Die Engelse sanger Ozzy Osbourne was die voorsanger van die groep Black Sabbath, en ’n heavy metal-pionier wat bekend gestaan het as die Prince of Darkness.
Gwyneth Paltrow, Oscar-bekroonde aktrise en die stigter van Goop, word haar lewe lank omhul deur kontroversie.
Andile Gaelesiwe is ’n Suid-Afrikaanse genderaktivis, sanger en aanbieder van die program, Khumbul’ekhaya.
Die Suid-Afrikaanse skrywer Merle Levin is ’n rebelse ouma wat glo dat ouderdom jou nooit moet terughou nie.
Ozzy, Merle en Andile vertel hul buitengewone lewensverhale in hul memoires, terwyl die skrywer, Amy Odell, meer lig werp op Gwyneth Paltrow se lewe.

Last Rites, Ozzy Osbourne (Little Brown, *R470)
Ozzy Osbourne het van meet af nog nooit mooi netjies in ’n boksie gepas nie. Die Prince of Darkness het sy lewe in absolute oormaat gelewe en in dié memoire is hy verstommend eerlik oor sy skandes wat hy uitlap.
Hy het die boek kort voor sy dood in 2025 saam met Chris Ayres geskryf.
Hy is verlede jaar Julie op die ouderdom van 76 oorlede minder as drie weke nadat hy saam met die oorspronklike Black Sabbath opgetree het.
Sy unieke stem kom duidelik deur in hoe hy sy lewe dokumenteer. Dis nie ’n chronologiese tydlyn nie, maar eerder ’n chaotiese en boeiende terugkyk op sy lewe – van sy kinderjare af, al die musiekgoed waarby hy betrokke was, maar ook sy latere stryd met Parkinson se siekte en ander gesondheidsuitdagings.
Ozzy het dinge nooit rustig gevat nie, selfs toe hy aftreeouderdom bereik het. In 2019 was hy as 69-jarige vasbeslote om sy wêreldtoer as afskeid van sy rock-loopbaan te voltooi.
Dit was hom nie beskore nie. Sy toer is in die wiele gery deur ’n fratsongeluk wat sy lewe skielik ontspoor het.
Sedert sy kinderdae het hy altyd in die bed ingeduik, iets wat hy regdeur sy lewe aanhou doen het al het hulle ’n state of the art luukse bed gehad waarin elkeen apart kon besluit hoe hoog of laag hul deel van die bed gestel moes wees.
Hy vertel hoe hy in 2018 een nag opgestaan het om sy blaas te ledig. Natuurlik, stage-dive hy toe oudergewoonte terug in die bed – net om baie hard met die vloer kennis te maak. Hy het die bed heeltemal misgeduik.
“To this day, I don’t understand how the f*ck I could have missed it… It’s like having a Sherman tank parked in the middle of the room.”
Die middernagtelike besoek aan ongevalle, die onsekerheid of hy sy nek weer gebreek het, en of hy verlam sal wees, het hom en Sharon baie frustreer.
Ozzy het in 2003 tydens die verfilming van die realiteitsreeks The Osbournes sy nek in ’n motorfietsongeluk gebreek. Hy agt dae in ’n geïnduseerde koma en sy nek en skouers is in ’n ingrypende operasie letterlik met metaalplate en skroewe aanmekaar geheg.
Sy duikslag het al daai skroewe en plate geskuif. Ná sy besoek aan die ongevalle afdeling, waar hy met pynpille en ’n nekstut huis toe te stuur is, is hy na ’n spesialis wat hy “Dr No Socks … ’cos he didn’t wear any”, genoem het. Die het besluit Ozzy moes geopereer word.
Ozzy het gesukkel om te herstel ná die prosedure en het ernstige siektes soos sepsis en longontsteking opgedoen. Boonop kon sy nek net regop bly as hy ’n stewige nekstut gedra het.
Al het hy nie die dokter blameer vir sy onsuksesvolle operasie nie, was hy baie spyt dat hy het nooit na ’n ander spesialis gegaan het vir ’n tweede opinie nie. “It’s hard to imagine it could have turned out any worse.”
Verstommend genoeg maak Ozzy nie verskoning vir die goed wat hy in sy lewe gedoen het nie. Vir baie daarvan was hy so hoog of aangeklam dat hy nie altyd geweet het wat hy doen nie.
Oor sy verslawing sê hy, dit was ’n manier om van die werklikheid te ontsnap, omdat hy die werklikheid nie kon hanteer nie.
Hy beskryf homself as ’n wêreldklas dwelmverslaafde en alkoholis. Vir hom was dit onmoontlik om net een pint Guinness te drink, nee, dit moes in oormaat wees.
So was dit ook met kokaïne en allerlei ander pille. Sy redding was dat hy “never, ever wanted to shoot up … Needles just freak me out, man.” Maar as hy iets in sy mond kon druk of in sy neus kon opsnuif, was dit ’n ander storie.
Sy verslawing was nie net aan dwelms nie. Ozzy beskryf hoe hy ook verslaaf was aan seks, roem, vinnige karre, Yorkshire Tea, Engelse lekkers, doodling, woordsoekboeke, en “texting funny sh*t” aan sy vriende. Altyd in oormaat. . .
Hy sê Sharon het hom gered en is die liefde van sy lewe (al was hulle vir ’n ruk uitmekaar). Sy is ook die gom wat sy loopbaan aan mekaar gehou het. Sonder haar sou hy niks en niemand gewees het nie.
Sy gesondheid ná sy fratsongeluk was vir hom ’n groot frustrasie. Elke keer wanneer hy konserte moes afstel met een of ander verskoning, het dit vir hom gevoel hy elke aanhanger persoonlik teleurstel.
Uiteindelik moes hy met die hele sak patats na vore kom toe bespiegelinge op sosiale media sê dat hy dood is. . .
Maar daar was darem één lig in die tonnel. Hy vertel hoe Sharon vir twee jaar lank gewerk het om die “Back to the Beginning”-heavy metal konsert te reël, die “who’s who” van die rockwêreld bymekaar te kry vir dié geleentheid en Ozzy te herenig met die oorspronklike lede van Black Sabbath vir ’n optrede by die konsert - al moes hy op ’n reusetroon op die verhoog sit omdat hy weens sy mediese uitdagings nie kon staan nie.
“‘Back to the Beginnings’ was the best medicine I’ve had since all my medical shit started back in 2019. It was a magical night.”
Al het jy nog nooit na enige van Ozzy of Black Sabbath se musiek geluister nie, kan jy steeds die boek lees. Dis ’n eerlike, dikwels snaakse en hoogs vermaaklike weerspieëling van die chaotiese lewe van ’n rockster, iemand wat verslaaf was aan die energie wat musiek in sy lewe gebring het. – Phyllis Green

Gwyneth, Amy Odell (Atlantic Books, *R425)
Wie ken nie die naam “Gwyneth Paltrow” nie? Sy is ’n Oscar-bekroonde aktrise, gesondheidsghoeroe, entrepreneur en skepper van die multimiljoen dollar maatskappy Goop, ma en eggenoot. Maar die vraag bly: wie is sy regtig?
Sy kom van Hollywood elite. Haar pa, Bruce Paltrow, was ’n bekende regisseur wat in 2002 aan kanker oorlede is, en haar ma, Blythe Danner, is ’n aktrise.
Gwyneth wou van kleins af in haar ma se voetspore volg. Die saadjie is geplant nadat Blythe haar aan rolprentstelle en -feeste voorgestel het.
Gwyneth het ook die gesogte spogskool, Spence School, bygewoon – ’n skool vir die kinders van New York se rykes en bekendes.
Aanvanklik was “Gwyneth” vir haar medeleerlinge ’n vreemde naam, wat nog te sê haar van “Paltrow”. Tog het sy stadig maar seker begin inpas en was sy uiteindelik een van die gewildste leerlinge – ’n ware “it girl”.
Haar loopbaan het afgeskop met kleinerige rolle: sommige suksesvol en ander minder suksesvol. Sy het aan die begin van haar loopbaan baie kritiek gekry as aktrise, maar kritiek sou harder aan haar deur kom klop toe sy haar besigheid, Goop, stig.
Haar grootste rol, die een wat haar die Oscar besorg het, was Viola de Lesseps in die rolprent Shakespeare in Love.
Sy was in die sewende hemel en met haar los, pienk Dior-tabberd en trane wat oor haar wange gebiggel het, het sy die Oscar ontvang.
Sy was in ’n verhouding met Brad Pitt en later Ben Affleck, maar dié verhoudings het gesneuwel. Sy het met Chris Martin van Coldplay getrou en uit die huwelik is twee kinders gebore.
Met die geboorte van Apple, haar dogter, het mense meer gegons oor die naam as oor die baba self. Later is haar seun, Moses, gebore.
Haar en Chris se huwelik het in die skeihof geëindig.
Sy het daarna vir Brad Falchuk, televisieskrywer, -vervaardiger en -regisseur ontmoet en kort daarna is hulle getroud.
Haar lus vir rolprente vervaardig het egter begin taan. Op ’n dag het sy ’n idee gekry om ’n webtuiste te skep wat gesondheidsraad aan lesers gee.
Gwyneth was “on a roll”; sy het begin met klere, kombuisware, en natuurlik, raad oor gesondheid. So het sy geboorte aan Goop gegee.
Die webtuiste het vlam gevat. Die produkte het soos soetkoek verkoop, maar was duur. Mense het gekla dis net vir die rykes en nie bekostigbaar vir die gewone mens nie.
Soos die webtuiste gegroei het, so het Gwyneth al hoe meer magshonger geword. Haar werknemers het begin kla oor die giftige werksomstandighedeen sommige het bedank. Mense het gesê Gwyneth kan baie koud wees, net om die volgende oomblik weer vriendelik en besorgd voor te kom.
Reg en gesond eet is, en was, nog altyd vir Gwyneth ’n heilige graal. Sy het bekende sjefs gekry om resepte uit te werk en sy het self ook begin kook op die webtuiste.
Gwyneth se sieninge oor gesondheid het kenners warm onder die kraag gemaak en oor haar teorieë is wyd bespiegel.
Sy het haar nie gesteur aan wat die kenners sê nie. Sy het volgehou sy hou kontrole oor die feite in al die artikels wat op haar webtuiste verskyn. Haar webtuiste bly nog een van die gewildstes op sosiale media.
Gwyneth is ’n komplekse mens met ’n streep snobisme in haar are. Haar verhaal is uitstekend geskryf deur Amy Odell, veral vir mense wat Gwyneth se lewe nie so goed ken nie. Daar was nie werklik iets nuuts of opspraakwekkend in die boek nie en veral die laaste gedeelte was moeilik om klaar te lees.
Maar een ding is seker: ’n mens pak Gwyneth Paltrow nie sonder handskoene aan nie. – Liesel Pienaar

The world according to Merle, Merle Levin (MF Books, *R320)
Dié memoire laat jou lag, maar raak ook jou hart aan.
Die 75-jarige Merle Levin wys dat ouderdom net ’n nommer is. Sy is ’n force of nature wat die lewe op haar eie manier aanpak. Een oomblik kyk sy na die miskruier in die Kalahari en vind daar ’n les oor om aan te hou beweeg. Die volgende oomblik spring sy saam met die “Soggy Bottoms” in ysige water om te swem.
En as sy nie swem nie, baklei sy met flair met Jeff, haar man van meer as vyftig jaar. Reëls was nog nooit vir Merle nie.
Sy is in die 1950’s in Vereniging gebore in ’n tradisionele Joodse huis, maar het van vroeg af haar eie pad gekies. In die sewentigs het sy, Jeff en hul twee jong kinders Suid-Afrika verlaat.
Hulle het na Kanada getrek, sonder geld of ’n plan. Hulle het net die wete gehad dat hulle ’n ander soort lewe wou bou.
Hulle moes leer om nuwe wêrelde en selfs ysige winters te trotseer. Vandag kyk sy terug met die selfvertroue van iemand wat nie net oorleef het nie, maar wat voluit geleef het.
Wat my getref het, is hoe sy selfs oor chaos en mislukkings met ligtheid en humor skryf. Sy wys dat jy nie perfek hoef te wees om ’n mooi lewe te hê nie. Haar stem is snaaks, reguit en vol menslike deernis.
Die boek probeer jou nie leer hoe om dinge reg te doen nie. Dis eerder ’n uitnodiging om jou eie lewe te lééf. Lag hard, en huil as jy moet, maar hou aan om vorentoe te beweeg: net soos die miskruier wat sy bolletjie agteruit rol, maar nooit sy pad verloor nie. – Nadia de Jongh

Remembering, Andile Gaelesiwe (Tafelberg, *R199)
Andile Gaelesiwe se rou en aangrypende vertelling trek jou onmiddellik in haar wêreld in.
Bekend as die geliefde aanbieder van Khumbul’ekhaya en ’n musikant van die laat 90’s-treffer “Abuti Yo”, gebruik sy hierdie boek om haar diepste wonde en oorwinnings te deel.
Die memoire begin met haar traumatiese ervarings van seksuele geweld – eers deur haar eie pa op die ouderdom van elf, en later deur ’n taxi-bestuurder.
Hierdie gebeure vorm die kern van haar verhaal, maar dit is nie die enigste dimensie nie.
Wat Remembering besonders maak, is die balans tussen pyn en humor. Gaelesiwe skryf met ’n eerlikheid wat soms skokkend is, maar sy verweef dit met ligter oomblikke en ’n stem wat nooit haar menslikheid verloor nie.
Sy bied nie net ’n blik op haar persoonlike trauma nie, maar ook op haar reis na heling en haar rol as ’n aktivis.
Sy stig die organisasie Open Disclosure om ander oorlewendes van verkragting ’n platform te gee – ’n daad wat haar verhaal transformeer van ’n individuele getuienis na ’n kollektiewe oproep tot aksie.
Die styl van die boek is intiem en toeganklik. Gaelesiwe se stem is eg, sonder versiering, en dit maak die leser deel van haar innerlike worstelinge en oorwinnings.
Dis nie ’n maklike leeservaring nie. Die inhoud is swaar en emosioneel, maar dit is juis hierdie intensiteit wat die boek onvergeetlik maak.
Remembering is ’n memoire wat nie net onthul nie, maar ook genees. Die boek dwing jou om te kyk na die realiteite van geweld, maar bied terselfdertyd hoop deur die krag van oorlewing en gemeenskap.
Gaelesiwe se verhaal is ’n noodsaaklike bydrae tot Suid-Afrikaanse literatuur en ’n stem wat lank sal weerklink. – Retha Kotzé
*Prys kan wissel van winkel tot winkel






