'n Boervrou van Harrismith in die Vrystaat wat in 2015 wreed deur plaasaanvallers aangerand en verkrag is, het Woensdagoggend by 'n DA-optog in Bloemfontein gesê sy wil mense se aandag op boere en hul werkers se behoeftes vestig.

'n Handjievol DA-ondersteuners onder leiding van Patricia Kopane, DA-premierskandidaat vir die Vrystaat, Natasha Mazzone, DA-LP en woordvoerder van die party se Team One SA-verkiesingsveldtog, en Anette Steyn, DA-woordvoerder oor landbou, het na die polisie se provinsiale hoofkantoor in die Bloemfonteinse middestad gestap om 'n griefskrif te oorhandig.
Die doel van die optog was om die aandag op landelike veiligheid, en veral die lot van vroue, te vestig.
Alison Oates, 'n weduwee en beesboer van die plaas Oatsdale, is in Oktober 2015 op haar plaas aangeval, verskeie kere met 'n mes gesteek en met 'n strykyster gebrand voordat sy verkrag is.
Sy het die optoggangers Woensdag van dié nagmerrie-ondervinding vertel.
As verkragtingslagoffer het sy destyds toestemming gegee dat haar naam genoem mag word.
"Ek is nie hier om myself te help nie, maar as ons nie sê dat genoeg genoeg is nie, sal dit net voortgaan. Dit is hoekom ek my stem laat hoor."
Sy het gesê vir mense is misdaad dikwels net statistieke, maar as jy diegene sien met wie dit gebeur het, kan dinge dalk verander.
Volgens Oates het sy destyds besluit dat daar iets goeds uit hierdie "verskriklike" aanval moet kom. Geregtigheid neem lank, sê sy.
"Ek is hier om mense se aandag op die behoeftes van boere en plaaswerkers te fokus. Hulle is baie kwesbaar en het ons hulp nodig. Ons kry dit nie onder die huidige regering nie."
Volgens Oates is net een persoon vir die aanval op haar in hegtenis geneem en steeds sloer die saak.

"Vrystaat Landbou (VL) het my gehelp. Ons het gekarring totdat iets gebeur het. Dit het nie gelyk asof die polisie die vermoë of energie gehad het om die saak op te los nie."
Volgens Oates is niemand meer veilig op 'n plaas nie. "Elke liewe boer moet elke dag aanvaar dat daar probleme kan kom."
Sy is egter lief vir haar plaas en bly steeds daar met bykomende veiligheidsmaatreëls.
Kopane het gesê hulle het opgeruk omdat vroue vermoor en verkrag word omdat die polisie nie die nodige hulpbronne het om mense in landelike gebiede te beskerm nie.




"As die DA sê ons ons is moeg dat ons mense vermoor en verkrag word, en moeg vir die polisie se gebrek aan hulpbronne en gespesialiseerde kapasiteit om ondersoekwerk te doen.
"Baie sake word aangemeld, maar dit word van die hofrol geskrap omdat daar nie genoeg bewyse is nie. Dit is duidelik dat die polisie nie die nodige hulpbronne het om dié soort misdade te ondersoek nie."
Volgens haar het pres. Cyril Ramaphosa meer as 30 polisiebeamptes vir beskerming om hom, terwyl arm boere en plaaswerkers aan bose aanvalle blootgestel is.
Die DA wil hê die polisie se eenhede vir landelike veiligheid moet weer op die been gebring word en die misdaadintelligensie-eenheid moet gebruik word om proaktief te op te tree.
Mazzone het hierop gesê dit is nie politiekery nie, dit is eenvoudig een van Kopane se beloftes vir wanneer sy premier van die provinsie word.
"Dit is hoe sy gaan verseker dat boere en plaaswerkers hul vrede en mag terugvat en weer veilig voel om op hul plase te werk en te bly."




















