Verkiesings 2019

Die ANC sal nooit verander, beloof Ace in Parys

Sy foon en dié van ander ANC-leiers word afgeluister en staatsinstellings sit daaragter.

Dié beskuldiging is Saterdag gemaak deur Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, ná 'n verkiesingsaamtrek op Vryheidsdag in Parys, sy tuisdorp in die Vrystaat.

Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, Saterdag by die ANC se Vryheidsdag-verkiesingsaamtrek in Parys, Vrystaat.
Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, Saterdag by die ANC se Vryheidsdag-verkiesingsaamtrek in Parys, Vrystaat.

Dit volg nadat Magashule Vrydag Julius Malema, EFF-leier, en ander leiers wat die ANC verlaat het, gevra het om na die party terug te keer.

"Staatsorgane moet nooit misbruik word nie. Baie kamerade, leiers in die ANC, kla daaroor," het hy gister gesê.

Op 'n vraag of pres. Cyril Ramaphosa of Pravin Gordhan, minister van staatsondernemings, by die beweerde afluistering betrokke is, het hy geantwoord: "Ek weet nie wie daaragter sit nie. Ek waarsku net mense om nie staatsorgane te gebruik vir hul politieke tweestryde nie."

'Die Heilige Gees moet hulle teruglei.'

Hy het tydens die jolige saamtrek buite die Fezile Dabi-stadion weer gekap na Pieter-Louis Myburgh, skrywer van die boek Gangster State, waarin van sy beweerde wandade blootgelê word. Hy het die bewerings "leuens" genoem. Myburgh "is gestuur om slegte goed oor my te skryf. Lees dit dat jy die jong wit man aan die kaak kan stel," het hy gesê.

Magashule het steun ontvang van die ANC se jeug- en vroueliga. "SG, ons gee nie om wat mense sê en oor jou skryf nie. Die jeugliga moet egter nie die boek verbrand nie, maar dit lees en dan in die asblik gooi," het Makalo Mohale, jeugligavoorsitter, gesê.

Hy het aan Rapport gesê slegs dié leiers wat voorstanders is van radikale ekonomiese transformasie, word aangeval. "Die jeugliga sal hulle verdedig."

Ondersteuners buite die Fezile Dabi-stadion wys hul steun aan die omstrede partyleiers. Foto's: ELIZABETH SEJAKE
Ondersteuners buite die Fezile Dabi-stadion wys hul steun aan die omstrede partyleiers. Foto's: ELIZABETH SEJAKE

Myburgh het in reaksie op Magashule se uitlatings gesê Gangster State is al amper 'n maand op die rakke.

"Magashule het nog nie een keer kommentaar gelewer op die kwessies wat in die boek uitgelig word of die bewerings teen hom ontken nie.

"Hy hou aan om die ou, voorspelbare raskaart te speel, soos gister weer in Parys."

By die byeenkoms gister het gospelliedere weerklink. "Ek is hier om julle wat nie skool gegaan het nie en nie werk het nie, hoop te gee. Jul hoop is die ANC," het Magashule, die oudpremier, gesê.

'n Plakkaat ter ondersteuning van Bathabile Dlamini, president van die ANC-vroueliga.
'n Plakkaat ter ondersteuning van Bathabile Dlamini, president van die ANC-vroueliga.

Magashule het later wit lede, onder wie raadslede en kandidate op die ANC se lyste, na die verhoog genooi om die ANC se nierassigheid te illustreer. Carl Niehaus, oud-MK-lid wat nou werk as assistent in Magashule se kantoor in Luthuli-huis, is voorgestel as 'n "wit kameraad wat vir vryheid geveg het".

Op sy beurt het Niehaus verwys na Magashule se struggle-geskiedenis wat in Gangster State in twyfel getrek word. Hy het gesê Magashule "was dekades lank deel van die struggle" en dat Myburgh die oudpremier probeer diskrediteer. "Ek wil aan hom sê: ‘Ag sies tog man, gaan speel in die sandput. Moenie met grootmense probeer ba­klei nie.' "

Sandlana (Heinrich) Smit, 'n wit ANC-kandidaat vir die Vrystaat, het gesê die ANC het nie net swart mense bevry nie, maar ook wit mense.

Magashule het gesê die ANC sal nooit verander nie. Diegene wat die party verlaat het, moet terugkeer. "Die Heilige Gees moet hulle teruglei."

Hy het verwys na die PAC, prins Mangosuthu Buthelezi (IVP), Bantu Holomisa (UDM), Mosiuoa Lekota (Cope) en Mzwanele Manyi, 14de op die lys van die ATM vir die parlement.

Julius Malema, EFF-leier, is bestempel as "ons jong man, ons eie produk".

Op 'n vraag of hy met Malema praat, het Magashule gesê dat hy met alle partye gesprekke voer.

Jacob Rooi

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM