Verkiesings 2019

DA ontken aantygings dat hy ANC-plakkate afhaal

Die DA het Donderdag aantygings ontken dat hy vir die verwydering van ANC-verkiesingsplakkate van lamppale in Midrand in Johannesburg verantwoordelik is. Twee mans is Woensdag vir dié daad in hegtenis geneem.

In 'n verklaring wat Donderdag uitgereik is, beskuldig die ANC se provinsiale kantoor die DA daarvan dat hy die party se plakkate verwyder het.

"Die twee mans wat Woensdag in hegtenis geneem is nadat plakkate verwyder is, beweer dat hulle vir die DA werk. Die feit dat die DA mense kan huur om 'n misdaad in verkiesingstyd te pleeg, dui daarop dat die party 'n nuwe laagtepunt bereik het. Die ANC beskou dié diefstal van eiendom in 'n baie ernstige lig," lui die verklaring.

Mabine Seabe, DA-woordvoerder, het Donderdag by navraag gesê die mans wat in hegtenis geneem is, is nie lede van die DA nie.

"Na wat verneem word, werk die mans vir 'n advertensiemaatskappy. Ons weet nie wat die rede vir die verwydering van verkiesingsplakkate is nie maar glo dit is 'n misdaad om daaraan te karring.

"Mense wat plakkate verwyder, moet strafregtelik aangekla word. Ons eis 'n verskoning van die ANC dat hy ons van so 'n misdaad beskuldig," het Seabe gesê.

Kapt. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder in Gauteng, het by navraag gesê hy is nie van dié voorval bewus nie, maar dit sal ondersoek word.

"Die diefstal en verwydering van verkiesingsplakkate is 'n oortreding van die wette en regulasies van die Verkiesingskommissie. Dit is 'n misdaad en onwettig om inbreuk te maak op die reg van politieke partye om steun vir die verkiesing te werf," het Makhubela gesê.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM