Die ANC sal op 8 Mei in die algemene verkiesing nasionaal 57% van die stemme op hom moet verenig as hy Gauteng in die provinsiale verkiesing wil behou, sê prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.

Duvenhage sê die meningspeiling van die Universiteit van Johannesburg (UJ), wat daarop dui dat 56% van die kiesers met die verkiesing vir die ANC sal stem, is waarskynlik baie na aan die kol.
Hy voorspel, soos verskeie ander ontleders, dat tussen 54% en 57% van die kiesers landwyd vir die ANC sal stem.
Die navorsing deur die UJ se sentrum vir maatskaplike ontwikkeling in Afrika (CSDA) en die universiteit se departement van politiek en internasionale politiek, is tussen November en Desember verlede jaar onder 3 431 kiesers gedoen.
Volgens die CSDA is sy steekproef "betroubaar verteenwoordigend" van die 38 miljoen potensiële kiesers in die land.
Sowat 26 miljoen van dié potensiële kiesers het vir die verkiesing geregistreer.
Steun vir die DA het van 22% tot 13% gedaal, terwyl die EFF se steun van 6% tot 9% gestyg het.
Hoewel Ramaphosa, volgens die UJ-meningspeiling, baie gewilder as oudpres. Jacob Zuma is, het die ANC in die 2014-verkiesing onder Zuma se leiding 62,15% van die kiesers se steun by die stembus geniet.
Dit kan wees dat die EFF in dié provinsies kan veld wen.
— prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus
"My voorspelling is dat die ANC nasionaal 57% van die stemme moet kry as hy Gauteng wil behou," sê Duvenhage.
Volgens hom is Gauteng een van drie provinsies wat dalk ná die verkiesing 'n koalisieregering kan hê. Die ander twee is die Wes- en Noord-Kaap.
"In hierdie stadium is daar nog groot onsekerheid oor die presiese steun vir die ANC in Noordwes, Mpumalanga en Limpopo.
"Dit kan wees dat die EFF in dié provinsies kan veld wen," sê Duvenhage.

Hy meen die ANC se verkiesingsveldtog is dié keer baie passief weens 'n gebrek aan geld.
Apatie onder kiesers is boonop die hoogste wat dit sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 was.
Ramaphosa meen dat die ANC baie seer gaan kry as die verdeeldheid in die party voor 8 Mei tot 'n uitbarsting kom.
"Daarom sal die president in die aanloop tot die verkiesing alles in sy vermoë doen om eenheid in die ANC te bewerkstellig.
"Hy sal dit ook nie nou waag om op te tree teen sy teenstanders in die party nie," sê Duvenhage.
Ralph Mathekga, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sê 'n koalisie-regering in Gauteng is moontlik, maar nie in die Wes- en Noord-Kaap nie.
"Die DA behoort die Wes-Kaap te behou en die ANC die Noord-Kaap," sê hy.
Mathekga sê hy stem met die bevindings van die UJ-peiling saam. "Ek sê al lankal die ANC se steun is in die omgewing van 55%."




















