2026-06-02 12:15:27 —
2026-06-02 12:20:06 — Daar is tans geen lede van die EFF en die MKP in die sitting van die Nasionale Vergadering teenwoordig waar pres. Cyril Ramaphosa sy begrotingstoespraak lewer nie.
Van die EFF-lede, onder wie Nazier Paulsen, is wel in die Koepel gesien kort voordat die sitting begin het. MKP-lede is ook in die omtrek buite die Koepel gesien.
Die EFF en MKP het voorheen te kenne gegee hulle kan nie verder na Ramaphosa luister terwyl die Phala Phala-kwessie oor sy kop hang nie.
Lede van die MKP en die EFF in ’n vertrek van die Koepel terwyl Ramaphosa elders in die Koepel sy toespraak lewer.Foto: Dennis Delport
2026-06-02 12:33:25 — Amerika en Israel se aanval op Iran dreig om ook Suid-Afrika se ekonomiese herstel te vertraag, sê pres. Cyril Ramaphosa.
Hy het dit Dinsdagmiddag in die parlement gesê toe hy die presidensie se begroting vir 2026-’27 in die Nasionale Vergadering vir debat voorgelê het.
Die aanval op Iran het ’n wêreldwye oliekrisis veroorsaak, het hy gesê.
“Die gevolge is ’n styging in oliepryse en ander kritieke stowwe soos kunsmis, en dit sal waarskynlik baie van die vordering ondermyn wat ons gemaak het om inflasie en die lewenskoste te verlaag.
“Saam met ontwrigtings in die wêreldekonomie sal hierdie ontwikkelings waarskynlik ons ekonomiese groei vertraag, asook ons huidige pogings om werk te skep.”
Weens hierdie kwessies is dit te wagte dat toestande in die onmiddellike toekoms Suid-Afrika se ekonomie vir ’n tyd nadelig sal raak, sê Ramaphosa.
Dit is die eerste begrotingsrede van die presidensie sedert die parlement in Desember ’n nuwe komitee gestig het wat regstreeks oor die presidensie toesig hou.
Ramaphosa het die komitee verwelkom en sy en die presidensie se volle ondersteuning aan die komitee toegesê.– Llewellyn Prince
2026-06-02 12:50:04 — Nadat Ramaphosa sy toespraak afgesluit het, het die LP’s van die MKP en die EFF besluit om weer die sitting by te woon.
Albei partye het sprekers wat binnekort die sitting sal toespreek.
2026-06-02 13:30:58 — Suid-Afrika kan nie alleen die las van immigrasie op die Afrika-vasteland dra nie; buurlande moet ook hul deel van die verantwoordelikheid aanvaar, sê Mdumiseni Ntuli, ANC-hoofsweep.
In die debat oor die presidensie se begroting vir die 2026-’27-boekjaar wat deur pres. Cyril Ramaphosa ter tafel gelê is, het Ntuli ook gesê Suid-Afrika “kan nie alleen al die maatskaplike, administratiewe en veiligheidsgevolge van streekwye onderontwikkeling en ongereelde migrasie dra nie”.
Ander regerings op die vasteland het ook verantwoordelikhede teenoor hul burgers wat in Suid-Afrika woon. “Hulle het ’n verantwoordelikheid om saam te werk ten opsigte van dokumentasie, konsulêre ondersteuning, wetstoepassing, vrywillige terugkeer en die optrede van hul burgers in die buiteland,” sê Ntuli.
Suid-Afrika se bure op die vasteland moet nie te haastig wees om die land te veroordeel weens die jongste betogings teen onwettige immigrasie nie, meen hy. Dit is nie per toeval dat soveel Afrika-migrante na Suid-Afrika stroom nie.
“Dit is die produk van geskiedenis, geografie en ongelyke streekontwikkeling. Ons verwerp xenofobie en geweld teen immigrante, en ons verwerp die demonisering van migrante in Afrika,” sê Ntuli.
’n Ingesteldheid van xenofobie en aanvalle op migrante word toenemend in Suid-Afrika aangeblaas, sê hy.
Honderde leerlinge van twee skole in Kraaifontein buite Kaapstad het onlangs in hul skooluniforms in die strate betoog, stalletjies en winkels geplunder en voertuie – onder meer onderwysers se voertuie by een van die skole – met klippe bestook.
Vroeër is berig dat die organisasie March and March ’n ultimatum gestel het dat alle onwettige immigrante die land teen 30 Junie moet verlaat.– Jason Felix
2026-06-02 13:56:36 — Pres. Cyril Ramaphosa en sy presidensie is tans onder druk weens die Phala Phala-sage, sê dr. Corné Mulder, VF Plus-leier.
“Daar is direkte pogings om u kragtens art. 89 (van die Grondwet) as staatshoof te verwyder, terwyl ander die opsie kragtens art. 102 nastreef om ’n mosie van wantroue deur te voer. Al hierdie dinge hou regstreeks verband met die Phala Phala-aangeleentheid.
“Hierdie kwessie het die potensiaal om u nalatenskap te besoedel en die oorblywende byna drie jaar van u presidentskap te verlam.
“Ek weet dat u geen raad van my nodig het nie, maar my raad sou wees om hierdie kwessie beslissend en met haas te takel. Sit die feite op die tafel en beweeg aan,” het Mulder in die parlement aan Ramaphosa by die begrotingsrede van die presidensie gesê.
Die uitvoerende gesag van die land behoort aan Ramaphosa, sê Mulder. “U, die kabinet en die regering van nasionale eenheid is verantwoordelik vir die ontwikkeling en inwerkingstelling van nasionale beleid. Dit sluit ons beleid oor internasionale betrekkinge in.”
Mulder sê ’n herstel van betrekkinge met Amerika behoort ’n prioriteit te wees omdat dit die land kan bevoordeel.– Llewellyn Prince
2026-06-02 14:49:46 — Pres. Cyril Ramaphosa se aansoek om die verslag deur die onafhanklike paneel oor Phala Phala te hersien sal dié aangeleentheid net verder laat sloer, sê eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier.
Die Phala Phala-skandaal kan nie geïgnoreer word nie omdat dit “steeds ’n donker skaduwee oor die presidensie werp”, het hy gedurende die presidensie se begrotingsrede gesê.
Hy is egter bemoedig deur die onlangse uitspraak in die konstitusionele hof wat daartoe gelei het dat die parlement uiteindelik ’n aanklagkomitee oor die kwessie gestig het.
“Ongelukkig sloer die Phala Phala-skandaal, wat die publiek geskok en diep teleurgestel het, al ses jaar.”
Meshoe sê luidens die verslag van die onafhanklike paneel is dit duidelik dat Ramaphosa ’n saak het om te verantwoord.
“Intussen versoek ek die president om twee eenvoudige vrae te beantwoord wat die publiek ons altyd vra. Eerstens, wie het die geld na die plaas gebring? Tweedens, as die geld die opbrengste van die verkoop van buffels was, soos ons meegedeel is, waarom was dit nodig om dit in ’n rusbank te versteek waar dit later ontdek is?”
Meshoe sê antwoorde hierop sal baie help om die verontwaardiging oor die kwessie te verlig.– Llewellyn Prince
2026-06-02 16:13:48 — Die presidentskap van Cyril Ramaphosa word gekenmerk deur mediaverklarings en beleggingskonferensies terwyl Suid-Afrika gebuk gaan onder armoede.
Dit is volgens Naledi Chirwa, EFF-LP, wat glo Ramaphosa het die verval van die land se ekonomie toegelaat.
“Ons mense moet weet dat die huidige situasie waarin ons land verkeer deur die president veroorsaak is. Hy is ’n president wat aan die slaap is. Hy is net bekommerd oor homself en wil homself beskerm teen ’n moontlike staat van beskuldiging. Die presidentskap word gekenmerk deur mediaverklarings en beleggingskonferensies,” sê Chirwa.
Andile Mngxitama, MKP-LP, sê op sy beurt Ramaphosa het bloed aan sy hande weens die skietdood in 2012 van 34 mynwerkers in Marikana deur die polisie. Hy moes egter dié verwysings asook talle ander opmerkings oor Phala Phala terugtrek.
Cameron Dugmore, ANC-LP, is een van vele LP’s wat Ramaphosa verdedig het.–Jason Felix
2026-06-02 19:05:12 — Die ANC en die DA sluit die debat af nadat die MKP uit die raadsaal gestap het. Die debat sal Woensdag hervat word wanneer Ramaphosa ’n geleentheid sal kry om op die debat te reageer.– Jason Felix
2026-06-03 12:18:33 — Pres. Cyril Ramaphosa sê hy word nie afgelei deur die geskree van sommige partye vir aandag in Dinsdag se debat oor die presidensie se begroting nie.
“Ons word nie afgelei deur politieke teater, geraas of 'n gepronkery vir die verkiesing nie. Ons sal nie afgelei word deur die eng agendas wat niks met die behoeftes, belange of bekommernisse van die mense te doen het nie,” het hy Woensdag in sy repliek op die debat oor die presidensie se begroting vir die 2026-’27-boekjaar gesê.
Volgens Ramaphosa skuif hy dit alles opsy om te fokus op wat gedoen moet word. “Ons fokus is die werk wat gedoen moet word om ons ekonomie te transformeer.” –Llewellyn Prince
2026-06-03 12:24:47 — Pres. Cyril Ramaphosa sê Dinsdag se debat het getoon dat alhoewel LP’s en politieke partye oor beleids- en politieke kwessies verskil, daar algemene ooreenstemming is oor die uitdagings wat die nasie in die gesig staar en die dringendheid waarmee dit opgelos moet word.
Hy sê Suid-Afrikaners verwag dat almal in die parlement nie net bloot die land se probleme moet diagnoseer nie, maar ook moet saamwerk om dit op te los. “Hulle verwag leierskap, verantwoordbaarheid en resultate van ons. Dit is immers waarom hulle ons gesamentlik in hierdie posisie geplaas het waarin ons in die parlement is,” sê Ramaphosa. –Llewellyn Prince
2026-06-03 12:36:27 — Suid-Afrika moet sy direkte buitelandse beleggings verbeter om die ekonomie te kan laat groei, sê pres. Cyril Ramaphosa. Hy sê sommige sprekers in Dinsdag se debat het direkte buitelandse beleggings beskou as iets wat verwerp moet word.
Ramaphosa sê uit die R1 500 miljard se beloofde beleggings wat in die eerste vyf jaar ná Suid-Afrika se eerste beleggingskonferensie verkry is, is altesaam R634 miljard reeds belê in nuwe fabrieke, myne, hernubare-energie-aanlegte, datasentrums en nuwe toerusting.
Hy sê daardie beleggings het werkgeleenthede geskep en onderhou, waardevolle vaardighede ontwikkel en geleenthede vir opkomende sakeondernemings geskep. –Llewellyn Prince
2026-06-03 12:47:48 — Die verliese wat Suid-Afrika weens staatskaping gely het, is baie groter as net die miljarde rande wat verlore gegaan het, sê pres. Cyril Ramaphosa. Hy sê die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het geraam dat meer as R57 miljard deur staatskaping vir die land verlore gegaan het.
Ramaphosa sê die ware koste van staatskaping vir die ekonomie is egter baie meer as dit in verlore beleggings, hoër leenkoste, ineengestorte instellings, verlore ekonomiese groei en werkgeleenthede gemeet word.
Hy sê pogings is aan die gang om alle gesteelde geld te verhaal. Wetstoepassingsagentskappe het tot dusver R17 miljard teruggekry wat weens staatskaping gesteel is.
Ramaphosa sê daar was heftige kritiek oor die Zondo-kommissie wat die land R1 miljard gekos het. “Die opbrengs is egter fenomenaal. Doen die somme.”–Llewellyn Prince
2026-06-03 13:08:44 — Sy benadering tot die parlementêre art. 89-proses oor Phala Phala word soos altyd gelei deur die Grondwet en oppergesag van die reg, sê pres. Cyil Ramaphosa.
Hy sê baie sprekers het Dinsdag in die debat verwys na die art. 89-proses oor Phala Phala.
“Die instellings van ons demokrasie moet toegelaat word om hul werk te doen sonder inmenging en sonder enige vorm van intimidasie. Ek sal voortgaan om die beginsels te handhaaf en die integriteit van my amp te beskerm. Ek sal die werk en gesag van die parlement respekteer en hofuitsprake eerbiedig,” sê hy.
Die repliek sluit af. –Llewellyn Prince








