Om en by dieselfde tyd wat ds. Rudi Swanepoel en Jaco Kleynhans van Solidariteit op mekaar se rubrieke gereageer het, het ek die voorreg gehad om in Salzburg in die geselskap van baie inspirerende mense van oor die wêreld heen te wees. Ons het gesels oor wat dit beteken om te behoort, te genees (van dit wat ons seergemaak het) en oor leierskap om van hierdie wêreld ’n beter plek te maak.
’n Merkwaardige Inuïet-vrou van Alaska, Ayyu Qassataq, het my opnuut aan die dink gesit. Ek vra haar uit oor hoe sy en haar gemeenskappe die stroom van beledigings en die aanslag om die geskiedenis van inheemse mense en slawerny in die VSA uit kurrikulums en museums te verwyder ervaar.
Sy haal diep asem en sê met ’n glimlag: “Ek sê gereeld vir my familie aan die Maga-kant dat ek kan verstaan waar hulle vandaan kom en dat ek weet dat hulle net die beste vir hul gemeenskap wil sien.”
Met “familie” bedoel sy nie bloedfamilie nie. Sy praat van medelandgenote wat dit hul lewenstaak gemaak het om die lewe vir inheemse gemeenskappe so moeilik as moontlik te maak, hulle uit te sluit, te laat voel dat hulle nie behoort nie, dat hul stories nie saak maak nie. Maga-mense, synde ondersteuners van pres. Donald Trump se Make America Great Again-beweging.
“Ons weet wie ons is en waar ons vandaan kom en wat die waardes is wat ons oor eeue heen van ons voorouers ontvang het. Ons bly glo daaraan dat álle mense aan mekaar en aan die aarde behoort, ongeag wat mense hulleself wysmaak. Dit is nie ons taak om ons konserwatiewe wit familie se werk vir hulle te doen nie en ons gaan hulle nie probeer oortuig nie. Maar, ons sit ons storie in die middel van die sirkel en ons nooi hulle uit om na ons stories te kom luister. Die kortste pad tussen twee mense is ’n storie.”
Sy vertel hoe mense wat hulle voorheen vyandig gesind was, handomkeer verander het toe hulle haar mense se kultuur, gasvryheid en wysheid ontdek het.
“Nou is hulle ons grootste ondersteuners.”
Familie – so eenvoudig soos dit. Of soos Xiomara, een van ons ander gespreksgenote, dit stel: “Jy is my ander ek. Dis nie ek óf hulle nie. Dis ek én hulle.”
Ewe inspirerend was diep gesprekke met Palestynse Israeli’s, X en professor Y wat, ten spyte van die pyn van die verlede en dat hulle met agterdog dopgehou word, dag vir dag brûe tussen Israeli’s en Palestyne bou. (Lesers sal verstaan hoekom ek nie hulle name hier noem nie.)
X se geboortegrond en ouers se plaas naby Nasaret is deur Israel beset en hulle moes na ’n naburige dorp skuif, want Palestyne en Israeli’s “is veronderstel om apart te woon”. Vandag werk X vir ’n nieregeringsorganisasie wat kinders leer hoe om mekaar te waardeer, ten spyte daarvan dat finansiering vir gesprek aan’t opdroog is omdat bronne vir oorlog eerder as vir vrede aangewend word.
Y, ’n gerekende akademikus met twee doktorsgrade, is deur sy universiteit afgedank omdat hy studente van weerskante van die konflik aan mekaar se geskiedenisse blootgestel het. Hy het Palestyne na Auschwitz geneem en Jode na Palestynse gebiede omdat “Palestyne nie genoeg begrip het van wat tydens die Holocaust gebeur het nie en Jode bitter min van die lewe van Palestyne weet”.
Geen bitterheid nie. Net vasbeslotenheid om dialoog te bevorder. Daarvoor betaal hulle ’n prys.
Kevin Chang van Hawaii vertel van witwarm konflikte in New Orleans oor omstrede standbeelde. Die burgemeester van New Orleans nooi toe 500 mense uit om in groepe van 25 dialoog te voer. ’n Voorwaarde was dat die groepe divers moes wees en dat alle deelnemers bereid moes wees om vir ses uur lank saam in een vertrek te bly.
In een groep het die hare behoorlik binne die eerste paar minute gewaai.
’n Wit prokureur het met die intrapslag gesê dat hy nie sal toelaat dat die standbeeld van een van die generaals in die burgeroorlog verwyder word nie, want hy is trots op wat sy voorvaders gedoen het. ’n Swart aktivis het teruggekap dat sy elke dag met afgryse verby die standbeeld, wat haar slawernygeskiedenis verheerlik, moet ry. Sy het geëis dat die standbeeld verwyder word.
Merkwaardig genoeg het niemand in die vertrek voorstelle gemaak oor wat met die standbeelde moes gebeur nie. Die dringendheid om besluite te neem was nie belangriker as dat mense mekaar hulle stories vertel en mekaar ontdek het nie.
’n Ruk ná die dialoog bied die prokureur aan om die vrou pro bono by te staan in ’n regsaak. Hulle is vandag nog vriende.
Wat van Suid-Afrika?
Hierdie verhale laat my wonder hoe dinge in Suid-Afrika anders kon wees as ons mekaar werklik kon hoor en waardeer: as familie en as mense wat saam hoort en van mekaar afhanklik is, in plaas daarvan om mense gerieflik te etiketteer – liberaal of konserwatief, links of regs, verraaiers of hanskakies,woke of verkramp.
Ek is self geneig om te oordeel, veral as ek kyk na die vlak van diskoers in kommentaarafdelings in die media. Die digitale era neig na klankgrepe en slagspreuke oor identiteit en mag in plaas van dialoog, vraagstelling en ontdekking. Dikwels ontaard aanlyn gesprekke in moddergooiery. Venynige anonieme sleutelbordsoldate pleeg geweld met woorde en dit kan mense selfs seerder as fisieke geweld maak.
Só hou ons die vlamme van wantroue aan die brand en verbeel ons ons dat ons presies weet wie ander mense is en wat hulle dink of behoort te dink. Dan “hoef” ons nie stil te sit en na hul verhale te luister nie. Waar gaan dit eindig?
Wat sou gebeur as ons, in hierdie tyd van polarisasie, dit teenstaan en eerder verklaar dat ons almal aan mekaar behoort, al is ons verskillend? Dit beteken nie dat ons nie standpunt mag inneem nie. Inteendeel, dit is ons verantwoordelikheid om mekaar se vooroordele te konfronteer en blindekolle uit te wys, mits ons dit met respek doen.
Hier en daar gebeur dit, maar wat ek graag méér van sou wou sien, is dat politieke en ander leiers in die burgerlike samelewing hulle in die openbaar distansieer van uitsprake en uitsprake veroordeel wat mense beledig of dreig, rassisties is of menswaardigheid skend.
Kleynhans het dit gedoen toe iemand gedreig het dat Swanepoel stilgemaak moet word. Maar dis tragies dat net ’n handjievol politici die “Kill the Boer”-liedjie en plaasaanvalle veroordeel het. Die stilswye van leiers moedig ondersteuners aan om vure te stook sonder enige vrees vir teenspraak of repudiëring.
Ek reken tog dat ons as Suid-Afrikaners die moed bymekaar kan skraap en ons kan verbind om, soos die mense in Alaska en New Orleans, Senekal en Ogies, met oop harte na mekaar te luister, al is dit ook hoe moeilik. Qassataq herinner ons daaraan: “You can never unhear what you have heard.”
Die nasionale dialoog gaan dit nie vir ons doen nie. Ons moet dit self doen. Ons geskiedenis, hede en toekoms is, soos ’n woud se wortels, onlosmaaklik verweef. Daar is baie meer wat ons saambind as wat ons skei.
Die keuse is eenvoudig: Ons bou brûe of ons staan en toekyk op die rand van ’n al hoe groter wordende kloof hoe stormwaters van wantroue ons gemeenskaplike fondament wegspoel.







