Besoekers aan die G20-leiersberaad gaan nie met waterprobleme hoef te sukkel wanneer hulle Johannesburg in November besoek nie.
So het Jack Sekwaila, burgemeesterskomiteelid vir omgewing en infrastruktuur in die Johannesburg-metro, Vrydag by die hoofkantoor van Johannesburg Water in Newton gesê.
Volgens Sekwaila word daar voorbereidings gedoen om die waternetwerk vir die G20-leiersberaad in November te stabiliseer.
“Maar dit is ook nie net vir G20 nie. Ons berei wel voor vir besoekers soos hulle vir ons voorberei wanneer ons hulle lande besoek,” sê Sekwaila.
Ntshavheni Mukwevho, uitvoerende hoof van Johannesburg Water, het Vrydag erken dat die waternetwerk onder druk is, maar daar is geen bedreiging dat “Dag Zero” in die Goudstad sal toeslaan nie.
Die metro verloor tans 48% van sy drinkwater voordat dit die verbruiker bereik. Dit is onder meer weens waterdiefstal en lekkasies.
“Ons berei voor vir enige soort probleem wat moontlik sal opduik, maar ons sal verseker dat daar nie waterprobleme is nie. Ons sal reg wees,” sê Sekwaila.
Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër vanjaar gesê hy is geskok oor die verval van die Johannesburg-metro en het opdrag gegee dat die metro reggeruk moet word.
LEES OOK | ‘ANC in poligamiese verhouding met partye in Goudstad’ - Lesufi

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, het vroeër die week gesê die provinsie is goed op dreef met sy voorbereidings vir die G20-leiersberaad. Volgens hom is die voorbereidings vir G20 nie net vir nou nie.
Lesufi erken dat die O.R. Tambo-lughawe, Sandton, Rosebank en Nasrec die meeste aandag van die provinsiale regering geniet.
Die provinsiale regering het tot dusver 1 512 slaggate reggemaak, 456 padtekens is vervang en 21 274 straatligte is ook herstel. Volgens Lesufi is die regering ook besig om saam met munisipaliteite te werk om gras te sny sowel as om heinings te herstel.
Daar het onlangs ook betogings uitgebreek in die Johannesburg-metro waar inwoners hulle misnoeë oor die waterkrisis te kenne gegee het.
Sekwaila sê hierdie soort betogings hou ’n bedreiging vir vrede in die provinsie in en dus gebruik die metro sy polisiebeamptes om in gemeenskappe te patrolleer. Die metro het ook ’n ooreenkoms met die provinsiale regering om “amaPanyaza”, Lesufi se misdaadbestryders, na sekere hoërisikogebiede te ontplooi.
“Ons moet dit wel benadruk dat ons nie opsetlik die water van sekere gemeenskappe afsny nie,” sê Sekwaila.
Volgens hom is die waterprobleme weens “tegniese probleme” met die waternetwerk en nie omdat dit opsetlik gesaboteer word nie.
Johannesburg Water het ook sy 10-jaar-plan onthul om sowat R33 miljard in infrastruktuurprojekte te belê. Mukhevo sê die stad is in ’n ander posisie as wat Kaapstad jare gelede was.
“Ons het water, maar ons moet daaraan werk om ons waterverliese te verminder,” sê Mukwevho.
Die metro het die afgelope boekjaar 25 km van sy vervalle waterpype vervang. Volgens Mukwevho het dit Johannesburg Water R4 miljoen per km gekos om die waterpype te vervang.
Mukwevho sê hulle wil jaarliks 85 km van die metro se waterpype vervang. Die metro se waternetwerk bestaan uit sowat 12 500 km se waterpype.
Johannesburg Water het ’n begroting van R1,7 miljard opsygesit om in die 2025-’26-boekjaar in die vernuwing van infrastruktuur te belê.





















