Verkiesings 2019

Cyril: SA glas halfvol eerder as halfleeg

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand op 'n ANC-byeenkoms in Sandton, Johannesburg, gewaarsku diegene wat die "hernuwing van Suid-Afrika" teenstaan, sal nie suksesvol wees nie.

Die byeenkoms is geadverteer as 'n vergadering met die wit gemeenskap, maar 'n gemengde gehoor het die klein saal stampvol gesit.

Hy het geen name genoem nie, maar gesê die wat probeer terugveg, sal verslaan word. Die ANC-leier sê die land sal terugkeer "na die regte manier van dinge doen".

"Suid-Afrikaners is siek en sat vir alles wat in die verlede verkeerd was. Die hernuwingsproses om die swak manier van dinge doen, om te keer, is besig om momentum te kry."

Suid-Afrikaners is siek en sat vir alles wat in die verlede verkeerd was. Die hernuwingsproses om die swak manier van dinge doen, om te keer, is besig om momentum te kry.

Ramaphosa sê Suid-Afrika is nou gefokus daarop om van korrupsie ontslae te raak: "Ons almal in dié land sal moet saamwerk as ons 'n suksesvolle Suid-Afrika wil hê."

Eskom is die land se grootste kopseer.

"Wanneer ek soggens wakker word, kry ek SMS-boodskappe van die minister van openbare ondernemings (Pravin Gordhan) oor die situasie met die kragnetwerk," sê Ramaphosa.

Hy sê Suid-Afrikaners is soms te haastig en wil onmiddellike oplossings sien.

Die ANC is daartoe verbind om na die kernbeginsels terug te keer wat hy onder leiers soos Nelson Mandela, Oliver Tambo en Walter Sisulu gehad het.

"Hy sal na sy ou integriteit terugkeer. Die ANC is onherroeplik daartoe verbind om sy beeld te verbeter. Hou maar dop."

Hy sal na sy ou integriteit terugkeer. Die ANC is onherroeplik daartoe verbind om sy beeld te verbeter. Hou maar dop.

Hy sê baie Afrikaners het sedert 1994 die nuwe orde in Suid-Afrika omarm en doen hul deel vir die land.

Ramaphosa is deur 'n Afrikaanssprekende man gevra wat hy gaan doen om wit Suid-Afrikaners in die land te laat "tuis voel" en nie die land met hul families te verlaat nie.

Hy het aan Ramaphosa gesê hy is "geen groot aanhanger van die ANC nie, maar het moed gekry toe Roelf Meyer iets oor jou gesê het wat my laat besef het jy kan die hoop wees wat ons nodig het".

Ramaphosa het geantwoord Suid-Afrika is die mees diverse land ter wêreld met " 'n mosaïek van bevolkingsgroepe". Baie Afrikaners is bereid om van die land 'n sukses te maak.

Met verwysing na Meyer, wat destyds die Nasionale Party se hoofonderhandelaar was toe Ramaphosa die ANC se onderhandelingspan gelei het, het die president gesê hy doen goeie en uitstekende werk in die nuwe Suid-Afrika.

"Hy (Meyer) is 'n wonderlike ambassadeur vir Suid-Afrika met die werk wat hy oor die wêreld heen doen om konflik te help besleg."

Aan 'n ander vraesteller wat ook gekla het hy voel nie meer tuis in die land nie, het Ramaphosa gesê hy is jammer om dit te hoor.

"Bly hier, dit is die beste plek ter wêreld. Ons het foute gemaak, maar die glas hier is halfvol, eerder as halfleeg."

Bly hier, dit is die beste plek ter wêreld. Ons het foute gemaak, maar die glas hier is halfvol, eerder as halfleeg.

Dit is baie belangrik dat die land verenig moet wees. Ongelukkig het rassisme dié land oor baie jare groot skade berokken.

"Dit was een van my opdragte van die ANC se nasionale konferensie in 2018 om die land te herenig in 'n enkele nasie. Alle Suid-Afrikaners kan help om van die land 'n sukses te maak.

"Ons het in die verlede die wêreld verkeerd bewys, toe mense destyds gedink het ons stuur af op 'n burgeroorlog. Uit ons verlede het ons baie lesse geleer."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM