Die Verkiesingskommissie (OVK) het Dinsdag aangekondig dat minstens 770 000 van die kiesers spesiale stemme gaan uitbring in die nasionale verkiesing.
Mense wat nie op 8 Mei by hul stembusse kan uitkom nie, moes teen 18 April geregistreer het om 'n spesiale stem op of 6 of 7 Mei uit te bring.
Die getal mense wat ingevolge die proses aansoek gedoen het, is 774 094. Dit is dubbel die getal spesiale stemme in die 2014-verkiesing.
Die OVK sê in 'n verklaring dat minstens 58,4% (452 418 mense) van dié geregistreerde spesiale kiesers by hul huis sal stem wanneer beamptes by hul huise aanklop. Mense wat by hul huis kan stem, is kiesers wat weens fisieke of geestelike swakhede, ongeskiktheid of swangerskap nie na 'n stemlokaal kan gaan nie.
Die OVK sê die res van die kiesers sal na verwagting hul kruisies tussen 09:00 en 17:00 of op 6 of 7 Mei by hul stemlokale trek.
Die OVK het die publiek verseker dat die spesiale-kiesers-proses onder streng maatreëls sal geskied.
Meer as 22 000 stemlokale sal landwyd op 8 Mei oop wees vir wanneer die res van die geregistreerde kiesers hul stemme uitbring.















