Toets

UJ ‘verander nooddiens-landskap’ met nuwe opleidingsentrum

**VOEG VIDEO BY: https://www.youtube.com/watch?v=nsoo-PyxKjk

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) het die eerste reddingsimulasiesentrum in die land gebou, wat die potensiaal het om die opleiding- en navorsingslandskap te verander.

Die UJ Rescue Simulation Centre (URSC), wat op die UJ se Doornfontein-kampus gebou is, is Vrydag amptelik geopen en kan volgens prof. Letlhokwa George Mpedi, visekanselier en rektor, ’n sleutelrol speel in die verbetering van nasionale paraatheid en die bevordering van professionele reddingsvermoëns.

“Met hierdie moderne reddingsimulasiesentrum herdefinieer ons hoe noodreaksie-opleiding op die vasteland aangebied word,” het Mpedi in ’n verklaring gesê.

“Dit is nou nie meer nodig om oorsee te reis vir wêreldklas-reddingsopleiding nie. Dié sentrum is vir UJ ’n belegging in veiligheid en vaardighede.”

Die vierverdieping-sentrum is in samewerking met die universiteit se departement mediese wetenskappe op die been gebring.

Die gebou van 3 000 m² bied volgens Mpedi “ ’n diverse reeks koste-effektiewe, toeganklike en omvattende leerervarings”.

“Dié projek gaan oor toeganklikheid, gehalte en nasionale impak,” sê Mpedi.

“Ons skep geleenthede vir studente, professionele persone en nywerhede om wêreldklasopleiding plaaslik te ontvang, terwyl ons die kapasiteit van Suid-Afrika en die breër vasteland bou om effektief op toekomstige noodgevalle te reageer.”

Die URSC word ondersteun deur die departement van hoër onderwys en opleiding, en simuleer verskeie noodsituasies.

Die sentrum sluit in:

• ’n Swembad van 5 m diep vir waterreddingsopleiding uit die lug sowel as onder water.

• ’n Helikoptersimuleerder vir “nat” en “droë” ophysingoperasies.

• Simulasiesones vir ligte-vliegtuig-veiligheid en -pasiëntsorg.

• ’n Stedelike soek-en-reddingsarea in die kelderverdieping.

• ’n 30-sitplek vliegtuigromp vir massa-ongevalle-simulasies.

• ’n Voor van 3 m diep vir reddingsimulasies met omgewingstelsels wat reën, wind, golwe en donkerte naboots vir interaktiewe opleiding.

Connor Hartnady, ’n dosent in die departement noodmediesesorg en een van Suid-Afrika se mees ervare noodreaksie-spesialiste, meen die URSC oorbrug ’n kritieke gaping tussen teorie en praktiese ervaring.

“Die sentrum rus spanne toe met die hulpbronne en praktiese ervaring wat hulle nodig het om effektief te reageer, lewens te red en risiko te bestuur,” het Hartnady gesê.

“Natuurrampe neem toe, verstedeliking ontwikkel vinnig, en noodgevalle word meer kompleks. Die sentrum berei reaksiespanne nie net voor vir Suid-Afrikaanse toestande nie, maar vir uitdagings oor die vasteland heen.”

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM