Toets

Dít kan SA van totale verval red

Die afwesigheid van ’n morele kompas – op alle terreine in die land – is een van die grootste probleme in Suid-Afrika.
Die afwesigheid van ’n morele kompas – op alle terreine in die land – is een van die grootste probleme in Suid-Afrika. (Foto: Getty Images)

Suid-Afrikaners is al voos van al die slegte nuus. Dapper fluitjieblasers stel hul lewe in gevaar wanneer hulle bedrog en korrupsie blootlê. Swak besluite, nalatigheid en onbevoegdheid in die vloot en weermag kos soldate hul lewe.

Die Lichtenburg-effek is oral in ons dorpe en stede sigbaar. Dié dorp se agteruitgang weens korrupsie, onbevoegdheid en kaderontplooiing is die spreekwoordelike kanarie in die myn – ’n ontstellende bloudruk vir die res van die land.

Die koers van skuldigbevindings in Suid-Afrika is skokkend laag. Net 6% van ernstige geweldsmisdade wat aangemeld word, lei tot skuldigbevindings. Die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling pleeg ’n reuse-onreg teenoor kwesbare inwoners deur R1,7 miljard wat vir maatskaplike ontwikkelingsdoeleindes bedoel was, nie te bestee nie.

Al die provinsiale onderwysdepartemente in die land, behalwe die Vrystaat s’n, is vanjaar deur die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) by die Menseregtekommissie (MRK) verkla omdat hulle hul pligte so nalatig en laks uitvoer dat dit ’n direkte skending van kinders se basiese regte is. Spogmotors soos Lamborghini’s en Aston Martins word gekoop met geld wat aan gesondheidsorg bestee moes word. En so kan die lys net langer word.

Die toksiese brousel van onbevoegdheid en onetiese, korrupte optrede benadeel ons almal, veral die weerloses en die kinders in ons land.

Dít skep vertroue

Wat is die onderliggende redes wat aanleiding gee tot die epidemie van korrupsie, wanbestuur, misdaad en agteruitgang? Waarom val ons samelewing uitmekaar?

Daar is verskeie antwoorde op die vraag. Onder meer speel die ANC se uitgediende Moskou-geïnspireerde ideaal van ’n “nasionale demokratiese revolusie” op pad na sosialisme ’n groot rol. Maar ek wil fokus op ’n morele oorsaak, naamlik die afwesigheid van karakter op alle terreine.

Pres. Theodore Roosevelt het dit so opgesom: “Character, in the long run, is the decisive factor in the life of an individual and of nations alike.”

Volgens die Amerikaanse morele opvoedkundige dr. Thomas Lickona sluit karakter morele karakter (die strewe na etiese gedrag) én prestasiekarakter (die strewe na uitnemendheid) in. Mense wat albei het, kan volgens hom vertrou word.

Of, soos die Amerikaanse opvoedkundige Stephen Covey gesê het: “Trust is a function of two things: character and competence.” Op interpersoonlike, organisatoriese en regeringsvlak berus vertroue op morele karakter én bevoegdheid.

Hulle lyk só

Uit die matriks van morele karakter en bevoegdheid kan verskillende tipe mense onderskei word.

Daar is diegene wat hoog op die skaal van morele karakter lê, maar met min bevoegdheid. Hulle is doodgoed, maar ongelukkig ook goed dood. Hulle is eerlik maar onbekwaam, daarom kan jy hulle op persoonlike vlak vertrou, maar nie op professionele vlak nie. Dit is die vriendelike amptenaar wat nooit omkoopgeld sal vra nie, maar wat dit nie regkry om iets suksesvol af te handel nie. Leiers in hierdie groep is ondoeltreffend. So ’n skoolhoof of bevelvoerder van ’n polisiekantoor is ’n nagmerrie vir enige gemeenskap.

Dan is daar die groep wat laag op die skaal van morele karakter én bevoegdheid funksioneer. Hulle het nie respek vir die waarde van harde werk nie en het nie die selfdissipline en volharding om bevrediging uit te stel nie. Daar is by hulle ’n gebrek aan persoonlike verantwoordelikheid wat dikwels gepaard gaan met ’n arrogante houding van eiegeregtigheid. Wanneer hulle uitgevang word wanneer hulle nie hul verantwoordelikhede nakom nie, is dit nooit hul skuld nie en ander word verkwalik.

Mense in dié groep is baie gesteld op die indruk wat hulle op ander maak, maar hulle heg min waarde aan integriteit. Hulle tap ander se energie, kan nie vertrou word nie en vertraag die suksesvolle bereiking van doelstellings. ’n Staatsdiens waarvan ’n groot persentasie uit onbevoegde kaders bestaan wat in hierdie groep val, is wanfunksioneel. Mense in hierdie groep moet byvoorbeeld nie daarmee vertrou word om lokomotiewe vir die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) aan te koop nie.

Die derde groep is die mense wat laag op die skaal van morele karakter maar hoog op dié van bevoegdheid is. Dit is ’n gevaarlike groep omdat daar in die groep slim en uitgeslape mense is met baie ambisie maar min karakter. Die groep is gevaarlik omdat hulle dikwels met groot bevoegdheid, maar sonder ’n gewete en integriteit funksioneer en maklik onetiese kortpaaie neem. Hulle is die persone wat stelsels en mense kan manipuleer sonder dat ander dit agterkom.

Die Amerikaanse belegger en filantroop Warren Buffett waarsku dan ook: “Wanneer ek iemand moet aanstel, kyk ek na drie eienskappe: integriteit, intelligensie en energie. Wanneer iemand nie eersgenoemde het nie, sal die ander twee jou einde veroorsaak.”

Dit is nag wanneer die munisipale bestuurder van ’n dorp en die ministers en president van ’n land in hierdie groep val.

Die vierde groep mense funksioneer hoog op die skaal van karakter én van bevoegdheid. Hulle werk doelbewus aan die ontwikkeling van hul karakter én hul vermoëns. Hulle inspireer ander met die kombinasie van ’n sterk morele karakter en uitnemendheid. Hulle word nie bedreig deur ander nie en neem besluite wat ooreenstem met hul kernwaardes en nie hul ego’s nie. Hulle werk hard en presteer, maar is nie magshonger nie. Hulle weet hoe ’n mens selfdissipline en verantwoordelikheid spel en hulle leef met integriteit.

Hierdie mense is die gom wat ’n gesonde samelewing aanmekaar hou en van disintegrasie red. Die dapper fluitjieblasers val in die groep.

Die regte medisyne

As gebrekkige morele karakter en die afwesigheid van bekwaamheid en uitnemendheid ons tot op die rand van ’n afgrond gebring het, wat kan gedoen word? Watter kernwaardes kan ons red?

As net twee waardes as teenmiddel teen die agteruitgang in ons land sal help, sal integriteit en verantwoordelikheid op die voorskrif móét wees.

Integriteit beteken dat jy die vermoë het om te kan onderskei tussen goed en kwaad, reg en verkeerd, en dat jy bereid sal wees om te doen wat reg is, nieteenstaande die opofferings. Dit behels ook dat jy bereid sal wees om in die openbaar op te staan vir dit wat reg is.

Integriteit vra dat jy leuens en die verdraaiing van die waarheid vermy. Integriteit kom veral na vore in wat jy doen wanneer niemand jou sien nie en jy seker is dat jy nie betrap sal word nie.

’n Mens met integriteit se woorde en dade stem ooreen, want hulle doen wat hulle sê en sê wat hulle doen. Hulle gee nie voor om te wees wat hulle nie is nie, kom hul beloftes na en eis nie die applous en erkenning van ander vir hulself op nie. Integriteit gaan gepaard met eerlikheid, betroubaarheid, deursigtigheid en morele moed.

David Brooks, Kanadees-gebore Amerikaanse politieke kommentator, waarsku: “If you don’t have some inner integrity, eventually your Watergate, your scandal, your betrayal, will happen.”

Dit lyk asof die ANC se integriteitskommissie nie weet wat die begrip integriteit behels nie. Hoe lank gaan hulle nog van verhoë af voorgee dat hulle omgee vir die arm mense, terwyl dit in praktyk net om hul eie selfverryking gaan? Integriteit behels tog ook dat die beloftes wat voor verkiesings gemaak word, nagekom sal word en daar ’n eerlike, deursigtige staatsdiens sal wees waar sistemiese korrupsie nie geduld word nie.

Prof. Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, stel nou selfs voor dat ’n kantoor van openbare integriteit gestig word. Dit sal egter niks help indien die kantoor sonder integriteit funksioneer nie.

Verantwoordelikheid behels dat jy doen wat jy veronderstel is om te doen en bereid is om rekenskap te gee van jou besluite en optrede. Dit behels ook dat jy aanspreeklikheid aanvaar en nie verskonings maak, ander verkwalik en die rol van ’n onskuldige slagoffer inneem wanneer jy nie jou verantwoordelikhede nakom nie. Verantwoordelikheid gaan gepaard met selfdissipline, ’n gesonde werksetiek en betroubaarheid. ’n Goed funksionerende demokrasie vra van sy leiers, amptenare en burgers om verantwoordelik op te tree en aanspreeklikheid te aanvaar vir hul optrede, want sonder verantwoordelikheid kan nóg ’n individu, nóg ’n demokrasie volwassenheid bereik.

Die omvang van gebrekkige verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid in ons land is ontsettend groot en die skade as gevolg daarvan byna onberekenbaar. Die een groot verantwoordelikheid wat die ANC vir soveel jare al nie nakom nie en waarvoor hy sal moet pa staan, is die gebrek aan gehalteonderwys in 80% van ons openbare skole.

Sonder gehalteonderwys sal ons nooit die vlakke van uitnemendheid en bevoegdheid kan bereik wat nodig is om van Suid-Afrika ’n suksesvolle land te maak nie.

Dit sal dalk naïef wees om te dink dat net dié twee waardes alleen ons van die afgrond kan red, maar sonder integriteit en verantwoordelikheid is ons vir seker verlore.

Theodore Roosevelt, 26ste president van die VSA.
Theodore Roosevelt, 26ste president van die VSA. (Foto: Getty Images)
Warren Buffett, Amerikaanse belegger en filantroop.
Warren Buffett, Amerikaanse belegger en filantroop. (Foto: Getty Images)
Prof. Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie.
Prof. Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie. (Foto: Getty Images)
Dr. Jeanette de Klerk-Luttig
Dr. Jeanette de Klerk-Luttig (Foto: Verskaf)