Profiele

kykNET-veteraan: ‘Ons het met nul kykers begin’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Marida Swanepoel tydens ’n onderhoud in Durbanville. Foto: Jaco Marais
Marida Swanepoel tydens ’n onderhoud in Durbanville. Foto: Jaco Marais

Marida Swanepoel, een van die grondleggers van kykNET, vertel aan Murray La Vita hoe dié kanaal 25 jaar gelede met "nul kykers" begin het en gegroei het tot die reus wat dit vandag is.

Die onderhoud met Marida Swanepoel vind plaas in die huis van haar suster Leonora van Staden, wat ses maande gelede oorlede is en waar Swanepoel nou woon.

Benewens die feit dat dit haar huis was, is Van Staden op 'n manier ook hier aanwesig omdat sy een van twee mense is wat in 'n wedstryd vorendag gekom het met die naam kykNET.

Swanepoel is 'n elegante en aantreklike vrou met meestersgrade in sowel Afrikaans as linguistiek. Dit is welbekend welke groot rol sy in die Afrikaanse uitsaaiwese en later televisiewêreld gespeel het, en in 'n mate steeds speel. Tekens van haar afgeronde en gekultiveerde lewe is aanwesig in die vertrekke van die huis in Durbanville waar ons haar op 'n Maandagoggend besoek: lieflike kunswerke van onder andere Henry Moore, Ferrie Binge en Hugo Naudé.

Hoewel daar iets elegies aan die oggend is - Swanepoel het al besonder baie geliefdes en vriende aan die dood afgestaan, en sekere kosbare dele van haar leefwêreld het ook gekom en gegaan - is dit haar lewenslustigheid, intellek en heerlike sin vir humor wat die botoon voer.

Die onderhoud begin by die totstandkoming van kykNET op 15 November 1999. Swanepoel het as inhoudvervaardiger en programontwikkelaar gewerk en gehelp om die kanaal se visie vir Afrikaanse vermaak te vorm.

"Dis maar 'n proses wat groei; as jy dan terugkyk en jy dink hoe jy begin het eintlik met níks nie . . . Ons het uiteindelik die nuus [eNuus] gekry in 2010 op Mandela se verjaardag, en tóé is dit nou 'n volwaardige kanaal. Die oomblik as jy nuus ook by die drama en al die ander goed voeg, dan parkeer die kyker létterlik daar, want nou het hy alles wat hy wil hê.

"Dis 'n baie bevredigende ding as jy dan, van waar ek gesit het . . . Ons het begin met nul kykers." Sy lag. "Het jy 'n idee hoe voel dit om met nul kykers te begin? En jy het nie baie bronne nie en jy het nie baie geld nie en jy het létterlik nul kykers.

"En om dan te sien dit groei en groei totdat kykNET hierso by 2014 die nommereen-kanaal op DStv was. En tot waar hulle nou 25 jaar oud is. Dit is 'n wonderlike mylpaal; ek wil baie geluk sê aan Waldimar [Pelser, M-Net-kanaaldirekteur van Premium-kanale] en sy span."

‘ 'n Baie sterk gevoel'

kykNET is iets waarin sy geglo het en steeds glo.

"Ek dink dis vandat ek ‘White Christmas' gesien het dat ek oorsee wou gaan." Foto: Jaco Marais
"Ek dink dis vandat ek ‘White Christmas' gesien het dat ek oorsee wou gaan." Foto: Jaco Marais

"Ja, en ek het natuurlik 'n baie sterk gevoel oor Afrikaans gehad. Ek kom immers uit die Afrikaanse radio, en ek het by oorklanking gewerk en daar was 'n stadium aan die begin wat ons nét Afrikaans oorgeklank het, en TV2 en TV3 het van die swart tale oorgeklank en êrens in die tagtigerjare het ons saamgesmelt in een afdeling.

"Ek het ook járe in die SAUK se taalkomitee gesit. In die kykNET-jare was ons net realisties daaroor, oor wat jy kan doen met Afrikaans en hoe jy dit lángs die ander tale moet doen.

"Dit is baie bevredigend, en daar is mos baie goed wat daarmee saamval: die wonderlike Afrikaanse boeke wat daar verskyn het. Dan was daar die wonderlike musiek - dit was nog in my SAUK-jare - met Anton Goosen-hulle en mense soos Merwede van der Merwe. Dit is al daardie mense wat so 'n groot voetspoor toe begin . . . en Koos du Plessis; hulle was almal in ons vriendekring.

"Die klank was skielik anders; die wóórde was anders. Ja, daar was baie goed; Afrikaans het ópgegroei met die tyd en breër gedink en goed gedoen.

"Een van ons eerste programme op kykNET was Boeksusters met Madeleine van Biljon en Cecile Cilliers wat oor boeke gepraat het. En al die mense, ook Karel Schoeman . . . Madeleine het hom genader om aan hul program te kom deelneem; hy was toe in Frankryk."

‘ 'n A-klas-voertuig'

In daardie stadium het hy "15 of 20 jaar laas" 'n onderhoud aan enigiemand toegestaan.

"Hy sê toe goed hy sal dit doen, maar net hierdie één keer. En toe het ek nou met hom begin onderhandel . . . móéilik. Hy sê toe hy kom terug uit Frankryk vir dié onderhoud, en hy wil net sê as hy in Johannesburg land, moet hy met 'n A-klas-voertuig opgelaai word en hy wil in 'n vyfsterhotel bly in Sandton.

"Ek vra hom toe wie wil hy hê moet die onderhoud doen? Hy het lank stilgebly en toe gesê: ‘Daar is 'n mannetjie wat daar by Wits werk, Gerrit Olivier, ek sal met hóm praat.'

"Ons was heeltyd in verbinding; hy het ook gesê hy gaan 'n groen trui dra en onder 'n boom sit vir die onderhoud. So 'n week voor die tyd toe bel hy my en sê hy het besluit hy kom terug Suid-Afrika toe en hy is nou op Philippolis. Hy sê: ‘Ek bestuur nie motor nie; dit beteken julle sal my met 'n taxi Bloemfontein toe vat en van daar af Johannesburg toe vlieg.' " Sy lag. "Die ander goed tel toe nog steeds: vyfsterhotel en groen trui onder die boom.

"Gerrit het toe die onderhoud opgeneem en dit was natuurlik vir ons 'n scoop gewees. Maar toe die volgende jaar kom Madeleine na my toe en sê Karel Schoeman is nou bereid om nog 'n onderhoud te doen en hy sê toe hy sal dit met haar doen, maar Cecile mag nie by wees nie."

Breyten Breytenbach

Die lewe was interessant.

"Die klank was skielik anders; die wóórde was anders." Foto: Jaco Marais
"Die klank was skielik anders; die wóórde was anders." Foto: Jaco Marais

"Selfs daardie goed wat soms ingewikkeld was. Een van die eerste mense met wie ek per e-pos gepraat het, wat hy op daai punt al vonkpos genoem het, is Breyten Breytenbach.

"Breyten was toe in Spanje en Cloete, sy broer . . . toe ons nou voorstelle vra, toe het Cloete so twee of drie voorstelle ingedien. Een van die voorstelle was Breyten in gesprek met 13 mense; die reekse het gewoonlik uit 13 episodes bestaan. En Cloete, wat die wêreldberoemde fotograaf was, het die kamerawerk gedoen.

"Op daai punt het ek met Breyten begin korrespondeer en vir hom gesê ons gaan nou 'n kanaal begin en ons sou hom graag wou gebruik. Hy het onmíddellik ja gesê. Hulle het toe meer as een reeks vir ons gedoen. Daardie eerste reeks was interessant in die sin dat hy natuurlik met mense soos André Brink gepraat het en van ons ander voorste digters en skrywers, maar ook iemand soos Valiant Swart as 'n digter ingesluit het.

"Baie keer as ek aan sulke goed dink, dan wonder ek: Het iemand dit bewaar? Noudat dit gedigitaliseer word, is dit baie makliker om dit te bewaar, maar in daardie jare was dit bande - ons het in U-matic nog begin uitsaai by kykNET en toe oorgeskuif na tweeduim- en eenduim-bande, so die formate het baie verander. En dit moes iewers gestoor word."

Wou oorsee gaan

Swanepoel is in die Paarl gebore en het ook daar begin skoolgaan.

"Maar toe het ons Bellville toe getrek en ek het matriek gemaak in D.F. Malan. En toe is ek Stellenbosch toe. En van Stellenbosch af . . . My ouer suster het in daardie stadium 'n jaar in Michigan gaan studeer en ek wou ook oorsee gaan. Ek dink dis vandat ek White Christmas gesien het dat ek oorsee wou gaan. My pa het so verlang na my ouer suster - ons familie was baie vas aan mekaar - dat toe ek nou sê ek wil diplomatieke diens toe gaan, toe sê hy nee.

"En toe doen ek aansoek by die SAUK. Ek het die toets in die Kaap gedoen, maar toe word ek in Johannesburg aangestel. Ek het toe by die Afrikaanse radio begin werk; ek het uitgesaai daar en ek het my man, Nic, daar ontmoet.

"En ná twee jaar moes ek ophou by die Afrikaanse diens, want 'n man en vrou mag nie daai tyd saamgewerk het nie. Toe het ek by die huis gebly en my drie kinders gehad - baie na aan mekaar - want ek wou graag weer werk.

"Toe televisie begin, het ek by oorklanking begin vertaal, vryskut in die oggende tot Franci in standerd ses was; toe is hulle almal in die hoërskool. En toe het ek permanent by oorklanking begin werk. Ek het 13 jaar daar gewerk onder June Seymour . . . 'n fenomenale mens en 'n boesemvriendin van my. Ons was vriende tot haar dood nou so twee, drie jaar gelede. Ek het baie by haar geleer."

Eerste infrastruktuur

Die SAUK was vir haar "fantasties".

"Maar dit het my soos 'n handskoen gepas en dit het regtig vir my 'n tweede lewe gegee." Foto: Jaco Marais
"Maar dit het my soos 'n handskoen gepas en dit het regtig vir my 'n tweede lewe gegee." Foto: Jaco Marais

"My eerste infrastruktuur het bestaan uit mense soos Daniël Kirstein, wat ook 'n hartsvriend was; Jan Schutte, Pieter du Bruyn, Gerhard Viviers . . . Dít is die mense wat ek in daardie jare geken het en wat in ons vriendekring was . . . Riaan Cruywagen, Cobus Robinson, Roelf Jacobs, Stephan Bouwer. Die meeste van hulle was tussen 20 en 30 jaar ouer as ek, maar dit het geen verskil gemaak nie.

"Afgesien van die feit dat ek baie by hulle geleer het, was die gesprekke wonderlik interessant; hulle was ingeligte mense. Dan Kirstein het álles van musiek geweet, álle soorte musiek, en van boeke. Ek en Nic het baie . . . ons het daardie belangstellings gedeel: bóéke en digbundels. Hy het mos so dwarsdeur die nag voorgedra, met 'n glas wyn in sy hand en 'n sigaret. Hy het hierdie geheue gehad; hy het net al daardie woorde, dit maak nie saak hoeveel verse daar was nie, hy het alles onthou. Dit was vir hom lekker.

"Roelf Jacobs is eerste dood van daardie groep. En toe Dan Kirstein. En toe Nic en Gerhard kort ná mekaar. En toe Jan Schutte. En toe Stefan. En toe Cobus. Verna Vels en Monica Breed was ook baie goeie vriende en was ook deel van daardie vriendekring. So, toe is Verna dood . . . Jy weet, so geleidelik is daardie groep mense almal oorlede."

Vroeë dae

Swanepoel vertel oor haar vroeë dae by die Afrikaanse satellietkanaal, die breinkind van Koos Bekker wat kykNET sou word en wat mettertyd geliefde en kosbare dramareekse soos Song vir Katryn, Amalia en Plek van die Vleiseters sou oplewer, en waaruit die Fiëstas en die Silwerskermfees sou groei.

"Die eerste skedules wat Jan du Plessis en Elise Malherbe en ek nou uitgewerk het . . . Ons sou van ses- tot tien- of elfuur uitgesaai het. Oor die eerste skedule was Koos Bekker nie baie gelukkig nie. ‘Julle is nie in die SAUK nie - dis satelliét; vir satelliet herháál jy, want mense skuif van die een kanaal na 'n ander een. As hulle vanaand se uitsending mis, wil hulle môre die program kyk.'

"Toe moet ons nou hééltemal anders dink oor die saak . . . Ons het die skedule uiteindelik gevul en op die 15de November begin in 1999."

Swanepoel sou aanvanklik net tydelik by kykNET gewerk het, maar is gevra om aan te bly.

"Jy weet, so geleidelik is daardie groep mense almal oorlede." Foto: Jaco Marais
"Jy weet, so geleidelik is daardie groep mense almal oorlede." Foto: Jaco Marais

"Ek was van plan om Kaap toe te trek, maar dit was nie vir my so moeilik om my planne te verander nie en ek het by M-Net [die moedermaatskappy aan wie kykNET behoort] begin werk.

"Dít was nou my tweede lewe, want toe ek daar kom, toe is ek nou . . . Kyk, hulle het geglo in jong mense aanstel en baie van hulle was jonger as ek. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek dít beleef het, want in my eerste infrastruktuur was dit andersom.

"Maar dit het my soos 'n handskoen gepas en dit het regtig vir my 'n tweede lewe gegee - werksgewys en amper vir myself ook omdat my eerste vriendekring omtrent almal dood was in daardie stadium. Toe het ek 16 jaar lank by M-Net gewerk.

"In daardie stadium het die SAUK Afrikaans begin afskaal. Die Afrikaanse dramas was altyd die sterkste dramas en hulle het in daardie negentigerjare nog so vier of vyf dramas gemaak, maar daarna is daar baie meer goed in Engels gemaak . . . Daar was mettertyd nie meer werk in Afrikaans nie.

"Ek het nooit getwyfel dat kykNET gaan werk nie, want in al die jare wat ek by die SAUK was . . . Die lojaalste kyker wat jy kan kry, is die Afrikaanse kyker, wat insluit bruin en swart mense. Ja, mense spring van kanaal tot kanaal, maar die Afrikaanse kyker bly sit op die kanaal. En dís hoekom hy so kla oor herhalings, want hy spring nie rond nie, hy sit vanoggend die televisie aan, soos wat hy met die radio maak, en hy gaan sit daar en hy blý by Afrikaans."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM