Toets

Slenters en duur lesse daaruit: Marcus Jooste en Steinhoff

m
m (Netwerk24)

Beleggers en potensiële beleggers word gereeld om die bos gelei om in bedenklike beleggingskemas te belê – dit wil sê skemas waarin beleggers eintlik net hul geld verloor. Hierdie skemas staan bekend as slenters, piramideskemas en Ponzi-skemas en is eintlik maar net ’n bedrogspul. Theo en Mia stel ondersoek in na die sewe bekendste van dié tipe slenters en die duur lesse wat daaruit geleer kan word. Hulle gee ook raad oor hoe om die gevaartekens raak te sien om nie deur so ’n skelmstreek uitgevang te word nie. Die vyfde slenter onder bespreking is Steinhoff, die grootste korporatiewe skandaal in Suid-Afrika se geskiedenis.

Steinhoff was een van Suid-Afrika se grootste en suksesvolste maatskappye, met ’n markwaarde van sowat R200 miljard en belange in Europa, die VSA en Suid-Afrika. Die maatskappy het egter in Desember 2017 in duie gestort toe dit aan die lig gekom het dat die finansiële syfers vervals is. Beleggers het uiteindelik slegs enkele sente vir elke rand van hul belegging teruggekry.

Wat is die Steinhoff-skandaal?

Die oorsaak van die Steinhoff-skandaal is vervalsde transaksies, fiktiewe entiteite en opgeblaasde winste. Hoewel die meerderheid werknemers eerlike, hardwerkende mense was, het ’n klein groep binne die Steinhoff-bestuur onetiese praktyke gevolg. Toe die ouditeure weier om 2017 se finansiële state goed te keur, het die waarheid aan die lig gekom en die maatskappy vinnig ineengestort.

Markus Jooste, ’n intelligente en charismatiese sakeman, het Steinhoff van ’n klein meubelonderneming opgebou tot ’n internasionale konglomeraat met belange in Europa, die VSA en Suid-Afrika. Hy het die beeld van ’n briljante sakeleier gehandhaaf, en beleggers, ouditeure en selfs die publiek het vertrou dat Steinhoff se sake eerlik verloop.

Steinhoff het hoëprofiel-ouditeure gehad en is op die Johannesburgse Effektebeurs sowel as die Duitse beurs genoteer. Die meerderheid van die Steinhoff-besighede, soos Pep Stores, was ook gesonde, suksesvolle ondernemings. Maar ongelukkig is die finansiële data van Steinhoff gemanipuleer om ’n vals indruk te skep:

  • Winssyfers is opgeblaas.
  • Fiktiewe maatskappye is geskep om transaksies te laat lyk asof hulle bestaan.
  • Fakture en rekords is vervals om beter resultate te toon.

Hoe het die Steinhoff-skandaal ontvou?

Toe die ouditeure uiteindelik weier om die 2017- finansiële state af te teken, het sake begin ontrafel. Jooste het ook nie by ’n kritieke vergadering opgedaag nie, en die mark het onmiddellik gereageer: Die aandeelprys het van meer as R60 geval na slegs ’n paar sente. Ondersoeke het groot onreëlmatighede ontbloot, en die maatskappy het ineengestort.

In 2024 het Jooste sy eie lewe geneem terwyl hofsake steeds aan die gang was, en die finansiële direkteur van Steinhoff is tronk toe.

Waarom is daar vir lank nie onraad vermoed nie?

Beleggers het staatgemaak op die goedgekeurde finansiële state en die reputasie van vertroude ouditeursfirmas soos Deloitte. Hulle het geglo dat die maatskappy se bestuur eerlik en professioneel is. Jooste se charisma, die maatskappy se internasionale status, en die positiewe winsverslae het bygedra tot vals beleggersvertroue.

Watter lesse is daar uit Steinhoff te leer?

Die belangrikste les is om nooit al jou eiers in een mandjie te sit nie. Selfs ’n genoteerde maatskappy met vertroude ouditeure kan misluk.

Beleggers moet daarom:

  • Hul beleggings diversifiseer oor verskillende sektore en bateklasse.
  • Nie blindelings op reputasie of charisma staatmaak nie.
  • Krities kyk na beskikbare finansiële inligting en die partye daaragter.

Markus Jooste se storie is tragies, nie net vir hom en sy familie nie, maar vir die duisende eerlike mense wat by Steinhoff gewerk het of daarin belê het. Dit is ’n waarskuwing aan beleggers om altyd versigtig te wees, hoe belowend ’n maatskappy ook al lyk.

LUISTER AL DIE EPISODES HIER:

Die menings wat deur die aanbieders en gaste uitgespreek word, is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.