Verkiesings 2019

Cyril gee ANC se kans by stembus groot hupstoot

Kiesers het twee keer meer vertroue in pres. Cyril Ramaphosa as in sy voorganger, oudpres. Jacob Zuma, het nuwe navorsing bevind.

Dit beteken onder meer dat Ramaphosa se verkiesing tot partyleier en staatshoof die ANC se vooruitsigte in die komende verkiesing 'n groot hupstoot gegee het.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: Deaan Vivier
Pres. Cyril RamaphosaFoto: Deaan Vivier

Die navorsing, wat deur die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Sentrum vir Maatskaplike Ontwikkeling in Afrika (CSDA) en sy departement van politiek en internasionale politiek gedoen is, dui daarop dat Ramaphosa 'n "beduidende" uitwerking gaan hê op die nasionale en provinsiale verkiesings.

"Ramaphosa het beslis die spel verander," sê prof. Leila Patel van die CSDA oor die resultate van hul studie van drie jaar.

Dit dui daarop dat kiesers se vertroue in die president tans op 55% staan, teenoor die 26% tydens Zuma se bewind.

Patel sê sedert Ramaphosa oorgeneem het, het vertroue in regeringsinstellings, soos die parlement en die polisie, ook toegeneem.

Hul navorsing dui daarop dat Ramaphosa die "enkele belangrikste voorspeller van kiesersvoorkeure ten gunste van die regerende party is", sê sy.

Die navorsing is tussen November en Desember verlede jaar onder 3 431 kiesers gedoen.

Volgens die CSDA was hul steekproef "betroubaar verteenwoordigend" van die 38 miljoen potensiële kiesers in die land.

56% van die respondente het gesê hulle sal op 8 Mei vir die ANC stem. Dit is 'n styging van drie persentasiepunte teenoor die 53% steun wat die party volgens die vorige peiling gehad het, wat tussen 2014 en 2017 gedoen is.

Maar 48% van alle respondente sê die een rede waarom hulle vir 'n bepaalde party stem, is ‘omdat hulle maatskaplike toelaes betaal en ek is bang 'n ander party sal dit stopsit.

—  Prof. Leila Patel

Respondente se steun vir die DA het van 22% tot 13% gedaal, terwyl die EFF se steun van 6% tot 9% gestyg het.

Een van die navorsers, dr. Vicky Graham, het gesê die DA se verswakte posisie kan toegeskryf word aan sy besluiteloosheid oor sekere sake.

Sy noem die party se gedrag "onsamehangend".

"Oor ras of breë swart ekonomiese bemagtiging is daar steun en dan skielik weer nie steun nie. Daar is 'n geskiedenis daarvan.

"Daar was ook 'n reeks betreurenswaardige voorvalle in die DA wat hiertoe kon gelei het," het sy gesê.

Volgens die navorsing is die vrees om hul maatskaplike toelae te verloor, een van die groot dryfvere agter kiesers se besluit oor waar hulle hul kruisie sal trek.

"Sowat 'n derde (30%) van die respondente kry 'n maatskaplike toelae.

"Maar 48% van alle respondente sê die een rede waarom hulle vir 'n bepaalde party stem, is ‘omdat hulle maatskaplike toelaes betaal en ek is bang 'n ander party sal dit stopsit'," het Patel gesê.

"Dit is 'n skerp toename teenoor die 14,6% in die 2014-opname. Dit dui daarop, soos in die verlede, dat dit nie die toelaes opsigself is wat mense vir die regerende party laat stem nie, maar die vrees dat 'n ander party dit sal staak indien hy aan die bewind sou kom."

Bonolo Selebano

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM