2025-11-03 03:29:37 — Minstens 10 mense is dood en 260 beseer toe ’n aardbewing van 6,3 Afganistan vroeg Maandagoggend naby die stad Mazar-e Sjarif getref het.
Die Amerikaanse organisasie vir geologiese opname (USGS) het gesê die aardbewing het op ’n diepte van 28 km naby Mazar-e Sjarif toegeslaan.
Die getal sterftes en beseerdes is op hospitaalverslae gegrond.
Die land se nasionale rampbestuuragentskap het gesê verslae oor slagoffers en skade sal later uitgereik word.– Reuters, AFP
2025-11-03 03:35:36 — Pres. Donald Trump het Sondag gesê hy kry die Britse koninklike familie jammer nadat koning Charles sy broer Andrew van sy titel as prins gestroop het te midde van toenemende druk oor Andrew se bande met wyle Jeffrey Epstein, veroordeelde seksmisdadiger.
“Dit is ’n verskriklike ding wat met die familie gebeur het,” het Trump aan verslaggewers aan boord van Air Force One gesê toe hy oor Charles se optrede gevra is.
“Dit is ’n tragiese situasie en dit is aaklig. Ek voel jammer vir die familie.”– Reuters
2025-11-03 03:44:59 — Hamas het Sondag die lyke van drie gyselaars aan Israel oorhandig.
Israeliese magte in die Gasastrook het doodskiste ontvang nadat Hamas dit aan die Rooi Kruis besorg het, het die kantoor van premier Benjamin Netanyahu gesê.
Die oorskot sal na Israel vervoer word vir identifikasie.
Die lyke is na verwagting dié van drie van die 11 gyselaars wie se oorskot Israel uit die Gasastrook wou hê ingevolge die bepalings van ’n skietstilstand.– Reuters
2025-11-03 04:09:01 — Minstens 26 mense is dood in ’n grondstorting weens swaar reën in die Skeurvallei in Wes-Kenia.
Altesaam 25 mense word ná verwoestende vloede in die Elgeyo-Marakwet-distrik steeds vermis en 26 is gered, volgens ’n regeringswoordvoerder.
Die regering het militêre vliegtuie en spesialis-rampwerkers ontplooi om ’n soek-en-reddingsoperasie uit te voer.
Honderde mense is die laaste paar jaar dood in grondstortings en vloede in Kenia.
Wetenskaplikes sê klimaatsverandering veroorsaak meer intense en gereelde uiterste weerstoestande.– Reuters
2025-11-03 04:13:10 — Pous Leo XIV het Sondag sy beroep om ’n onmiddellike skietstilstand in Soedan herhaal.
“Met groot hartseer volg ek die tragiese nuus wat uit Soedan kom, veral uit die stad El-Fasjer,” het die pous gesê.
Hy het “lukrake geweld teen vroue en kinders en aanvalle op ongewapende burgers” veroordeel en gesê dit skep “ernstige struikelblokke vir humanitêre optrede” wat “’n reeds uitgeputte bevolking ná lang maande van konflik onaanvaarbare lyding besorg het”.– AFP
2025-11-03 04:46:37 — Minstens 23 mense is Saterdag weens ’n ontploffing in ’n supermark in Noord-Mexiko dood en 12 beseer.
Van die slagoffers was minderjariges, het die owerheid gesê.
Die meeste is dood nadat hulle giftige gas ingeasem het.
Ondersoekers het gesê die ontploffing was ’n ongeluk wat moontlik deur ’n foutiewe elektriese transformator veroorsaak is.– AFP
2025-11-03 05:19:03 — Pres. Donald Trump het Sondag gesê hy oorweeg vir eers nie ’n ooreenkoms wat Oekraïne in staat sal stel om Tomahawk-missiele vir gebruik teen Rusland te bekom nie.
Trump is tot dusver huiwerig oor ’n plan vir Amerika om Tomahawks aan Navo-nasies te verkoop wat hulle aan Oekraïne sal oordra.
“Nee, nie regtig nie,” het Trump gesê toe hy deur verslaggewers gevra is of hy ’n ooreenkoms oorweeg om die missiele te verkoop.
Hy het egter bygevoeg dat hy van plan kan verander.– Reuters
2025-11-03 05:20:20 — Die Mexikaanse president, Claudia Sheinbaum, het geregtigheid belowe nadat die burgemeester van die stad Uruapan Saterdag doodgeskiet is.
Carlos Manzo (40) het op die Dag van die Dooies-fees ’n kersliggeleentheid bygewoon toe hy vermoor is. Hy was ’n openlike kritikus van georganiseerde misdaad.
Twee verdagtes is in hegtenis geneem en ’n derde is dood, het die ministerie van sekuriteit gesê.
Verskeie politici en joernaliste is die laaste paar jaar in dié stad in die geweldgeteisterde staat Michoacán in Wes-Mexiko vermoor.– AFP
2025-11-03 05:39:08 — Die dodetal weens ’n aardbewing in Afganistan het toegeneem tot meer as 20, het die ministerie van gesondheid gesê. Ongeveer 320 mense is ook beseer.
Dié ongevalle is in die provinsies Balkh en Samangan aangeteken. Dit is slegs voorlopige syfers.
Vroeër is berig ’n aardbewing van 6,3 het Afganistan vroeg Maandagoggend naby die stad Mazar-e Sjarif getref.– AFP
2025-11-03 06:37:06 — Vyf Duitse bergklimmers het Saterdag in ’n sneeustorting in die Dolomietberge in Italië omgekom.
Twee groepe bergklimmers is in die stortvloed van sneeu vasgevang.
“Die eerste groep van drie mense was heeltemal begrawe” onder die sneeu, het Italië se reddingsdienste gesê.
Twee klimmers van ’n tweede span van vier mense het oorleef nadat hulle skuiling gevind het.
Die lyke van die ander twee ander klimmers, ’n pa en sy dogter (17), is Sondagoggend gevind.– AFP
2025-11-03 06:42:59 — Die Israeliese owerhede het die oorskot van drie dooies wat deur Hamas oorhandig is geïdentifiseer as gyselaars wat in Oktober 2023 gevange geneem is, het die kantoor van premier Benjamin Netanyahu Maandag gesê.
Die owerheid sê die oorledenes is “in aksie” dood.
Die oorskot sluit in dié van Omer Neutra, ’n Amerikaans-Israeliese kaptein wat 21 jaar oud was toe hy as gyselaar geneem is. Die ander twee is kpl. Oz Daniel (19) en kol. Assaf Hamami (40).– AFP
2025-11-03 06:54:06 — Die dodetal weens die orkaan Melissa in Jamaika het Sondag van 19 tot 28 gestyg.
Andrew Holness, premier van Jamaika, het die nuwe sterftesyfer bevestig.
Hy het gesê daar is “nog verslae van moontlike sterftes wat inkom en nog bevestig moet word”.
Melissa het verlede week die eiland as ’n kategorie 5-orkaan getref.– AFP

’n Foto vanaf ’n hommeltuig van skade wat deur die orkaan Melissa in Belmont, Jamaika, veroorsaak is.Foto: Reuters
2025-11-03 07:35:00 — ’n Groep ongematigde individue wou aan boord van ’n skip gaan wat in waters oos van Mogadisjoe, Somalië, vaar, het die Britse Maritieme Handelsoperasies (UKMTO) Maandag gesê.
“Die kaptein het aangemeld dat vier ongemagtigde persone probeer het om aan boord van sy vaartuig te gaan,” lui ’n verklaring deur die UKMTO.
“Alle bemanningslede is veilig en reis na die volgende hawe. Die owerhede het ’n ondersoek van stapel gestuur. Skepe word aangemoedig om met versigtigheid te reis.”– Reuters
2025-11-03 08:22:38 — Tienduisende Soedannese burgers het uit dorpe in ’n uitgestrekte streek oos van Darfoer gevlug, het die Verenigde Nasies (VN) gesê.
Dit kom net meer as ’n week nadat die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) die stad El-Fasjer oorgeneem het.
Die VN se migrasie-agentskap het laat Sondag gesê dat ’n geskatte 36 825 mense uit vyf plekke in die noorde van Kordofan gevlug het.
Dit is ’n streek ’n paar honderd kilometer oos van Darfoer.– AFP

Plaaslike inwoners in die stad Omdoerman neem Vrydag deel aan ’n betoging teen die paramilitêre Blitsondersteuningsmag.Foto: AFP
2025-11-03 08:38:35 — Pres. Donald Trump het Sondag beweer dat lande, insluitend Rusland en China, ondergrondse kernwapentoetse uitgevoer het wat nie aan die publiek bekend gemaak is nie.
“Rusland toets, en China toets, maar hulle praat nie daaroor nie,” het Trump gesê en ook na Noord-Korea en Pakistan verwys.
“Ek wil nie die enigste land wees wat nie toets nie.”
Trump het verlede week beveel dat Amerika kernwapentoetse moet hervat.
Daar is egter verwarring oor die spesifieke aard van die toetse.– AFP
2025-11-03 08:45:10 — Pres. Donald Trump het Sondag beweer dat lande insluitend Rusland en China ondergrondse kernwapen toetse uitgevoer het wat nie aan die publiek bekendgemaak word nie.
“Rusland toets, en China toets, maar hulle praat nie daarvan nie,” het Trump gesê en ook verwys na Noord-Korea en Pakistan.
“Ek wil nie die enigste land wees wat nie toets nie,” Trump het verlede week bevel dat Amerika kernwapen toetse moet hervat.
Daar is egter verwarring oor die spesifieke aard van die toetse.– AFP
2025-11-03 08:54:45 — Carlos Mazon, die leier van Spanje se Valencia-streek, het bedank oor sy administrasie se hantering van die katastrofiese vloede wat verlede jaar die streek getref het.
Mazon het daaglikse oproepe vir sy bedanking ontvang sedert swaar reën op 29 Oktober 2024 tot die dood van 229 mense gelei het en miljarde euro’s se skade veroorsaak het.
Inwoners van die geaffekteerde gebiede beskuldig die streeksregering daarvan dat hy ’n waarskuwing te laat uitgereik het nadat geboue reeds onder water was en baie mense verdrink het.– Reuters
2025-11-03 09:11:52 — Twee Italiaanse bergklimmers het in Nepal vermis geraak terwyl hulle ’n afgeleë piek geklim het. Dit kom nadat die sikloon Montha weer in die streek ontwrig het.
Die bergklimmers, Farronato Stefano en Caputo Alessandro, het probeer om die Panbari-berg van 6 887 m in die weste van Nepal as deel van ’n span van drie te klim.
“Die twee was vasgevang in kamp een weens swaar sneeuval en is sedert Saterdag weg,” het Nepal se departement van toerisme gesê.– AFP
2025-11-03 09:35:34 — Pres. Samia Suluhu Hassan van Tanzanië (65) is Maandag ingehuldig vir haar eerste verkose termyn nadat sy ’n verkiesingsoorwinning behaal het wat tot noodlottige betogings gelei het.
Hassan, wat in 2021 aan die bewind gekom het ná die dood van haar voorganger, is tot wenner van verlede week se verkiesing verklaar met 97,66% van die stemme.
Sy het slegs teen kandidate van kleiner partye meegeding omdat haar hoofopposisiekandidate of in die tronk is of verbied is om deel te neem.– Reuters
2025-11-03 09:47:38 — ’n Man sal Maandag op 10 aanklagte van poging tot moord in die hof verskyn ná ’n aanval Saterdag op ’n trein wat na Londen onderweg was.
Anthony Williams (32) word ook aangekla van poging tot moord en die besit van ’n skerp voorwerp weens ’n vroeëre voorval in die ooste van Londen.– Reuters

Beamptes op die toneel nadat die trein by die Huntingdon-treinstasie naby Cambridge in Engeland gestop het.– Reuters
2025-11-03 10:10:50 — Die Israeliese polisie het ’n voormalige militêre aanklaer in hegtenis geneem ná ’n skandaal wat ontketen is toe sy ’n video uitgereik het wat wys hoe soldate ’n Palestynse gevangene mishandel.
Yifat Tomer-Yerushalmi het volgens haar bedankingsbrief erken dat haar kantoor die video verlede jaar aan die media beskikbaar gestel het.
Vyf reserviste is aangekla sedert die video in 2024 uitgereik is.
Die aanklagte teen Tomer-Yerushalmi is nog nie bekend gemaak nie.– AFP
2025-11-03 10:29:38 — Pres. Alexander Stubb van Finland sê ’n “nuwe era van kernwapens” het begin, nadat Amerika verlede week aangekondig het dit beplan om kernwapentoetse te hervat.
Stubb sê die “logika van afskrikking en strategiese stabiliteit tussen supermoondhede” ondergaan ’n transformasie.
“Ons het ’n nuwe era van kernwapens betree, waarin die betekenis van kernwapens ongelukkig toeneem,” het Stubb in ’n toespraak in Helsinki gesê.– AFP
2025-11-03 10:44:54 — Bella Culley (19), ’n swanger Britse tiener wat vroeër vanjaar op aanklagte van dwelmhandel in Georgië in hegtenis geneem is, is Maandag vrygelaat.
Culley, van Billingham in die noordooste van Brittanje, het in Thailand vermis geraak voordat sy in Mei na Georgië gevlieg het.
Sy is met haar aankoms by die lughawe aangekeer. Aanklaers sê sy het 14 kg dagga in haar bagasie gehad. Culley het aanvanklik skuld ontken in Julie, maar haar familie het verlede week $187 000 in vergoeding betaal om vir ’n ligter vonnis te onderhandel.
Sy is toe gevonnis tot vyf maande en 24 dae – die tyd wat sy reeds in aanhouding uitgedien het.– Reuters
2025-11-03 11:14:34 — Die nywerheidsministers van 17 lande van die Europese Unie (EU), insluitend Duitsland, Frankryk, Italië, Spanje en Pole, het Maandag in Berlyn 'n verklaring onderteken wat hulle oproep tot die radikale vereenvoudiging van die EU se regulering vir nywerhede.
Die verklaring sluit in ’n sterker basis vir verdediging sowel as nuwe finansiële maniere om toegang tot kritieke grondstowwe te verseker. Die doel is om die EU se nywerheidsmededingendheid te verbeter en minder afhanklik te maak van invoer soos energie en grondstowwe, veral te midde van wêreldwye konflik, verskuiwings in handel en toenemende mededinging vanuit China en Amerika.
Daar is ook toenemende druk om die EU se regulasies te vereenvoudig omdat sakeondernemings kla dat oormatige regulering die sektor se groei belemmer.– Reuters
2025-11-03 11:27:00 — 'n Amerikaanse federale regter het 'n bevel wat pres. Donald Trump verhoed om Nasionale Garde-troepe in Portland in die deelstaat Oregon te ontplooi, vir vyf dae verleng hangende 'n finale uitspraak.
Trump, 'n Republikein, het die Nasionale Garde vanjaar na drie Demokraties-geleide stede, Los Angeles, Washington en Memphis, gestuur, maar sy pogings om soldate in Portland en Chicago te ontplooi, is deur die howe gestuit.
Trump beskou Portland as ‘n "oorloggeteisterde stad wat deurspek is met geweldsmisdaad”. Regter Karin Immergut sê egter daar is "geen geloofwaardige bewyse" daarvoor nie.– AFP

Lede van die Nasionale Garde loop verby die Lincoln-gedenkteken in Washington ten tyde van hul ontplooiing in die Amerikaanse hoofstad.Foto: Getty Images
2025-11-03 11:37:33 — Die Nederlandse linkse Groen-Arbeider-groepering het Maandag die jeugdige, sosialemedia-vaardige Jesse Klaver as hul nuwe hoof gekies. Klaver vervang die voormalige visepresident van die Europese Kommissie Frans Timmermans, wat ná 'n teleurstellende verkiesing bedank het.
Klaver (39) se eerste taak sal waarskynlik koalisiegesprekke met Rob Jetten, die verkiesingswenner, wees, wat 'n breë span wil hê wat die linkse en regse kant van die Nederlandse politiek dek.
"Jesse is een van die dryfkragte agter ons linkse samewerking," skryf die Groen-Arbeider-groep in 'n plasing op X nadat Klaver verkies is.– AFP

Jesse Klaver, nuwe partyleier van die Nederlandse linkse Groen-Arbeider-groepering, praat met joernaliste nadat hy op 'n parlementêre vergadering in Den Haag verkies is.Foto: AFP
2025-11-03 12:05:05 — Samewerking tussen Iran en Amerika is nie moontlik nie solank as wat Washington voortgaan om Israel te ondersteun, militêre basisse handhaaf en in die Midde-Ooste inmeng, sê die ajatolla Ali Chamenei, opperleier van Iran.
Chamenei se kommentaar kom terwyl pres. Donald Trump se administrasie poog om druk op Iran te verhoog. "Die Amerikaners sê soms dat hulle graag met Iran wil saamwerk. Samewerking met Iran is nie moontlik solank die VSA voortgaan om die vervloekte Sionistiese regime te ondersteun, militêre basisse te handhaaf en in die streek in te meng nie," sê Chamenei.
Trump het in Oktober aangedui dat die VSA bereid is om 'n ooreenkoms met Iran te sluit wanneer Teheran gereed is om dit te doen en gesê: "Die hand van vriendskap en samewerking met Iran is oop”.– Reuters
2025-11-03 12:11:04 — ’n Werker is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem ná die gedeeltelike ineenstorting van ’n Middeleeuse toring tydens opknapping naby die Colosseum in Rome. Twee ander werkers is lig beseer, berig Italiaanse media.
Volgens Luca Cari, woordvoerder van die nasionale brandweerdiens, was nooddienste vroeër besig om ’n werker, wat onder die puin vasgekeer is, te bevry.
Die 29 meter hoë Torre dei Conti staan in die Via dei Fori Imperiali, die breë laan wat van die sentrale Piazza Venezia na die Colosseum lei.– Reuters
2025-11-03 12:19:15 —

Carlos Mazón, president van die Valencia-streek in Spanje, staan Maandag joernaliste te woord ná sy bedanking. Mazón is ondersoek oor sy hantering van die katastrofiese vloede verlede jaar, wat tot die dood van 229 mense gelei het.Foto: AFP
2025-11-03 12:30:47 — Israel het Maandag die oorskot van 45 Palestyne terugbesorg wat die totale getal wat ingevolge die skietstilstand in die Gasastrook oorhandig is op 270 te staan bring.
Israel moet ingevolge die ooreenkoms wat deur pres. Donald Trump bemiddel is, die oorskot van 15 Palestyne oorhandig vir elke oorlede Israeli wat oorhandig word.
Israel het Maandag bevestig dat die oorskot wat die vorige dag deur Hamas oorhandig is, dié is van drie gyselaars wat in die aanval op 7 Oktober 2023 gevange geneem is – kapt. Omer Neutra, kpl. Oz Daniel en kol. Assaf Hamami.– AFP
2025-11-03 13:07:58 — Die kantoor van die aanklaer by die Internasionale Strafhof (IS) in Den Haag het Maandag gewaarsku dat gruweldade wat in die Soedanse stad el-Fashir gepleeg is, as oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom beskou kan word.
Ná 18 maande van beleg, bombardering en hongersnood het die paramilitêre Blitsondersteuningsmag (RSF) op 26 Oktober beheer oor die stad geneem en die laaste vesting van die weermag in Soedan se westelike Darfoer-streek verdryf.
Die IS het sy “uiterste kommer” uitgespreek oor die massamoorde, verkragtings en ander beweerde misdade in el-Fashir. “Dié gruweldade is deel van ’n breër patroon van geweld wat die hele Darfoer-streek sedert April 2023 teister,” lui ’n verklaring.– AFP
2025-11-03 13:17:23 —

’n Seun sit tussen die puin van ’n beskadigde huis ná ’n aardbewing in die dorpie Tasjkoergan in die Choelm-distrik van die Samangan-provinsie van Afganistan.Foto: AFP
2025-11-03 13:24:10 — Vier mense is Maandag lig beseer toe ’n trein vroegoggend ontspoor het ná ’n grondverskuiwing in die afgeleë heuwels in die noordweste van Engeland.
Tientalle passasiers is om 04:28 van die Avanti Weskus-dienstrein van Glasgow in Skotland na die Londen Euston-stasie afgelei nadat dit by Shap, Cumbria, ontspoor het.
“Die voorste treinwa het van die spore afgekom, maar het regop gebly,” het vervoerowerhede gesê en bygevoeg dat 85 mense van die trein af begelei is. Die voorval word ondersoek, sê die plaaslike spoorwegdiens.– AFP
2025-11-03 13:32:13 — China sê hy wil sy samewerking met Rusland versterk en hul gesamentlike veiligheidsbelange verdedig. Li Qiang, Chinese premier, het so ’n samewerking Maandag aan die besoekende Russiese premier, Michail Misjoestin, belowe.
Li het tydens gesprekke in Hangzhou die twee lande beskryf as “goeie bure en betroubare vennote”. Die gesprekke het gefokus op ekonomiese en tegnologiese samewerking te midde van Westerse sanksies teen Rusland weens die oorlog in Oekraïne, en handelspanning tussen China en die VSA.
Hoewel Rusland en China in 2022 ’n “sonder beperkinge”-vennootskap gesluit het, het Chinese uitvoer na Rusland onlangs afgeneem. Chinese maatskappye het invoer van Russiese olie gestaak ná Amerikaanse sanksies.
Nietemin neem Chinese invoer uit Rusland weer toe, veral van koper, nikkel en landbouprodukte.– Reuters
2025-11-03 14:01:25 —

’n Beseerde man word Maandag uit ’n voertuig gehelp in ’n ongeïdentifiseerde plek in Afganistan ná ’n aardbewing van 6,3. Die aardbewing oornag het die lewe van minstens 20 mense in die noorde van Afganistan geëis en meer as 500 beseer, het owerhede gesê.Foto: Verskaf/Afgaanse Rooi Halfmaan via Reuters
2025-11-03 14:14:36 — Bangladesj het planne gekanselleer om musiekonderwysers vir primêre skole aan te stel, het ’n regeringsamptenaar Maandag gesê, nadat dit fel teenstand van Islamitiese groepe in dié Moslem-meerderheidsland gekry het.
“Die musiek- sowel as liggaamlike-opvoedingposte is nou laat vaar,” het ’n senior amptenaar op voorwaarde van anonimiteit aan AFP gesê.
Bangladesj se grootste Islamitiese politieke party, Jamaat-e-Islami, en ander Islamitiese organisasies het gesê dit is onaanvaarbaar om musiek- en dansonderwysers aan te stel sonder om ook godsdienstige instrukteurs in diens te neem.– AFP
2025-11-03 14:39:19 — China het Maandag ontken dat hulle kernwapentoetse gedoen het nadat pres. Donald Trump beweer het dat dié land toetse uitvoer waarvan die publiek nie weet nie.
“China het nog altyd die pad van vreedsame ontwikkeling gevolg, ’n beleid nagestreef om nie eerste kernwapens te gebruik nie, ’n selfverdedigende kernstrategie gehandhaaf, en ooreenkomstig sy verbintenis om kerntoetse op te skort, opgetree,” het ’n woordvoerder van die ministerie van buitelandse sake gesê.– AFP
2025-11-03 15:03:46 —

’n Makker van Nolan Durie, ’n 21-jarige Kanadese lid van die Oekraïense buitelandse vrywilligerseenheid wat in gevegte teen Russiese magte dood is, neem Maandag van hom afskeid op ’n geleentheid in Kijif, Oekraïne.Foto: Reuters
2025-11-03 15:16:42 — Twee aanvalle deur die Israeliese weermag op dorpe in die suide van Libanon het Maandag die lewe van twee mense geëis en sewe gewond gelaat, het die Libanese gesondheidsministerie gesê, kort nadat Israel gedreig het om sy aanvalle teen die Iran-gesteunde Hezbollah uit te brei.– AFP
2025-11-03 15:34:11 — Aanklaers van die Internasionale Geregshof (Wêreldhof) het Maandag gesê hulle samel bewyse in oor beweerde massaslagtings en verkragtings nadat die paramilitêre Blitsondersteuningsmag die stad al-Fashir in Soedan se Darfoer-streek verlede week in besit geneem het.
Die Wêreldhof ondersoek reeds sedert 2005 beweerde volksmoord, oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in Darfoer.
Meer as 70 000 mense het al-Fashir al verlaat, en oorlewendes het vertel van verkragtings en die teregstelling van mans wat die stad vir veiligheid wou verlaat.– Reuters
2025-11-03 16:03:11 —

’n Seun vlieg Maandag ’n vlieër voor vernietigde geboue in die stad Gasa.– Foto: AFP
2025-11-03 16:14:31 — Meer as 150 000 mense het Maandag skuiling gesoek in die Filippynse kusprovinsies in die aangesig van die kragtige tifoon Kalmaegi, wat na verwagting binnekort aan land sal kom.
Die tifoon, op koers om die Visayas-eilandgroep eerste te tref, gaan gepaard met winde van tot 170 km/h, sê die land se nasionale weerdiens.– AFP
2025-11-03 16:43:22 — Turkye wil ’n naoorlogse raamwerk vir die Gasastrook sien waarin "Palestyne Palestina se regering en veiligheid verseker", het Hakan Fidan, Turkse minister van buitelandse sake, Maandag gesê ná ’n vergadering in Istanbul waaraan Katar, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate, Jordanië, Pakistan, Indonesië en Turkye deelgeneem het.
Fidan sê verder Israel moet ophou met sy gereelde skendings van die skietstilstand in die Gasastrook en ook sy plig nakom om humanitêre hulp toe te laat.– Reuters
2025-11-03 17:35:25 — Federale aanklaers het twee mans aangekla wat verbind word met wat hulle beweer 'n Isis-geïnspireerde komplot vanuit Michigan was om 'n aanval in die VSA uit te voer.
Luidens 'n hofdokument het Mohmed Ali en Majed Mahmoud elkeen die afgelope paar maande vuurwapens gekoop en deelgeneem aan aanlyn gesprekke wat aandui dat hulle kennis gedra het van 'n aanvalsplan.
Ali en Mahmoud word aangekla kragtens federale wetgewing wat die poging of sameswering verbied om vuurwapens en ammunisie te verkry wat vermoedelik in 'n terreurmisdaad gebruik kan word, in hierdie geval die verskaffing van materiële ondersteuning aan Isis.
31 Oktober is volgens die FBI as die aanvalsdatum beplan.– Reuters
2025-11-03 17:43:48 — Groot kommer heers in Tanzanië ná verlede week se presidents- en parlementsverkiesings. Volgens waarnemers kon burgers nie vrylik stem nie, weens dreigemente, sensuur en die feit dat opposisiekandidate uitgesluit is.
Berigte dui aan dat honderde mense omgekom het tydens betogings ná die stemmery op 29 Oktober. Sommige belangrike opposisiekandidate is in hegtenis geneem of verbied om deel te neem. Pres. Samia Suluhu Hassan is Maandag ingehuldig nadat sy glo 98% van die stemme gewen het, maar die opposisie sê die verkiesing was nie regverdig nie.
’n Groot aantal kiesers het glo uit vrees van die stembusse weggebly. Daar is ook berig oor stembriefbedrog, waar sommige mense meer as een stem uitgebring het.– AFP
2025-11-03 17:50:36 — Oekraïne toon "merkwaardige toewyding" om hom by die Europese Unie (EU) aan te sluit, maar moet onlangse negatiewe tendense in die stryd teen korrupsie omkeer en die hervorming van die regstaat versnel, lui 'n verslag van die Europese Kommissie.
Die teks, deel van 'n EU-uitbreidingsverslag wat na verwagting Dinsdag aangeneem sal word, lui "ten spyte van die baie moeilike omstandighede waarin die land hom bevind as gevolg van Rusland se oorlog van aggressie, het Oekraïne die afgelope jaar steeds merkwaardige toewyding aan die EU-toetredingspad getoon".
Oekraïne het aansoek gedoen om hom by die EU aan te sluit dae nadat Rusland sy volskaalse inval in Februarie 2022 begin het.– Reuters
2025-11-03 17:55:49 —

Prins William van Brittanje poseer vir foto's saam met lede van die publiek tydens 'n besoek aan Rio de Janeiro, Brasilië, voor sy bywoning van die jaarlikse Earthshot-toekenningseremonie ten bate van omgewingsbewaring.Foto: Getty Images
2025-11-03 18:14:19 — Die regse party Alternatief vir Duitsland (AfD) het Maandag die uitbrand van een van sy parlementslede se motor as ’n “aanval op demokrasie” beskryf.
Die voertuig van Bernd Baumann het vroegoggend in die Othmarschen-distrik van Hamburg uitgebrand en die polisie vermoed dit was ’n “politiek gemotiveerde” daad.
Alice Weidel en Tino Chrupalla, medeleiers van die AfD, is baie ontsteld en meen ’n aanval op ’n lid van die grootste opposisiegroep is ook ’n direkte aanslag op demokrasie in Duitsland.
Die AfD het tans 151 van die 630 setels in die parlement. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.– AFP
2025-11-03 18:19:19 — Die Trump-administrasie het aangekondig dat hy slegs gedeeltelik vir voedselhulp aan miljoene Amerikaners sal betaal, nadat twee regters beveel het dat noodfondse gebruik moet word om November se kos-toelae tydens die regeringsluiting uit te betaal.
Die Amerikaanse departement van landbou (USDA) het bevestig dat $5,25 miljard se kontingensiefondse in die program vir bystand aan behoeftige huishoudings (SNAP) aangewend word. Dit dek egter slegs ongeveer 50% van die normale voordele vir sowat 42 miljoen mense.
Volgens die USDA is $600 miljoen vir administrasie gereserveer en die res sal na die gesinne gaan. Sommige state sal weke en selfs maande benodig om hul stelsels aan te pas vir die verminderde uitbetalings.– Reuters
2025-11-03 18:27:04 — Oekraïne sal vanjaar kantore vir wapenuitvoer en gesamentlike wapenproduksie in Berlyn en Kopenhagen oprig, sê pres. Wolodimir Zelenski. Hommeltuie en artilleriestelsels is onder die wapens wat uitgevoer sal word, sê hy.
"Dit gaan oor medevervaardiging en die uitvoer van die wapens wat ons onsself kan toelaat om te verkoop om meer geld te maak vir die items waaraan ons ’n tekort het,” sê hy.
Oekraïne is steeds afhanklik van sy bondgenote vir wapens soos vegvliegtuie en lugverdedigingstelsels, maar het vordering gemaak met die ontwikkeling van sy hommeltuig- en missielprogramme. Volgens Zelenski beplan Oekraïne om teen einde vanjaar met die massavervaardiging van sy plaaslike missiele, die Flamingo en Ruta, te begin.– Reuters
2025-11-03 18:31:21 —

Keir Starmer, Britse premier, verwelkom militêre veterane by ’n onthaal by 10 Downingstraat in Londen.Foto: Getty Images
2025-11-03 19:00:39 — Die voormalige advokaat-generaal van Israel se weermag is in hegtenis geneem nadat sy erken het dat sy verlede jaar ’n video laat uitlek het wat wys hoe Israeliese soldate glo ’n Palestynse gevangene op ’n weermagsbasis mishandel.
Yifat Tomer-Yerushalmi het Vrydag uit haar pos bedank en gesê sy het die video laat uitlek om vals propaganda teen die weermag se wetstoepassers te neutraliseer nadat verregse politici gesê het bewerings van mishandeling is opgemaak.
Vyf Israeliese reserviste is sedertdien in verband met die voorval aangekla. Hulle ontken skuld. Tomer-Yerushalmi sal glo aangekla word van regsverydeling.– AFP
2025-11-03 19:36:16 — Een uit vyf sterftes weens kardiovaskulêre siektes in Europa kan voorkom word deur omgewingsrisiko's soos lugbesoedeling te verminder, het die Europese Unie (EU) se omgewingsagentskap Maandag gewaarsku.
Die hantering van ekstreme temperatuurskommelinge, blootstelling aan giftige chemikalieë, besoedeling en ander faktore is "deurslaggewend vir voorkoming", sê die Europese Omgewingsagentskap in ’n nuwe verslag.
Luidens die verslag is sulke faktore verantwoordelik vir minstens 18% van die meer as 1,7 miljoen mense wat in 2022 in Europa aan kardiovaskulêre siektes gesterf het.– AFP
2025-11-03 19:48:46 —

Inwoners van Houston, Texas, wag in hul motors by die Houston Food Bank by die NRG-stadion. Sowat een uit agt Amerikaners ontvang voedselhulp van die Amerikaanse regering deur die program vir bystand aan behoeftige huishoudings (Snap), ’n program wat in gevaar is om nie volledig gefinansier te kan word nie weens die regeringsluiting.Foto: AFP
2025-11-03 20:03:17 — Mamady Doumbouya, Guinee se junta-leier, het Maandag gesê hy gaan staan in die presidentsverkiesing op 28 Desember, ’n stap wat hom nog vyf jaar leier van die land kan maak.
Die 40-jarige Doumbouya het belowe om nie aan verkiesings deel te neem toe hy in 2021 die bewind in die Wes-Afrikaland oorgeneem het nie. ’n Nuwe grondwet wat in September goedgekeur is, het egter die weg vir sy kandidatuur gebaan.
Die nuwe grondwet vervang bepalings ná die staatsgreep wat lede van die junta verbied het om aan verkiesings deel te neem.– Reuters
2025-11-03 20:18:59 — Meer as 3,2 miljoen Amerikaanse lugpassasiers is geraak deur vertragings of kansellasies van vlugte weens personeeltekorte onder lugverkeerbeheerders sedert die land se regeringsluiting op 1 Oktober begin het, het ’n lugrederygroep Maandag gesê.
Airlines for America, wat onder meer American Airlines, United Airlines en Delta Airlines verteenwoordig, sê 16% van die vertragings in Oktober kan aan personeelprobleme toegeskryf word, teenoor die tipiese 5% voor die regeringsluiting.
Vrydag alleen is meer as 300 000 passasiers geraak, die ergste dag sedert die sluiting begin het, het die groep bygevoeg.– Reuters
2025-11-03 20:21:13 —

Prins William van Brittanje skiet Maandag ’n doel in die Maracanã-stadion in Rio de Janeiro op ’n geleentheid saam met kinders. William besoek Brasilië om die jaarlikse Earthshot-toekenningseremonie aan te bied en sal later die Verenigde Nasies se 30ste klimaatberaad (COP30) namens koning Charles bywoon.Foto: AFP
2025-11-04 03:26:14 — Een persoon het gesterf toe die tifoon Kalmaegi die Sentraal-Filippyne Dinsdag getref het, het die nasionale rampagentskap hier gesê.
Stortreën, sterk winde en stormvloede het tienduisende mense genoop om hul huise te ontruim.
Die tifoon het vroeg Dinsdag land bereik met volgehoue winde van 150 km/h en rukwinde van tot 205 km/h.
Daar word voorspel dat Kalmaegi, wat plaaslik Tino genoem word, teen Woensdag oor die Visayas-eilandstreek en oor die Suid-Chinese See sal beweeg.– Reuters
2025-11-04 03:44:31 — Pres. Donald Trump het Maandag sy ondersteuning toegesê aan Andrew Cuomo, ’n onafhanklike kandidaat, in die stryd om die burgemeesterskap van die stad New York.
Trump, ’n Republikein, het homself in wedloop ingewurm en gedreig om federale finansiering aan die stad te besnoei as Zohran Mamdani, die Demokrate se kandidaat, Dinsdag se verkiesing wen.
Trump lewer gereeld kommentaar oor die burgemeestersverkiesing in New York. Hy het egter sy party se grense oorskry deur voorkeur te gee aan Cuomo eerder as Curtis Sliwa, die Republikeinse kandidaat wat sleg vaar in meningspeilings, en Mamdani.
Mamdani is die voorloper.– Reuters

Zohran Mamdani, Demokratiese burgemeesterskandidaat vir die stad New York.Foto: Getty Images/Pool
2025-11-04 04:00:54 — ’n Roemeense werker wat Maandag ure lank onder puin in Rome vasgekeer was ná die gedeeltelike ineenstorting van ’n Middeleeuse toring naby die Colosseum, is dood, het plaaslike media berig.
Die man is Maandag laat deur nooddienste gered en in ’n ernstige toestand hospitaal toe geneem.
Dele van die 29 meter meter hoë Torre dei Conti, wat in die 13de eeu deur pous Innocentius laat oprig is, het by minstens twee geleenthede ineengestort.
Die eerste ineenstorting het omstreeks 10:30 (plaaslike tyd) plaasgevind en die tweede ongeveer 90 minute later.– Reuters

’n Stofwolk verberg Maandag die Torre dei Conti naby die Colosseum in Rome, Italië, toe dele van dié toring ineengestort het.Foto: Reuters
2025-11-04 04:17:47 — Peru het besluit om diplomatieke betrekkinge met Mexiko te verbreek.
Dit kom nadat Betsy Chavez, voormalige premier van Peru wat onder pres. Pedro Castillo gedien het, glo na die Mexikaanse ambassade in die land gevlug het om asiel te vra.
Chavez is strafregtelik aangekla weens haar beweerde rol in Castillo se poging om die kongres in 2022 te ontbind.
Die verbreking van diplomatieke betrekkinge is “in reaksie op hierdie onvriendelike daad, en met inagneming van die herhaalde geleenthede waarin daardie land in die interne sake van Peru ingemeng het, het Hugo de Zela, minister van buitelandse sake van Peru, gesê.
Mexiko se ministerie van buitelandse sake het nie onmiddellik op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.– Reuters
2025-11-04 04:27:00 — Pres. Donald Trump se administrasie sal wel November se voedselvoordele vir miljoene Amerikaners deels finansier nadat ’n regter Vrydag gelas het dat noodgeld gebruik word om die Bystandsprogram vir Aanvullende Voeding (Snap) te dek.
Die regering het egter gewaarsku dat dit sommige deelstate weke of maande kan neem om stelselveranderinge aan te bring en die verminderde voordele aan mense te verskaf.
Die administrasie het gesê hy sal die volle $5,25 miljard van die gebeurlikheidsfonds spandeer, maar nie ander finansiering waarmee hy die volle Snap-voordele van minstens $8 miljard vir 42 miljoen Amerikaners sou kon dek nie.
Snap-voedselkoepons is die eerste keer tot nog toe Saterdag teruggehou weens die verlengde sluiting van die federale regering.– Reuters
2025-11-04 04:45:50 — Die Amerikaanse aktrise Diane Ladd (89) is Maandag oorlede.
Ladd is vir Oscars benoem vir haar ondersteunende rolle inAlice Doesn’t Live Here Anymorevan 1974,Wild at Heartvan 1990 enRambling Rosevan 1991.
Ladd is in haar huis in Kalifornië oorlede, het Laura Dern, die dogter van Ladd en haar eksman Bruce Dern, gesê.
Bruce en Laura is ook albei akteurs.
Ladd was bekend om die vertolking van sterk, intelligente en komplekse vroue tydens ’n loopbaan van sewe dekades wat in die 1950’s begin het.– Reuters

Diane Ladd by ’n geleentheid in Kalifornië in die VSA op 12 Desember 2019.Foto: Getty Images
2025-11-04 05:20:39 — Dertien vermeende lede van ’n dwelmkartel is Maandag doodgeskiet in ’n onderonsie met veiligheidsbeamptes in die Mexikaanse staat Sinaloa.
Nog vier verdagtes is in hegtenis geneem en nege mense wat deur die bende ontvoer is, is ná die voorval vrygelaat.
Veiligheidspersoneel wat ’n patrollie uitgevoer het, is aangeval deur gewapende mans wat onder ’n brug weggekruip het.
Sinaloa word al langer as ’n jaar geskud deur konflik tussen faksies van ’n magtige plaaslike dwelmkartel.
Minstens 1 700 mense het in die geweld gesterf en bykans 2 000 word vermis.– AFP
2025-11-04 05:36:05 — ’n Franse vlootskip het Maandag 40 ton hulpvoorraad aan Jamaika afgelewer terwyl dié eilandstaat steier onder die verwoesting van die orkaan Melissa.
Die vrag sluit in basiese noodsaaklikhede vir 500 gesinne en twee waterbehandelingseenhede wat deur die Franse Rooi Kruis verskaf is, het ’n woordvoerder van Frankryk se ministerie van buitelandse sake gesê.
Die helfte van die voorraad is deur die Verenigde Nasies geskenk.
Die orkaan het Jamaika op 28 Oktober getref, dorpe verwoes en minstens 28 mense dood gelaat.– AFP
2025-11-04 05:51:27 — Die Britse akteur Jonathan Bailey (37) is vanjaar die tydskrifPeoplese sexyste lewende man.
Peoplehet die aankondiging Maandag gedoen.
Bailey het gesê dit is ’n “groot eer” om die popkultuur-eerbewys te ontvang wat voorheen toegeken is aan sterre soos Chris Hemsworth en George Clooney.
“Ek voel natuurlik ongelooflik gevlei. En dit is heeltemal absurd,” het Bailey aanPeoplegesê.
Hy het geskerts dat hy die nuus slegs met sy hond, Benson, gedeel het.
Bailey het prins Fiyero gespeel in verlede jaar se lokettrefferWicked.– Reuters

Jonathan BaileyFoto: Reuters
2025-11-04 06:41:34 — Die dodetal in Sentraal-Viëtnam het Dinsdag op 40 gestaan ná ’n week van oorstromings en ’n ongeëwenaarde volume reënval, het die owerheid gesê.
Nog ’n kragtige storm het die streek intussen getref.
Die stortreën het strate in kanale omskep, riviere het oor hul oewers gebars en van die land se mees besoekte geskiedkundige bakens is oorstroom.
Reën van tot 1,7 meter diep het binne ’n tydperk van 24 uur geval – ’n stortbui wat die hoogste nasionale syfers tot nou toe oortref het.– AFP
2025-11-04 07:26:31 — Die dodetal weens die tifoon Kalmaegi in die Filippyne het tot minstens vyf gestyg.
Honderdduisende mense is ook verplaas toe reën Dinsdag dele van die sentrale Filippyne oorstroom het.
Hele dorpe op die eiland Cebu is oorstroom, terwyl motors, vragmotors en selfs massiewe skeepshouers gesien kon word wat deur modderige vloedwater meegesleur is.
“Die situasie in Cebu is werklik ongekend. Die vloedwater is net verwoestend,” het Pamela Baricuatrohet, provinsiale goewerneur, gesê.– AFP

’n Reddingswerker loop Dinsdag verby opgestapelde motors wat deur vloede weggespoel is in Cebu in die sentrale Filippyne.Foto: AFP
2025-11-04 08:17:31 — Sommige Tanzaniërs het Dinsdag weer uitgegaan nadat beperkings, insluitend ’n aandklokreël en die onderbreking van internettoegang, gedeeltelik opgehef is.
Dit volg nadat verlede week se presidentsverkiesings noodlottige betogings ontketen het.
Volgens die opposisie is honderde mense weens die betogings dood.
Pres. Samia Suluhu Hassan is Maandag weer in die amp beëdig.
’n Totale onderbreking van internettoegang sedert verlede week is gedeeltelik opgeskort, maar dit bly moeilik om inligting uit die land te bevestig.– AFP
2025-11-04 08:38:01 — Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het Dinsdag gewaarsku teen skendings van die skietstilstand in die Gasastrook wat twee jaar van ’n verwoestende oorlog in die Palestynse gebied beëindig het.
Guterres het aan verslaggewers in Doha, Katar, gesê hy is “diep bekommerd oor die voortgesette skendings van die skietstilstand”.
“Dit moet stop en alle partye moet die besluite van die eerste fase van die vredesooreenkoms nakom.”– AFP

’n Ontheemde Palestynse meisie kyk Dinsdag by ’n tent uit in die stad Gasa te midde van ’n skietstilstand tussen Israel en Hamas.Foto: Reuters
2025-11-04 08:54:19 — Minstens 23 mense word ná stortreën in ’n afgeleë gebied van Indonesië vermis.
Die vloede, wat deur swaar reën Saterdag veroorsaak is, het twee afsonderlike dele van die provinsie Papua Pegunungan getref.
Vyftien van die 23 mense wat vermis word, is deur die vloede meegesleur terwyl hulle probeer het om ’n rivier oor te steek, het Abdul Muhari, woordvoerder van die nasionale agentskap, gesê.
Soek-en-reddingspogings duur voort, maar word deur grondstortings belemmer.– AFP
2025-11-04 09:50:42 — ’n Filippynse militêre helikopter wat ontplooi is om met hulpverlening weens die tifoon Kalmaegi te help, het Dinsdag op die eiland Mindanao neergestort, het ’n streeksbevelsentrum gesê sonder om te onthul of daar oorlewendes is.
Die Super Huey-helikopter het neergestort terwyl dit na die kusstad Butuan onderweg was “ter ondersteuning van hulpverlening” weens die kragtige storm.
Vroeër is berig minstens vyf mense is dood en honderdduisende ontheem toe reën Dinsdag die sentrale dele van die Filippyne getref het.– AFP
2025-11-04 09:52:00 — ’n Man (20) is Dinsdag doodgesteek en twee beseer op die Griekse eiland Evia in twee afsonderlike voorvalle.
Vyf mense is in hegtenis geneem, insluitend die twee beseerde mans, wat in verskillende gebiede gevind is, het Constantina Dimoglidou, polisiewoordvoerder, gesê.
“Die polisie probeer bevestig of dit met sokkergeweld verband hou,” sê Dimoglidou.
Minstens agt mense was by die gewelddadigheid betrokke. Die verdagtes is ondersteuners van twee mededingende sokkerspanne.– Reuters
2025-11-04 09:59:01 — China het Dinsdag vyf mense ter dood veroordeel weens hul betrokkenheid by ’n gewelddadige misdaadbende wat bedrog in die Kokang-streek in Mianmar gepleeg het.
Bedrog-sentrums gedy in Mianmar se wettelose grensgebiede.
Die misdade van die vyf mense het gelei tot die “dood van ses Chinese burgers, een se selfdood en dat verskeie ander beseer is”, berig die nuusagentskap Xinhua.– AFP
2025-11-04 10:26:07 — Die dodetal weens die tifoon Kalmaegi in die Filippyne het tot minstens 26 gestyg.
Vroeër die dag was dit minstens vyf.
Een en twintig van die sterftes is op die eiland Cebu.
’n Amptenaar sê die meerderheid van die slagoffers het verdrink.
Minstens 183 mm reën het geval in die 24 uur voordat die tifoon aan land gekom het. Die maandelikse gemiddelde reënval is 131 mm.
Die owerhede het geweier om kommentaar te lewer oor of daar enige oorlewendes is nadat ’n militêre helikopter wat vir hulpverlening ontplooi is, neergestort het.– AFP
2025-11-04 10:32:23 — Huishoudings in Australië sal toegang hê tot drie uur per dag se gratis sonkrag as deel van ’n program om energie te bespaar.
“Ons wil sien dat almal voordeel trek uit hernubare energie,” sê Chris Bowen, minister van energie.
Die Solar Sharer-skema sal van volgende jaar af in sommige gebiede, insluitend Nieu-Suid-Wallis en Suid-Australië, uitgerol word voordat dit dalk uitgebrei word.
Australië het miljarde dollars in onder meer sonkrag en windturbines gestort en belowe om die land ’n supermoondheid in hernubare energie te maak.– AFP
2025-11-04 10:50:25 — Noorweë se soewereine welvaartfonds, wat een van Tesla se 10 grootste aandeelhouers is, sê dat hulle teen die maatskappy se voorgestelde salarispakket vir Elon Musk ter waarde van moontlik meer as $1 000 miljard sal stem.
Tesla-aandeelhouers sal die salarispakket Donderdag op ’n vergadering in Austin, Texas, oorweeg.
Norges Bank Investment Management sê op sy webwerf hoewel dit “die beduidende waarde wat onder mnr. Musk se visioenêre leierskap geskep is, waardeer”, is dit onder meer bekommerd oor die grootte van die pakket.– AFP
2025-11-04 11:10:26 — Rachel Reeves, Britse minister van finansies, het Dinsdag gewaarsku dat belastingverhogings vir werkers moontlik volgende maand op pad is.
Reeves het in ‘n seldsame toespraak voor die begroting gesê "ons almal moet bydra" om die Britse ekonomie te verbeter. Sy het gewaarsku van moeilike besluite in die begroting van 26 November aangesien Brittanje met hoë skuld en inflasie sukkel.
Sy het gesê sy sal doen wat nodig is om gesinne teen hoë inflasie te beskerm. Die regering van Keir Starmer, Britse premier, het reeds vroeër belasting op sakeondernemings verhoog, wat blameer word vir swak ekonomiese groei.
Reeves het die vorige konserwatiewe regering en internasionale druk, soos die Amerikaanse tariewe en Brexit, die skuld vir die huidige probleme gegee.– AFP

Rachel Reeves, Britse minister van finansies, lewer Dinsdag 'n toespraak in Londen waar sy gewaarsku het oor belastingverhogings.Foto: Getty Images
2025-11-04 11:21:35 — Kiesers in die Amerikaanse deelstate New Jersey en Virginië stem Dinsdag vir hul volgende goewerneurs – ’n belangrike aanduiding van hoe Amerikaners oor pres. Donald Trump voel ná nege maande in die amp.
In New York se burgemeestersverkiesing pak Zohran Mamdani die oud-goewerneur Andrew Cuomo. In Kalifornië besluit kiesers of die Demokrate meer beheer oor die kiesafdelingskaart moet kry.
In New Jersey bly die wedloop hewig, met die Demokraat Mikie Sherrill wat net voor haar Republikeinse teenstander is. Abigail Spanberger, ook ’n Demokraat, het 'n groter voorsprong in Virginië en in New York loop Mamdani tans voor.
Meer as drie miljoen Amerikaners het vroeg gestem, ’n groot toename in vergelyking met ander jare.– Reuters
2025-11-04 11:33:28 — Dick Cheney, voormalige adjunkpresident van Amerika, is in die ouderdom van 84 oorlede. Cheney was van 2001 tot 2009 die adjunkpresident van die VSA onder pres. George W. Bush. Hy was ook die minister van verdediging onder pres. George H.W. Bush, en het oor dekades heen ’n invloedryke rol in Amerikaanse politiek gespeel.
Cheney is bekend vir sy sterk standpunte oor buitelandse beleid, veral tydens die Irak-oorlog, en sy invloed binne die Republikeinse Party.– Reuters

Dick CheneyFoto: Getty Images








