Dit is nie normaal of veilig dat 'n leier soos Donald Trump soveel mag - insluitend kernwapens - het nie, sê die geskiedkundige Moshik Temkin aan Murray La Vita.
"2024 was 'n baie moeilike jaar vir dié van ons wat omgee oor die stand van die wêreld, die mensdom en leierskap. Ons bevind ons in 'n baie vreemde tyd in dié sin dat ons enersyds in 'n era van enorme tegnologiese en wetenskaplike vordering en vooruitgang is, en andersyds sien ons die lot van so baie mense blyk erger te word en nie beter nie," sê prof. Moshik Temkin.
Die onderhoud met Temkin vind plaas teen die agtergrond van sy boek Warriors, Rebels & Saints: The Art of Leadership from Machiavelli to Malcolm X, wat onlangs verskyn het. Temkin is 'n akademikus en geskiedkundige wat aan instellings soos die Harvard-Universiteit en die Tsinghua-Universiteit in Beijing klasgee. Hy bevind hom gedurende die aanlyn onderhoud in Parys.

"Omdat ek baie reis en op verskillende plekke klasgee, sien ek hoe hierdie vordering ook gepaard gaan met vervreemding. Baie mense beleef die vordering as ontoeganklik of hulle is selfs vyandiggesind daarteen omdat dit hulle met vrees vervul.
"En ek dink dít is te danke aan 'n mislukking van leierskap. Ons sit met wêreldleiers wat nie daarin slaag om die konneksie te maak tussen tegnologiese en wetenskaplike vooruitgang, en die vooruitgang van die mensdom as 'n geheel nie. Pleks daarvan word dit gebruik om te beheer, om wins te maak, om uit te buit. Dít lei tot woede, tot rampspoed, tot verdeeldheid, tot polarisering, tot wrokkigheid, en tot geweld.
"En natuurlik gaan tegnologiese vordering dikwels gepaard met militêre en gewapende geweld. Bomaanvalle op burgerlikes word byvoorbeeld met verloop van tyd meer gesofistikeerd en dodelik.
"Ek as 'n geskiedkundige en baie ander mense het 'n paar jaar gelede gedink ons is besig om na 'n era te beweeg waarin daar nie oorloë is nie; 'n tyd van vrede en van kollektiewe vordering waarin ons saam vorentoe beweeg.
"Maar in baie opsigte voel dit nou of ons besig is om agteruit te beweeg: meer ongelykheid tussen lande en tussen mense onderling binne lande; meer verdeeldheid en meer polarisering.
"Al hierdie dinge dui vir my op 'n mislukking van leierskap. Wêreldleiers het die verantwoordelikheid om seker te maak dat mense onder hulle béter lewens lei en nie slégter nie."
Thatcher en Mandela
Leiers wat 'n transformasie teweeg gebring het, is mense soos Margaret Thatcher, sê Temkin.

"Ook Nelson Mandela. Enersyds is daar die merkwaardige veerkragtigheid en ander eienskappe waaroor hy beskik het, maar andersyds speel die tydsberekening en wêreldgebeure ook 'n rol. Mandela was by daardie kruispunt toe die wêreld van 'n koloniale era na 'n postkoloniale era beweeg het met Suid-Afrika wat oorgebly het as een van die bastions van harde koloniale oorheersing.
"Voeg daarby die rol wat die Koue Oorlog gespeel het. Dít het tot gevolg gehad dat Mandela, toe hy in die tronk was en selfs ná sy vrylating en die einde van apartheid, steeds op 'n lys van terroriste was van lande soos Amerika, Brittanje en Frankryk."
Dit is moeilik om te sien watter hedendaagse leiers die potensiaal het om ons vorentoe te neem, maar daar ís wel sulke leiers.
"Ek dink die pous is 'n ander soort leier as baie van sy voorgangers, nie net in sy woorde nie, maar ook in sy vermoë om empatie te betoon en 'n gedeelde menslikheid uit te straal; dit lyk trouens soms of hy meer gewild is onder mense wat nie Katolieke is nie as onder Katolieke. Dít is omdat hy die posisie van 'n leier van die kerk kan transendeer en 'n figuur kan wees wat mense boei en inspireer deur sy woorde en sy voorbeeld en sy wysheid.

"Dan is daar iemand soos Greta Thunberg. Sy het al as kínd oor klimaatsverandering gepraat, wat eintlik in 'n sin die heel belangrikste onderwerp denkbaar is. Ek het net gedink dit is ongelooflik en baie ontstellend dat 'n kínd die gesig van klimaatsveranderingsprotes word. Dit hoort in die hande van wêreldleiers, nié in die hande van 'n magtelose tiener nie. Sy het sélf so gesê.
"Dít was 'n voorbeeld van hoe wêreldleiers en volwassenes hul verantwoordelikheid vir iets so belangriks afskuif op 'n kínd wat magteloos is, en dan word dit simboliese politiek.
"Noudat sy 'n volwassene is, bring sy klimaatsverandering in verband met ander kwessies soos kapitalisme en die Midde-Ooste, wat haar heelwat gramskap op die hals haal. Wat 'n mens ook al van haar politiek mag dink, haar leierskap is ook die soort leierskap wat 'n transformatiewe potensiaal het."
‘ 'n Gewelddadige spesie'
In die hoofstuk "Leadership in the Machine of Death" vra Temkin: "What if leaders have power - but it is so much power that they are essentially unable to control it? What if the power they possess is too much power - not merely over people under them but over everything?"
Ek pols hom hieroor.

"Ons leef in 'n wêreld vol kernwapens waarin ons almal binne 'n oogwink uitgewis kan word. Dit herinner ons daaraan hoe gewelddadig ons as 'n spesie is. Die spesifieke kwessie is dat daar soveel militêre mag is in die hande van een leier, hetsy Donald Trump of enige ander leier - die persoon kan so onstabiel en kinderagtig soos Trump wees of so volwasse en verantwoordelik soos Kamala Harris. Dit is te veel mag vir een mens om te hê, maak nie saak wie hulle is nie. Ook vir enige land, hetsy Amerika of lande soos Rusland.
"Wat beteken dit dat 'n leier soveel mag het? Dit is nie normaal of veilig nie. Dis eintlik nogal ontstellend as jy daaraan begin dink.
"Ons sien hoe agtereenvolgende leiers in daardie posisie beland en heeltemal daardeur oorgeneem en beheer word. Ek skryf in een hoofstuk oor pres. Lyndon Johnson en die Viëtnamoorlog - dit is nog 'n voorbeeld daarvan. Hy was 'n leier wat so opgevang is in die logika van oorlogvoering en van wêreldoorheersing dat hy toegelaat het dat dit sy politieke agenda en later ook vir hom as mens verwoes.
"So, leierskap is dikwels nie die storie van wat leiers doen nie, maar wat met hulle gebeur weens omstandighede buite hulself."
‘ 'n Simptoom'
Ons praat oor die leierskap van Donald Trump.
"Wanneer ek na hom kyk, sien ek hoofsaaklik 'n simptoom. Ek vind Trump as individu nie baie interessant nie of selfs as 'n leier beduidend nie. Hy is 'n werklik ontstellende simptoom van 'n politieke stelsel en kultuur wat in die war geraak het en skeefgeloop het. En vir 'n land wat so groot en so ontwikkeld en belangrik en ryk as Amerika is om Donald Trump twee keer as president te verkies, behoort ernstige vrae te laat ontstaan oor hoe ons by hierdie punt gekom het.
"Hoe kan dit wees dat dit die persoon is vir wie die Amerikaanse publiek sal stem of oorweeg om te stem as 'n kandidaat?
"Een van die antwoorde is dat die politieke stelsel die mense in die steek gelaat het. As jy kandidate voorstel wat so onaantreklik soos Donald Trump is, of wie ook al teen hom te staan gekom het, kom dit neer op 'n kollektiewe mislukking van die politieke klas om met leierskap vorendag te kom wat die Amerikaanse mense werklik inspireer of hélp.
"Daardie mense is hééltemal deur hul leiers in die steek gelaat en daar is verskeie redes daarvoor. Amerika is 'n ryk land wat géén werklike geopolitieke probleem het nie, want daar is géén bedreiging van hul bure nie; dit is in 'n baie stabiele en vreedsame streek - heel anders as lande soos Indië of China. Amerika het wêreldwye militêre invloed en mag. Sy ekonomiese en geopolitieke probleme is volkome tuisgemaak en die produk van sy eie toedoen en die gevolg van die beleidsbesluite van sy leiers wat nie voordelig of in die openbare belang is nie.
"Hulle hét leiers gehad wat baie aan die openbare belang gedink het, byvoorbeeld Franklin Roosevelt, oor wie ek skryf. Hy was geweldig gewild en suksesvol omdat hy deurgaans begaan was oor wat in belang van die mense was en hulle daarvan oortuig het. So, dit ís moontlik.
"Ek dink nie aan Donald Trump ten opsigte van wat hy gaan doen of wat hy gedoen het nie, maar eerder ten opsigte van wáárom hy eens daar is. Waarom is hy nou al agt of nege jaar lank 'n belangrike figuur? Wat het skeefgeloop? Wat is die diep, strukturele kwessies in die samelewing wat ons by hierdie punt gebring het?"
'n Mens moet na die wortel van die probleme kyk as jy hulle wil oplos.
"Wanneer jy 'n samelewing het wat enersyds so ontsaglik ryk is, maar waar daar súlke hoë vlakke van ongelykheid en geweld is, insluitend vuurwapengeweld, en 'n gebrek aan belegging in die openbaregesondheidstelsel en die openbareonderwysstelsel, en in infrastruktuur . . . is dit dan 'n verrassing dat daardie samelewing perverse besluite neem?"
‘Besorg oor Amerika'
Die res van die wêreld kan met reg besorg wees oor wat in Amerika gebeur omdat die gebeure daar 'n invloed op die hele wêreld het.

"Donald Trump as president het 'n impak op die lewe van Amerikaners, en waarskynlik selfs 'n nog groter impak op mense buite Amerika. Dit sê vir ons iets oor die hoeveelheid globale mag wat Amerika steeds het.
"Terloops, die buitelandse hulp, veral militêre hulp, wat Amerika aan lande soos Israel, Egipte of Oekraïne verleen as deel van sy globale militêre strategie, geskied terwyl baie Amerikaners nie kan bekostig om dokter toe te gaan nie of om 'n huis te koop nie. Dít is wat vir die meeste mense belangrik is in hul daaglikse lewe en dit sal beïnvloed vir wie hulle stem. Hulle gaan dus nie vir hoë ideale oor demokrasie en internasionalisme stem nie, maar vir wie hulle dink die beste na hulle en hul families gaan omsien.
"So, ek dink aan Donald Trump as 'n verskynsel wat ons iets moet leer oor die stand van die wêreld en van Amerika vandag. Ek beskou die vrese rondom sy presidentskap 'n bietjie oordrewe, want hy was reeds vier jaar lank president en wat hy hoofsaaklik in daardie tyd gedoen het, was om die politieke kultuur af te takel, maar Amerika het nie werklik in daardie tyd verander nie en dit het ook nie sedertdien veel verander nie.
"Die strukture is dieselfde - die rykes is steeds ryk en die armes is steeds arm; die militêre begroting groei elke jaar onafhanklik van wie president is; die beleid oor die Midde-Ooste is soortgelyk; ekonomiese beleid is soortgelyk. Die verskille tussen Republikeine en Demokrate oor groot kwessies is eintlik baie klein.
"Baie mense gaan nie hou van wat ek sê nie, maar dit is so dat Amerika gedurende Trump se [eerste] presidentskap nie by enige groot oorlog betrokke geraak het nie. Dit was nie 'n vreedsame of aangename tyd nie - baie mense was bang hy gaan atoombomme laat ontplof en hy het nie dit gedoen nie, miskien sal hy dit doen as hy weer president word; ek weet nie.
"Maar die les vir my is: Moenie so baie op die individu fokus nie; fokus op die samelewing en die soort leierskap wat dit voortbring. En fokus op die behoeftes van die publiek en op watter soort leiers hulle gaan volg wanneer hulle dinge eis en vra wat die politieke klas nie aan hulle voorsien nie."
‘Groot leermeesters'
Die beste leiers is volgens Temkin nie net "krygers, rebelle of heiliges" nie, hulle is gewoonlik groot leermeesters.

"Ek het dít geskryf met veral Martin Luther King Jr. en Malcolm X in gedagte. Buiten vir die feit dat hulle albei baie dapper en beginselvaste politieke aktiviste was in die Afro-Amerikaanse stryd om gelykheid en bevryding, en in die burgerregte-beweging, het hulle baie van hul tyd daaraan bestee om mense te onderrig. Hulle sou met mense praat en hulle oor hul geskiedenis leer en wie hulle is en waar hulle vandaan kom en wáárom die saak en die stryd belangrik is.
"Dan sou hulle byvoorbeeld ook in televisieonderhoude basiese dinge aan bang wit mense verduidelik, soos waarom mense soos hulle protesoptogte hou en in die tronk gegooi word - die storie daaragter.
"So, ek dink die ware leiers is hulle wat 'n impak maak deur ook te verduidelik en te onderrig. Dit is nie net retoriek en woorde en charisma nie - dít is ook belangrik - maar om met mense 'n boeiende en insiggewende geskiedenis te deel, is wat verál belangrik is. Dít is wat mense kan inspireer en tot aksie laat oorgaan."
‘Probleem is afgeskeep'
Temkin meen die groot wêreldleiers het lankal heeltemal daarin misluk om die probleme aan die kern van die Midde-Oosterse konflik op te los. Hulle het nie hul verantwoordelikheid nagekom nie.
"Dit moes lánkal opgelos gewees het - daar ís oplossings, maar hulle het nou soort van vervaag omdat ons so ver verby die rooi lyne beweeg het dat dit amper hopeloos voel. Daar was vir so lank oplossings, maar die probleem is afgeskeep weens korttermynbelange wat as belangriker geag is en leiers wat gedink het hulle kan die probleme vermy deur geld of besigheid of olie of veiligheidsmaatreëls of wat ook al, en dat spesifiek die - vir hulle lastige - Palestynse kwessie net sal verdwyn.
"Maar daar is sommige mense wat dit nooit laat verdwyn het nie en Nelson Mandela is een van hulle. Hy het die konneksies tussen kwessies en probleme verstaan omdat hulle gedeelde geskiedenisse gehad het. En hulle was sonder mag. Hy het ook die beginsel verstaan wat King ook so goed verwoord het, naamlik as daar op enige plek ongeregtigheid is, is daar óral ongeregtigheid.
"Selfs vandag nog is dit die Suid-Afrikaanse regsmense wat internasionale instellings probeer gebruik om 'n einde te maak aan wat in Gasa aangaan.
"Dít spruit uit die nalatenskap van Suid-Afrika se geskiedenis en die begrip dat Suid-Afrika 'n konneksie het met 'n wêreldgeskiedenis en dat daar 'n sekere nalatenskap en verantwoordelikheid is wat daarmee saamgaan."
‘Gemeenskapsdiens'
Warriors, Rebels & Saints is sy weergawe van 'n vorm van gemeenskapsdiens, sê Temkin.
"Mense hoef dit nie te lees omdat hulle wil leer hoe om leiers te word nie. Hulle kan dit lees ten einde miskien te probeer verstaan watter soort leiers hulle wil hê of voor vra.
"Ek sal bly wees as hulle dit lees en sê: ‘Ek dink ek herken in hierdie geskiedenisse probleme wat vandag bestaan en ek kan, al is ek nie self 'n leier nie, na vore tree en dan ten minste ander mense wat ek as leiers beskou, ondersteun sodat ons die wêreld 'n beter plek kan maak.'
"Ek hoop hierdie boek sal mense aanspoor om uit hulself uit te beweeg. Ons leef in 'n baie individualistiese wêreld en ek hoop ons sal meer kollektief kan dink. Ons wil goed vaar, ons wil doen wat ons gelukkig maak, ons wil 'n bestaan maak. Ek is net bekommerd dat mense nie genoeg doen om hierdie dinge te balanseer met kollektiewe denke oor die stand van die wêreld en die stand van leierskap nie.
"Ek wil hê mense moet as individue floreer, want individue is uniek en spesiaal, maar die geskiedenis van leierskap leer ons dat werklike groot leiers diegene is wat kollektief oor probleme kan dink en nie net individueel nie."





















