Virginia Giuffre (41), wat prins Andrew van Brittanje (65) en Jeffrey Epstein van seksuele aanranding beskuldig het, beskryf die prins in haar memoires “as ’n meester-manipuleerder wat gevoel het hy is geregtig daarop om seks met haar te hê”.
Giuffre het in April vanjaar haar eie lewe geneem.

Haar memoires, Nobody’s Girl: A Memoir of Surviving Abuse and Fighting for Justice, word op 21 Oktober gepubliseer.
Uittreksels van die boek is Woensdag gepubliseer. Guiffre het die manuskrip vir die boek van 400 bladsye voltooi en saam met die skrywer en joernalis Amy Wallace daaraan gewerk.
Guiffre het in verskeie siviele regsgedinge beweer dat sy as tiener ’n spa-assistent by Mar-a-Lago, pres. Donald Trump van Amerika se woning in Palm Beach, Florida, was toe sy in 2000 deur Ghislaine Maxwell, Epstein se medepligtige, genader is. Sy is as ’n masseuse vir Epstein aangestel en is op sy versoek wêreldwyd rondgevlieg vir ontmoetings met mans toe sy 17 en 18 jaar oud was.

Andrew het nog altyd volgehou hy is onskuldig, hoewel hy en Giuffre in 2022 vir ’n onbekende bedrag buite die hof geskik het.

The Telegraph berig Giuffre skryf in die boek: “Ek het sedertdien baie gedink oor hoe hy opgetree het. Hy was vriendelik genoeg, maar eiegeregtig, asof hy gedink het dat seks met my sy geboortereg was.”
Guiffre het beweer Andrew het haar op drie verskillende geleenthede verkrag en mishandel toe sy 17 was. Die eerste keer was na bewering in Maart 2001 toe sy vir sekshandel na Londen geneem is.
Guiffre beskryf haar eerste ontmoeting met Andrew, luidens ’n uittreksel wat deurThe Guardiangepubliseer is.
Maxwell het haar na bewering daardie oggend in haar huis in Londen wakker gemaak en gesê dit gaan ’n spesiale dag wees omdat Andrew hom vir aandete by hulle sou aansluit. Die prins was 41 jaar oud.
Toe Maxwell haar aan Andrew voorstel, het sy (Maxwell) die prins gevra om te skat hoe oud sy is. Hy het reg geskat dat sy 17 jaar oud is.
Volgens Guiffre het die prins toe gesê sy dogters is ’n bietjie jonger as sy.
“Ek dink ons sal haar binnekort moet inruil,” het Maxwell glo geskerts.
Volgens Guiffre was Andrew se voorkoms destyds anders as vandag. Hy was fiks met kort bruin hare en “jeugdige oë”. Hy was lank bekend as die pierewaaiervan die koninklike familie, skryf Guiffre.
Benewens Andrew beweer Guiffre in die boek sy is aangesê om seks met verskeie bekende vriende en kennisse van Epstein te hê, berigThe Washington Post.
Maxwell het ontken dat sy aan seksuele mishandeling deelgeneem het, en gesê Giuffre lieg.
Trump se destydse vriendskap met Epstein is die laaste paar maande onder die loep en die Trump-administrasie se hantering van die ondersoek na Epstein is gekritiseer.
Giuffre kritiseer ook die hantering van die ondersoek in die laaste bladsye van haar boek. Sy vra waar die video-opnames is wat die federale speurdiens (FBI) uit Epstein se huise gekonfiskeer het en hoekom dit nog nie tot die vervolging van nog mishandelaars gelei het nie.
Epstein het homself in 2019 in ’n tronk in New York om die lewe gebring terwyl hy verhoorafwagtend was op aanklag van sekshandel.
Maxwell is in 2021 skuldig bevind op vyf aanklagte van sekshandel vir haar aandeel in die werwing van jong meisies sodat Epstein hulle kon misbruik.















