
Die DA sê pres. Cyril Ramaphosa se viering van Vryheidsdag in Makhanda (Grahamstad) in die Oos-Kaap is 'n klap in die gesig van plaaslike mense wat vir maande nie eens water gehad het nie, en ná al die jare ook nie ware vryheid nie.
LEES OOK: Ontlasting geslinger toe Ramaphosa Makhanda toespreek
Nqaba Bhanga, die DA se premierskandidaat in die Oos-Kaap, sê nie net Makhanda nie, maar verskeie dorpe en stede in die Oos-Kaap en die res van die land het nie water nie.
"Die inwoners van Makhanda is, net soos die res van die land, moeg vir praatjies en leë beloftes, maar geen dienslewering nie," sê Bhanga.
Hy wys uit dat Mzukisi Mpahlwa, burgemeester van Makhanda, in Januarie beter dienste aan die inwoners beloof het. "Maar die inwoners hier sit met geen water in die krane nie, kragonderbrekings, vullis wat die strate vol lê, en riool wat tot in mense se huise loop," sê Bhanga.
Hy sê dié inwoners word nie geflous deur die pogings van die burgemeester om die strate skoon te kry kort voor Ramaphosa se besoek nie. "Dít is waarom die mense menslike afval in die strate gooi, om die waarheid te wys van wat gaan agterbly ná die vinnige pogings om die strate skoon te maak," sê Bhanga.














