Verkiesings 2019

DA se mag in gedrang in George as nog lede oorloop

Talle DA-raadslede in George se stadsraad is glo "ongelukkig" en die magsbalans in die DA-beheerde stadsraad kan in die gedrang kom indien die raadslede oorloop.

Mercia Draghoender (links) Dinsdag toe sy haar by die Good-party in George aangesluit het. Van links by haar is Shaun August en Bazil Petrus, ook van die party. Foto: Jackie Kruger
Mercia Draghoender (links) Dinsdag toe sy haar by die Good-party in George aangesluit het. Van links by haar is Shaun August en Bazil Petrus, ook van die party. Foto: Jackie Kruger

Die inligting het Dinsdag aan die lig gekom op 'n nuuskonferensie in die Gateway Lodge in George in die Suid-Kaap toe Mercia Draghoender, 'n oudburgemeester van George en tans 'n DA-raadslid, haar by die Good-party aangesluit het.

Volgens Draghoender het sy nog nie uit die DA bedank nie. "Dit was nie altyd lekker in die DA nie. Ek kom na Good toe oor beginsels."

Dit blyk dat nog DA-raadslede "ongelukkig" is en blykbaar die party wil verlaat. Draghoender wou nie name noem nie.

Die Good-party se koördineerder in die Eden-distrik, Bazil Petrus, ook 'n voormalige burgemeester van George, wou ook nie sê presies hoeveel raadslede ter sprake is nie.

Shaun August, voormalige hoofsweep van die DA in die Kaapse metro en nou die nasionale organiseerder van die Good-party, het Draghoender welkom geheet.

Draghoender wou haar nie uitlaat oor beweerde korrupsie met beleggings in die George-stadsraad nie, waaroor die leier van die Good-party, Patricia de Lille, onlangs 'n verklaring uitgereik het en wat tans deur die openbare beskermer ondersoek word.

Sy en August het gesê waar korrupsie voorkom, sal die party dit oopvlek en seker maak dat dit ingevolge die wet ondersoek word.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM