Verkiesings 2019

Bobani kap na ANC oor spelfout

Die ANC in Nelson Mandelabaai is in die verleentheid gestel weens 'n enorme advertensiebord met 'n spelfout daarop.

Die advertensiebord, met 'n foto van 'n glimlaggende Ramaphosa daarop, lui: "Let's grow South Africa togher. Vote ANC 8 May 2019."

Die ANC in Nelson Mandelabaai het Dinsdag inderhaas planne gemaak om ’n advertensiebord waarop daar ’n spelfout is te verwyder. Werkers in Cotswold het Dinsdagmiddag dié advertensiebord verwyder. Foto: Lulama Zenzile
Die ANC in Nelson Mandelabaai het Dinsdag inderhaas planne gemaak om ’n advertensiebord waarop daar ’n spelfout is te verwyder. Werkers in Cotswold het Dinsdagmiddag dié advertensiebord verwyder. Foto: Lulama Zenzile (Foto: Lulama Zenzile/Netwerk24)

Die woord "together" is verkeerdelik as "togher" gespel.

Terwyl die regerende party Dinsdag inderhaas planne beraam het om die advertensiebord te verwyder, het Mongameli Bobani, die Nelson Mandelabaai-burgemeester van die UDM, dié blaps gebruik om sy koalisievennoot te kritiseer.

Renaldo Gouws van die DA het ook op Twitter oor die fout geskerts en gesê baie ANC-advertensieborde met spelfoute daarop steek in die metro kop uit.

Bobani se uitlating op Twitter oor die ANC wat nie kan spel nie, kom kort nadat pres. Cyril Ramaphosa gesê het koalisieregerings werk nooit goed nie en slegs een hoofparty is nodig om te regeer.

Oscar Mabuyane, voorsitter van die ANC in die Oos-Kaap, het Sondag 'n derde keer die afgelope week gesê dat die koalisieregering in die metro nie werk nie en dat die ANC alleen moet regeer.

In een van sy twiets sê Bobani: "Ons neem kennis van die uitlatings deur die president van die ANC, sowel as die Oos-Kaapse voorsitter. Ons is nie seker watter gronde daar vir die uitlatings is nie, want ons het nog geen formele versoek oor ons vordering gekry nie."

'n Dag later het Bobani, met verwysing na die advertensiebord, gesê die ANC wil die koalisieregering in die metro pak, maar hy kan nie sy spelfoute regmaak nie.

Sy inskrywing lui: "Wanna fix #NMBCoalition but can't even fix the spelling. #HolaMatamela."

Die advertensiebord is leeg nadat die foutiewe advertensie verwyder is.
Die advertensiebord is leeg nadat die foutiewe advertensie verwyder is. (Netwerk24)

Die ANC het Dinsdag in 'n verklaring gesê hy dra kennis van die fout. Die regerende party sê hy gebruik 'n diensverskaffer en dat dié diensverskaffer die advertensiebord met die spelfout daarop opgerig het.

"Ons het die diensverskaffer die opdrag gegee om die advertensiebord met die spelfout dadelik te verwyder. Dit is vervang met een met die korrekte spelling, soos aan hulle verskaf is."

Die ANC sê verder hy weet dat die fout deur opposisiepartye gebruik word in 'n poging om die werk van die ANC onder verdenking te bring.

"Dit is vir ons 'n teken dat die opposisiepartye niks het om die kiesers te bied in die aanloop tot die verkiesing nie. Hulle fokus hul verkiesingsveldtogte op klein foutjies," lui die ANC se verklaring.

"Ons is vol vertroue oor die steun wat ons gewerf het sedert die begin van ons verkiesingsveldtog en ons gaan nie toelaat dat 'n menslike fout, wat deur 'n diensverskaffer gemaak is, ons van koers bring nie."

Lynn Williams

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM