Die ANC se integriteitskomitee sal min tot niks kan verander aan die party se kandidatelys vir die Mei-verkiesing. Die komitee vergader dié week om die lys te evalueer nadat die party hewig gekritiseer is omdat verskeie gediskrediteerde ANC-figure die lys gehaal het.
Gwede Mantashe, ANC-voorsitter en een van pres. Cyril Ramaphosa se vertrouelinge, sê mense besef nie dat die samestelling van die ANC se lys " 'n voorgeskrewe demokratiese proses is" nie. Ramaphosa se naam is bo-aan die lys omdat die meeste takke hom benoem het. "Ek is in die derde plek omdat die derde meeste takke my benoem het, en so aan.
"Daar is geen rookgevulde kamers waar iemand besluit wie gaan parlement toe en wie nie. Dis beslissings wat die takke bepaal," het hy gesê.
Dit maak dit moeilik om aan die lys te verander, selfs al hou dit vir die ANC 'n verleentheid in. Oproepe sedert die party se lyskonferensie in Januarie dat sekere benoemde kandidate hul kandidatuur terugtrek indien hulle betrek is by staatskaping en ander skandale, het min aan die saak verander.
"Daardie oproepe is gemik op die kandidaat se gewete. Dis gemik daarop om die kandidaat te vra om die party se belange bo sy eie te stel. Maar dis politiek dié, dis nie 'n vereniging van engele nie het. Die meeste het hardnekkig geweier," sê hy.
'n Ander bron in Luthuli-huis het gesê Ramaphosa se vertrouelinge het 'n fout gemaak deur te min aandag aan die benoemingsproses te gee.
"Hulle het te veel staatgemaak op Ramaphosa se gewildheid. Die Zuma-ondersteuners aan die ander kant het daarop gefokus om hul mense te benoem," het dié bron gesê.
Daar kan volgens hom 'n element van waarheid wees in die beskuldigings dat Magashule, sekretaris-generaal, met die benoemingslyste gepeuter het, maar sy ruimte om dit te doen, is ook beperk.
"Wanneer die benoemings van takke ontvang en geopen word, slaan die uur van waarheid vir almal," het dié bron gesê.
Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal, het Dinsdag aangekondig die nasionale uitvoerende komitee (NUK) wil die hele lys aan die integriteitskomitee voorlê vir oorweging.
Maar dis van min belang, se die bron.
"Die integriteitskomitee het geen besluitnemingsmag nie. Dis bloot 'n poging om kiesers te mislei omdat die kandidatelys so 'n verleentheid geword het," sê hy.
Die integriteitskomitee sal waarskynlik van die kandidate wat die ergste verleentheid veroorsaak, vra om opsy te staan. Dié lede kan dit vrywillig doen, maar dis hoogs onwaarskynlik. Net die ANC se NUK kan ‘n kandidaat verplig om te bedank wanneer die integriteitskomitee dit aanbeveel.
Dipuo Letsatsi-Duba, minister van staatsveiligheid, het Magashule voorverlede week daarvan beskuldig dat hy die kandidatelyste beknoei het.
‘n Bron in die Vrystaatse ANC sê onmiddellik daarna het Magashule in sy tuisprovinsie verkiesingsvergaderings toegespreek.
In private ontmoetings met vertrouelinge het hy gesê hy verwag hy gaan gevra word om "opsy te staan" of om geskors te word voordat Ramaphosa rondom 14 Mei sy nuwe kabinet bekend maak.
Hy het toe al geweet die boek van Pieter-Louis Myburgh oor hom, sy netwerk en sy aanvoorwerk vir die Guptas sou 'n paar dae later verskyn. Hy het verwag dat die gesamentlike druk van die Letsatsi-Duba en die boek daartoe gaan lei dat die integriteitskomitee gevra word om hom te ondersoek.
Magashule het egter nie verwag dat Mxolisi Dukwana, voormalige Vrystaatse LUR, reeds Donderdag en Vrydag voor die Zondo-kommissie sou getuig hoe Magashule hom probeer werf het vir staatskaping ten gunste van die Guptas nie.
"Dukwana sou eers in Junie voor regter Zondo verskyn het. Dis dodelike getuienis wat sy posisie nog moeiliker maak," het die bron gesê.














