2025-11-20 10:17:56 — Dr. Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, is van die eerste wêreldleiers wat vir die G20-leiersberaad die naweek in Suid-Afrika aangekom het. Von der Leyen is deur Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne, op die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park verwelkom. Von der Leyen en António Costa, president van die Europese Raad, hou Vrydag ’n G20-mediakonferensie oor die Europese Unie se verwagtinge.
Foto: GCIS
2025-11-20 11:23:43 — Hierdie eeu moet die eeu van die vrou wees en vroue moet hul regmatige plek in die samelewing inneem, sê pres. Cyril Ramaphosa.
Hy het veral verwys na die skadelike invloed wat geweld teen vroue en die moord op vroue op gemeenskappe het toe hy die maatskaplike beraad van die G20 in Boksburg afgesluit het.
Volgens Ramaphosa gaan geslagsgeweld en die moord op vroue tot ’n krisis verklaar word. Alles moontlik sal gedoen word om ’n einde aan hierdie krisis te maak.Foto: GCIS
2025-11-20 11:33:10 — Geen nasie mag ’n ander een boelie nie, want almal is gelyk, sê Ramaphosa. ’n Land se geografiese posisie, sy inkomste en die grootte van sy weermag mag nie bepaal “wie ’n stem het” en wie met minagting behandel word nie. Ramaphosa het nie na enige spesifieke land verwys nie, maar sy aanmerkings kom teen die agtergrond van verskeie onverkwiklike uitlatings oor Suid-Afrika wat die laaste ruk in Amerika gemaak is. Die G20 sal nie sy doel kan bereik om finansiële stabiliteit en ekonomiese samewerking wêreldwyd te verbeter as daar “ongeskrewe reëls is wat bepaal wie feesvier en wie met krummels tevrede moet wees nie”.
2025-11-20 11:41:58 — Ons hou nie ’n G20-beraad nie, ons hou ’n G-miljoen. So het pres. Cyril Ramaphosa ’n stekie ingekry na pres. Donald Trump van Amerika se administrasie, wat die afgelope week kapsie gemaak het oor die G20-beraad wat onder Suid-Afrika se presidentskap, volgens hom, die G100 geword het.
Trump boikot die G20-beraad en geeneen van sy amptenare sal die beraad bywoon nie. Volgens Ramaphosa sê sommige Suid-Afrika hou ’n G100-beraad en ’n G1 000-beraad. “Dis waar, ons hou ’n G-miljoen, want vir ons gaan dit oor inklusiwiteit en om mense byeen te bring. Dié G20-beraad sal die beste beraad wees.”
Ramaphosa sê die maatskaplike beraad word in die gees van ubuntu aangebied. “Dit praat oor die Afrika-spreekwoord, wat sê as jy vinnig wil beweeg, dan moet jy alleen beweeg, maar is as jy ver wil gaan, moet jy saambeweeg. Dís wat ons hier doen.”Foto: GCIS
2025-11-20 12:21:11 — Verskeie optogte word van Vrydag verwag in die omgewing van die G20-leiersberaad in Nasrec, sê Xolani Fihla, woordvoerder van die Johannesburg-metropolisie.
Daar is vyf bevestigde optogte. Die grootste daarvan, ’n optog deur die MK-party met ’n verwagte 400 betogers, sal Vrydag tussen 08:00 en 16:00 vanaf die Pan Africa-inkopiesentrum tot die Metrosentrum plaasvind.
Die Civil Servants Pension Redress Movement sal ’n memorandum aan die kantoor van die presidensie oorhandig en tussen 08:00 en 13:00 aan ’n optog deelneem by die Nasrec-sprekershoekie. Operasie Dudula, Gurudwara Sahib en die United Front sal elk ook afsonderlik optogte hou.
Verskeie sleutelroetes en voorstedelike paaie sal oor die naweek gesluit of gedeeltelik gesluit wees vir die G20-leiersberaad.
2025-11-20 12:52:39 — Ons sal ’n G20-verklaring hê sonder Amerika en ons sal nie geboelie word nie. So het pres. Cyril Ramaphosa Donderdag aan die media gesê nadat hy die hoofspreker was by die G20 se maatskaplike beraad.
“Die gesprekke vorder baie goed. Ek is vol vertroue dat ons nader aan ’n verklaring beweeg. Ons sal aanbeweeg sonder Amerika. Die hele G20-proses beweeg vorentoe. Ons sal nie geboelie word nie.”Suid-Afrika sal nie deur enigiemand wat afwesig is, voorgeskryf word dat die land nie ’n G20-verklaring kan aanvaar of enige besluite op die G20-leiersberaad kan neem nie, sê Ronald Lamola, minister van internasionale betrekkinge en samewerking.
“So iets kan die G20 en enige multilaterale platform polariseer. As ons nie ’n verklaring aanvaar nie, sal dit nie wees omdat iemand (Amerika) wat afwesig is dit vir ons gesê het nie. Dit sal wees omdat die lande wat teenwoordig is nie saamgestem het oor die leiersverklaring nie,” het Lamola Donderdag by die afsluiting van die G20 se maatskaplike beraad gesê.
Lamola se dwarsklap aan die Amerikaanse regering hou verband met die Trump-administrasie se dreigemente vandeesweek dat ’n konsensusverklaring nie sonder hom aanvaar kan word nie. Volgens Lamola is internasionale betrekkinge te belangrik om slegs aan regerings oorgelaat te word. “Dit is reeds lank die mantra van die burgerlike samelewing. Afrika moet gradueer van diegene wat reëls ontvang na diegene wat reëls maak oor aangeleenthede wat sy vasteland en sy volke raak.
"Daar is geen twyfel nie dat Suid-Afrika se verklaring by die G20- maatskaplike beraad waarde sal toevoeg tot die G20-leiersverklaring wat in die komende dae aanvaar sal word.”– Raymond Willemse

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: GCIS
2025-11-20 13:03:00 — Pres. Cyril Ramaphosa begin met sy hoofrede op die afsluitingseremonie van die B20-beraad in sy hoedanigheid as G20-president.
2025-11-20 13:05:22 — Ramaphosa sê hy het dit deesdae ’n gewoonte gemaak om soos hy by vergaderings instap die gehoor te lees en hul gemoed te toets.
Soos hy hier ingestap het, het hy onmiddellik die indruk gekry dat daar onder die sakemense ’n wonderlike reuk van geld is.
Hy sê hy was ’n rukkie gelede om die maatskaplike beraad van die G20, waar hy ’n luide ontvangs gekry het van afgevaardigdes daar. Toe hy egter by die B20-beraad instap, was daar absolute stilte.
Hy sê in plaas van om dit as negatief te sien, het hy vir homself gesê dat hy op die regte plek is. Dit is waar die groot geld is.Foto: AFP

2025-11-20 13:11:35 — Ramaphosa sê die G20-beraad is ’n oomblik van groot betekenis en geleentheid vir Suid-Afrika en die vasteland – ’n kans vir Afrika om sy regmatige plek in wêreldsake in te neem.
Hy sê toe Suid-Afrika die G20-presidentskap aanvaar het, het die land dit duidelik gemaak dat hy Afrika die fokus daarvan sal maak. Hy sê die G20 vind vir die eerste keer in Suid-Afrika plaas en dat die land geëerd is om dit te kan aanbied. Mense van oor die wêreld heen kom vir die beraad na Suid-Afrika om te reflekteer oor wat in die wêreld aangaan en om planne vir die toekoms te maak.
Hy sê Afrika het die potensiaal om die volgende sentrum te wees van wêreldproduksie, handel en innovasie. Hy vra die wêreldgemeenskap om Afrika se opkoms te omarm.
Volgens hom moet Afrika se groei en ontwikkeling daarom deur die internasionale gemeenskap geprioritiseer word deur onder meer beleggings, veral in die jeug.
2025-11-20 13:17:31 — Volgens Ramaphosa het die internasionale sakegemeenskap hulself ’n betroubare vennoot gemaak wat ywerig is om met regerings, multilaterale liggame en maatskaplike vennote saam te werk in die strewe na ’n algemene doel.
Die B20 het dit duidelik gemaak dat groei inklusief moet wees. Diegene wat gemarginaliseer is – vroue, jeugdiges, gestremdes en werkloses – moet volgens hom aktief voordeel trek uit die internasionale ekonomie. Of dit nou op nasionale of internasionale vlak is. Dit is ’n kwessie van maatskaplike en ekonomiese geregtigheid.
Ramaphosa sê dit is ook ’n geleentheid om die vermoëns, talente en pogings van miljarde mense aan te wakker om die produktiewe potensiaal van die mensdom te ontsluit.
2025-11-20 13:28:05 — Ramaphosa sê die wereld moet billike, deursigtige en multilaterale handelsreëlings nastreef wat nie lande straf vir ’n klimaatkrisis wat hulle nie veroorsaak het nie.
“Uit die ervaring van onlangse jare is dit duidelik dat groei veerkragtig moet wees.
“Ons het die enorme ontwrigting in produksie en handel gesien wat veroorsaak kan word deur wêreldwye pandemies, oorlog en konflik, asook geopolitieke onstuimigheid.
“In sulke tye waardeer ons die waarde van multilaterale instellings en ’n reëlgegronde wêreldorde.”
2025-11-20 13:30:22 — Ramaphosa sê soos daar gewerk word om die veerkragtigheid van lande se ekonomieë en die veerkragtigheid van die wêreldekonomie te versterk, moet groter pogings aangewend word om ongelykheid te verminder. Volgens hom is ’n meer gelyke wêreld, waarin politieke en ekonomiese mag meer billik versprei is, waarin alle mense ’n gelyke stem en ’n gelyke belang het, meer stabiel en meer veerkragtig.
Ramaphosa sê die G20 se Globale Ongelykheidsverslag, wat deur die Nobelpryswenner prof. Joseph Stiglitz en sy komitee van onafhanklike kundiges saamgestel is, bied waardevolle leiding oor die stappe wat gedoen kan word ten opsigte van so ’n wêreld.
“Die aanbevelings in die komiteeverslag versterk baie van die prioriteite en aksies wat by hierdie B20-beraad en inderdaad dwarsdeur die jaar by B2-gesprekke voorgestel is.”
Ramaphosa sê Suid-Afrika het sy G20-presidentskap aangepak met die vasberadenheid om die beginsels van gelykheid, solidariteit en volhoubaarheid te bevorder.
“In die afgelope jaar het die meeste van die lande van die G20 saamgespan om hierdie beginsels te ondersteun, met die begrip dat hulle fundamenteel is vir ons gedeelde toekoms.”
2025-11-20 13:34:39 — Ramaphosa het weer na pres. Donald Trump van Amerika gekap en sê SA is “elders in die wêreld” beskryf as as ’n land wat die G100 saamgeroep het. Sy antwoord daarop is, dat SA nie die G100 byeengebring het nie, maar eerder die G-miljoen – want as daar ’n wêreld gaan wees wat vooruitstrewend is, wat omgee, wat meer gelyk is en wat onderspan word deur solidariteit, glo Suid-Afrika dit is belangrik om alle mense te betrek wat geraak gaan word deur die besluite wat die G20-leiers hierdie naweek sal neem. Hy bedank alle deelnemers van die B20-beraad en sê SA is geëerd deur hul bywoning. Hiermee sluit hy af.Foto: AFP

2025-11-21 04:40:19 — Keir Starmer, premier van Brittanje, is op pad na Suid-Afrika vir die G20-beraad.
Starmer sal ’n depot besoek om treine te sien wat in Derby gebou is en sal ’n nuwe ooreenkoms aankondig waar Brittanje “strategiese advies- en konsultasiedienste” aan Suid-Afrikaanse spoorweë verskaf.
Downing Street voer aan Afrika het uitsonderlike toekomstige geleenthede vir Britse sakeondernemings.
Gevra oor pres. Donald Trump se besluit om die beraad te boikot, het Starmer gesê hy (Starmer) moet die geleentheid aangryp om van aangesig tot aangesig verdere ooreenkomste aan te gaan.– BBC
2025-11-21 06:05:34 — Netwerk24 verneem dat gedeeltes van paaie wat as gesluit aangedui is, in chaos gedompel is vanoggend.
Padgebruikers word gemaan om op hul hoede te wees vir beplande sluitings vir die G20.
LEES OOK |Verskeie paaie in Gauteng die naweek gesluit vir G20
2025-11-21 06:43:54 —
Keir Starmer, premier van Brittanje, kom Vrydagoggend op die O.R. Tambo-lughawe aan om die G20-leiersberaad wat die naweek in Nasrec, Johannesburg, gehou word, by te woon. Hy is op die lughawe deur Alvin Botes, adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, en ’n erewag van die weermag ontvang.Foto: GCIS
2025-11-21 07:25:12 — Die parlement hoop Suid-Afrika se oorhandiging van die G20-presidentskap aan Amerika by die leiersberaad die naweek sal “glad” verloop.
Supra Mahumapelo, voorsitter van die portefeuljekomitee oor internasionale betrekkinge en samewerking, het Vrydagoggend so gesê toe hy namens die komitee pres. Cyril Ramaphosa se leierskap, sowel as die land, geloof het vir die aanbieding van ’n suksesvolle G20- maatskaplike beraad Donderdag. “Suid-Afrika het die G20 verder geneem deur die hele Afrika in te sluit aangesien die G20-beraad vir die eerste keer op die vasteland plaasvind. Dit is ’n gedenkwaardige geleentheid vir alle mense van Afrika. Die portefeuljekomitee is bly dat daar nalatenskapprojekte is om die verbintenisse van die G20 te bevorder.”
Volgens Mahumapelo verwelkom die komitee ook Donderdag se ontwikkeling “met betrekking tot die VSA wat kennis gegee het dat hy dit oorweeg om aan die G20-leierskapsberaad deel te neem en (ons) hoop dat die oorhandiging glad sal verloop”.
“Die komitee wens die troika (Brasilië, Suid-Afrika en die VSA) sterkte toe met die suksesvolle inwerkingstelling van (die deklarasie) van die G20- maatskaplike beraad”.– Llewellyn Prince
2025-11-21 08:36:55 —

2025-11-21 09:06:20 — Premier Narendra Modi van Indië het in ’n boodskap voor sy vertrek uit Indië na Suid-Afrika gesê hy beskou die G20-beraad as veral spesiaal omdat dit die eerste G20-beraad op die Afrikavasteland is.
Hy het ook uitgewys dat die Afrika-unie (AU) tydens Indië se voorsitterskap van die G20 in 2023 ook lid van die G20-groep geword het.Modi sê hy sal Indië se visie van “Een aarde, een familie, een toekoms” by die beraad verteenwoordig.
Modi sê dat hy met sy besoek aan Suid-Afrika met die Indiese gemeenskap gaan ontmoet en dat dit een van die grootste Indiese gemeenskappe buite Indië is.– Marelize Barnard
2025-11-21 09:14:10 —
Premier Micheál Martin van Ierland het Vrydag kort voor 11:00 op O.R. Tambo geland vir die G20-leiersberaad die naweek in Nasrec, Johannesburg. Hy is deur Dean Macpherson, minister van openbare werke en infrastruktuur, in die land verwelkom.Foto: GCIS
2025-11-21 09:22:11 —
Jonas Gahr Store, premier van Noorweë, is Vrydagoggend op die O.R. Tambo-lughawe deur Nokuzola Tolashe, minister van maatskaplike ontwikkeling, verwelkom.Foto: GCIS
2025-11-21 09:47:48 — Die G20-leiersberaad is ’n baie belangrike oomblik vir Suid-Afrika, sê adj.pres. Paul Mashatile. “Ons waardeer die ondersteuning,” het hy Vrydagoggend aan Pham Minh Tsjinh, premier van Viëtnam, tydens ’n bilaterale vergadering tussen hulle gesê.
Tsjinh het Vrydagoggend vir die leiersberaad in Suid-Afrika aangekom. Volgens Mashatile is Tsjinh se besoek baie belangrik, veral oor hom en sy land se steun vir Suid-Afrika se G20-presidentskap.
Hy sê pres. Cyril Ramaphosa sal later self met Tsjinh vergader om die bilaterale verhouding tussen die twee lande te verhef tot ’n strategiese verhouding. “Ons is baie bly dat ons in daardie rigting beweeg omdat die verhouding tussen ons en Viëtnam histories baie belangrik is en ons wil aanhou om ons menseverhoudinge, maar ook handel en beleggings tussen ons twee lande te versterk. “Ek weet dat Viëtnam belang stel in ons steenkool en natuurlik ander minerale, so dit is daardie gesprekke wat ons sal hê om handel tussen ons twee lande te verseker.”
Suid-Afrika en Viëtnam hou Vrydagoggend ’n sakeforum in Sandton wat die Viëtnamese ambassade in Suid-Afrika gereël het.– Llewellyn Prince
2025-11-21 09:49:01 —
Adj.pres. Paul Mashatile en Pham Minh Tsjinh, premier van Viëtnam, tydens hul bilaterale vergadering Vrydagoggend.Foto: X/Paul Mashatile
2025-11-21 09:59:47 — - Die groep is in 1999 saamgestel met die doel om nié net die rykste lande van die wêreld in te sluit nie, maar juis ook ontwikkelende lande.
- Een vraag deur die jare is watter werklike verskil die G20 maak, aangesien dit geen bindende besluite kan neem of die meganismes het om woorde in dade te omskep nie.
- Leiers van die Verenigde Nasies, die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds kan ook die verskillende G20-berade as gaste bywoon.
- Soos met ander groot internasionale byeenkomste bied die G20-leiersberaad geleentheid vir die onderskeie afgevaardigdes om mekaar agter geslote deure te ontmoet vir hul eie aparte agendas.
- Die G20 het nie ’n permanente sekretariaat of kantoor nie en die gasheerland wat die jaarlikse presidensie van die G20 oorneem, behartig daardie jaar die administratiewe pligte.
- Die G20 het in der waarheid 21 lede: 19 lande en 2 internasionale organisasies. Die lande is Amerika, Argentinië, Australië, Brasilië, Kanada, China, Frankryk, Duitsland, Indië, Indonesië, Italië, Japan, Mexiko, Suid-Korea, Rusland, Saoedi-Arabië, Suid-Afrika, Turkye en Brittanje en die organisasies is die Afrika-unie en die Europese Unie.– AP
2025-11-21 10:52:09 — Pres. Cyril Ramaphosa het op die vooraand van die G20-leiersberaad met China, Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, ’n bilaterale vergadering gehad.
Ramaphosa het Vrydagoggend die Suid-Afrikaanse afvaardiging tydens die vergadering met Li Qiang, premier van China, en sy afvaardiging in Sandton gelei.
Besonderhede oor wat bespreek is, is nog nie bekend gemaak nie en dit sal bygewerk word sodra meer inligting beskikbaar is.
Pres. Xi Jinping van China en pres. Donald Trump van Amerika, die twee grootste ekonomieë in die wêreld en albei lede van die G20, woon nie die leiersberaad die naweek in Nasrec, Johannesburg, by nie. Terwyl Amerika deelname heeltemal boikot, het Jinping ’n senior afvaardiging gestuur om hom te verteenwoordig.
Pres. Wladimir Poetin van Rusland, soos China ook ’n bondgenoot van Suid-Afrika, woon ook nie die beraad by nie omdat Suid-Afrika hom ingevolge die Statuut van Rome met sy aankoms hier in hegtenis sal moet neem nadat die Internasionale Strafhof ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik het weens beweerde oorlogsmisdade in Oekraïne.– Llewellyn Prince
Pres. Cyril Ramaphosa en Li Qiang, premier van China, tydens hul bilaterale vergadering Vrydag.Foto: GCIS
So het die Suid-Afrikaanse en Chinese afvaardigings Vrydag tydens hul bilaterale vergadering in met mekaar gesels.Foto: GCIS
2025-11-21 11:22:11 — Lug, land en selfs see: Dis hoe G20-gaste in SA veilig gehou word
2025-11-21 11:22:14 — Lug, land en selfs see: Dis hoe G20-gaste in SA veilig gehou word
2025-11-21 11:22:31 — Lug, land en selfs see: Dis hoe G20-gaste in SA veilig gehou word







