Vir die eerste keer ooit het die wêreld in die eerste helfte van hierdie jaar meer krag uit hernubare bronne as uit steenkool opgewek.
Sterk groei in die gebruik van son- en windkrag het hiertoe gelei, lui die jongste verslag oor kragverskaffing wat die globale energie-dinkskrum Ember gister uitgereik het.
Vergeleke met die vorige jaar het verskaffing van hernubare bronne met 7,7% gegroei tot 5 072 terawatt-uur (TWh). Steenkoolkrag het gesorg vir 4 896 TWh.
Dit beteken dat 34,3% van die wêreld se krag deur hernubare bronne opgewek is – ’n styging van 32,7% in 2024.
Steenkool se bydrae het van 34,2% tot 33,1% gedaal.
Volgens Ember het kragopwekking met fossielbrandstowwe in Amerika egter toegeneem. In die Europese Unie (EU) het die gebruik van steenkool en gas ook toegeneem weens wind- en hidrokrag en bio-energie wat nie genoeg krag kon lewer nie.
Sonkrag se bydrae tot die wêreld se kragmengsel het van 6,9% tot 8,8% gegroei.
In vier lande het sonkrag in meer as 25% van hul behoeftes voorsien en in minstens 29 lande het dit 10% oorskry.
Ember se verslag oor die veranderinge met kragopwekking van Januarie tot Junie gebruik data van 88 lande, wat 93% van die wêreld se kraggebruik uitmaak en bevat ramings vir die oorblywende wêrelddele.
In dié tydperk het die gebruik van kernkrag ook met 33 TWh (2,5%) toegeneem.
Volgens Ember het die wêreld ’n keerpunt bereik met dalende pryse van son- en windkrag wat aan regerings ’n geleentheid bied om meer ambisieuse teikens vir die gebruik van hernubare bronne te stel.
Die Internasionale Energieagentskap (IEA) het in Julie in ’n verslag voorspel hernubare bronne sou steenkool vanjaar of volgende jaar as die wêreld se grootste kragbron verbysteek.
Terselfdertyd word verwag dat kernkragopwekking rekordhoogtes gaan bereik, grootliks danksy nuwe aanlegte wat in Asië gebou word.
Saam met ’n toename in die gebruik van aardgas kan dit daartoe lei dat die vrystelling van koolstofdioksied vir kragopwekking vanjaar ’n plato bereik en in 2026 effens afneem.
) Private sonkragstelsels voorsien volgens die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) nou in byna 5% van Suid-Afrika se kragaanvraag, is vandeesweek berig.
Dit kom neer op 5,3 TWh wat teen Junie gelewer is, vergeleke met 4,7 TWh van die Koeberg-kernkragstasie in dieselfde tydperk waartydens slegs een eenheid in bedryf was.
Die opwekkingsvermoë van dié stelsels het sedert 2021 met 403,7% gestyg.
















