulling dat 'n motor van Vlakplaas op die toneel van die skietery in Gugulethu opgemerk is.
"Dit is die één fout wat sers. Riaan Bellingan van Vlakplaas gemaak het - hy het sy motor na die toneel geneem. Die ondersoekers van die WVK was slim genoeg om die nommerplaat na te gaan en dit na Vlakplaas te herlei. Toe het dit vir die eerste keer aan die lig gekom dat 'n eenheid van Vlakplaas af gekom het om hierdie koelbloedige moorde te kom pleeg.
"Ek het later ook van die amnestieverhore bygewoon, want ek wou sien wat daar uitkom. Min mense het dit bygewoon omdat die land teen daardie tyd aanbeweeg het. Deur die getuienis te fynkam wat daar gelewer is, het ek vir die eerste keer die leuens begin raaksien. Jy kon sien Bellingan-hulle was met hul rug teen die muur."
Die videospan
Die polisie se videospan het tien minute ná die skietery in Gugulethu met verfilming begin, sê Roos-Muller.

"Hulle was in Wingfield gestasioneer en dit sou nie vir hulle moontlik gewees het om binne tien minute van daar af tot in Gugulethu te kom nie.
"Die polisie het seker gemaak almal is dood, insluitend dié wat daar doer in die bosse gelê het, en toe vir die videospan gesê: ‘Nou kan julle begin verfilm.' Hulle moes daar iewers buite sig gewees het."
Tydens Bellingan se getuienis het sy begin wonder oor die belang van die videospan.
"Wat was die doel daarvan? Waarom was hulle daar? Dit was op daardie punt dat ek uitgevind het . . . vir die eerste keer, niemand was hiervan bewus nie: dit was die eerste keer dat 'n eenheid van Vlakplaas na die Kaap toe gestuur is. Waarom? Dít is die vraag wat niemand ooit gevra het nie."
Volgens Roos-Muller is die sewe mans in 'n kort en gewelddadige magsvertoon "gejag en doodgemaak vir hul liggame".
Sy skryf: "Their corpses were then filmed as props and the footage was included in a video designed for the government's securocrats, to prop up and ram home the efficiency of the police in dealing with ‘terrorism'. The aim of this cynical, murderous exercise was to increase their ever-burgeoning slush fund for the death farm, as well as all those who fed off it."
Sy voeg by: "Ja, wat het PW Botha gedoen? Hulle het klómp geld gekry. Praat van korrupsie! Daar is wit mense in hierdie land wat glo die vorige spul was nie korrup nie . . . Vlakplaas was een van die mees korrupte organisasies. En ek praat van reusagtige bedrae geld waaruit die kabinet en generaals voordeel getrek het."
‘Dalk nog duisende stories'
Waarom het die boek nou eers verskyn?

"Ek was besig met ander dinge - akademiese werk en projekte en boeke saam met my man, Ampie Muller. Ek was so lief vir hom . . . Ons het gereis en hy het oorsee klasgegee. En toe sterf hy. Ons het ook saamgewerk aan die boek oor Van Wyk Louw [Vuur in sy vingers], wat toe ná Ampie se dood verskyn het.
"Daarna het ek Bullet in the Heart geskryf, wat die storie is van die Mullers in die oorlog; die onvertelde storie van die Boereoorlog uit die Boere se perspektief. Die geskiedenis word gewoonlik uit die Engelse se perspektief geskryf en baie daarvan is onsin, 'n vals narratief.
"Toe ek daarmee klaar was, het ek deur my reuse-argiewe begin werk . . ."
En mettertyd het die verhaal van wat op daardie oggend in 1986 in Gugulethu gebeur het en wat daarop gevolg het, gestalte begin kry.
"Ek wonder hoeveel meer sulke stories daar is? Dalk duisende. Ek hoop nóg van dié stories sal geskryf word voordat dit te laat is, want eendag gaan ons wat van dinge weet, nie meer hier wees nie. Ek is bang dat die stories verlore sal gaan. Daarom is ek ook so bly dat Dumisa Ntsebeza [advokaat en aktivis] nou weer na van die WVK-sake, soos dié van die Cradock-vier, begin kyk. Die familielede van die Gugulethu-sewe wil ook hê hul sterftes moet weer ondersoek word, want die bevindinge van die twee geregtelike ondersoeke is steeds geldig, en daarvolgens is daardie polisiemanne steeds onskuldig," sê Roos-Muller.























