Die bevolking van armer lande soos Suid-Afrika ontwikkel vroeër op hul oudag probleme daarmee om te loop, as in meer welgestelde lande soos Kanada en Swede, volgens ’n studie deur die Universiteit van die Wes-Kaapland (UWK).
Mense se vermoë om te loop word in die algemeen beskou as een van die belangrikste aanwysers van gesonde veroudering omdat dit mense in staat stel om onafhanklik te bly, sosiale verbintenis te handhaaf en ’n beter gehalte van lewe te geniet. In ’n nuwe studie deur onder meer prof. Rina Swart, hoof van die departement van dieetkunde en voeding by die UWK, is bevind dat mense wat in middelinkomste lande, insluitend Suid-Afrika, en lae inkomste lande woon, hul mobiliteit vroeër verloor as diegene in meer welgestelde lande.
Mense in armer lande ontwikkel probleme om te loop tot gemiddeld twaalf jaar vroeër, een van die tekens wat die nagevolge van ongelyke lewensomstandighede beklemtoon.
Die studie is pas in die vaktydskrif The Lancet gepubliseer. Swart was deel van die internasionale span navorsers wat tot die studie bygedra het.
Prof. Thandi Puoane, hoof van die UWK se departement van openbare gesondheid, het die studie in 2009 begin en meer as 122 000 volwassenes is oor meer as 15 jaar gevolg. Data oor die verskil in hul diëte, fisieke aktiwiteit en omgewingsfaktore en hoe dit hul gesondheid beïnvloed is ingesamel. Die impak van inkomstevlakke op chroniese siektes soos vetsug en diabetes is ook in die verskillende lande bestudeer.
Suid-Afrika het deelnemers uit vier verskillende omgewings by die studie ingesluit - een stedelike en een landelike gebied in Noordwes, een stedelike gebied in Langa (Wes-Kaap) en een landelike gebied in Mount Frere in die Oos-Kaap.
Deelnemers is gevra of hulle enige moeite ondervind met daaglikse funksies soos loop, gryp van voorwerpe, buig, naby of van ver af sien of hul gehoor.
Met die fokus op loop beperkings het navorsers gevind dat loop beperkings die hoogste was in lae-inkomste lande (Bangladesh, Indië, Pakistan, Tanzanië en Zimbabwe) met 3,34 nuwe gevalle per 100 mense jare. Dit beteken ongeveer drie tot vier uit elke 100 mense het elke jaar ’n beperking om te loop ontwikkel.
Hierdie syfer was byna dubbel die koers wat in middelinkomste-lande soos Suid-Afrika, Brasilië, Rusland en Argentinië gesien is, waar 1,8 nuwe loop beperkings per 100 mense jare aangeteken is.
Hoë-inkomste lande wat deel van die studie was soos Kanada, Swede, die Verenigde Arabiese Emirate en Saoedi-Arabië het minder gevalle van loop beperkings opgeteken - ongeveer 1,31 gevalle per 100 mense jare. China het die laagste voorkoms gehad met 0,58 gevalle per 100 mense jare.
Die studie het bevind dat laer opvoedingsvlakke, laer inkomste, hipertensie, voorvalle soos beroerte en ’n groter las van chroniese siektes almal geassosieer is met ’n vroeër aanvang van probleme om te loop.
In middel- en lae-inkomste lande is beperkte fisieke aktiwiteit en faktore soos ’n gebrek aan sypaadjies, ongelyke paaie en onveilige omgewings ook verbind met verminderde mobiliteit. Daarenteen was vetsug die vernaamste bydraer tot probleme om te loop in hoë-inkomste lande.
Baie van dieselfde faktore wat die risiko van loop beperkings verhoog het, het ook die risiko van voortydige dood verhoog, is deur die studie bepaal.






