Woede teenoor die ANC in Gauteng is die rede waarom die party Vrydagaand nog gesukkel het om die mag in die provinsie te behou, en ook net-net.

Die politieke ontleder Ralph Mathekga sê mense is baie kwaad vir die ANC in Gauteng en dit blyk duidelik uit die verkiesingsuitslae.
Vrydagaand vroeg, toe 79% van die stemme klaar getel was, het die ANC 50,86% van die steun gehad. Enkele ure vroeër was dit minder as 50%.
Die DA se steun was in daardie stadium 27,1% en dié van die EFF 14,41%. Die VF Plus het toe 3,55%-steun geniet.
Mathekga sê ondersteuners in Gauteng is onder meer woedend vir die ANC oor die Life Esidimeni-treurspel waarin meer as 100 psigiatriese pasiënte dood is. Gebrekkige dienslewering is 'n ander groot grief. Korrupsie het hulle ook van die stembus af laat wegbly.
"Gauteng is die belangrikste provinsie in die land omdat dit die ekonomiese hartklop van die land is. Dit is ook die digsbevolkte provinsie. Die mense het hul woede gewys deur weer (soos in 2016 met die munisipale verkiesing) van die stembus af weg te bly. Ander het dié keer eerder vir die EFF gestem."
Hy meen die wegblystem sal voortduur as die ANC nie aandag aan mense se probleme gee nie.
Teen laatmiddag was dit duidelik die ANC sou minstens 6 persentasiepunte swakker vaar in Soweto - eens die hartland van die ANC. Die EFF se steun in die township het met 6 persentasiepunte gestyg.
Volgens Mathekga maak die DA nie hond haaraf in Soweto nie.
Pres. Cyril Ramaphosa, ANC-leier, sou Vrydag die nasionale uitslagsentrum in Pretoria besoek het, maar dit is tot Saterdag uitgestel. 'n Senior regeringsbron het gesê die ANC was in daardie stadium bang dat hy dalk nie in Gauteng 'n volstrekte meerderheid sou behaal nie. Dit sal 'n ramp vir die party wees as hy die ekonomiese hartland van die land verloor, het die bron gesê.
Met die oog op die munisipale verkiesing in 2021 is die uitslag in Gauteng rigtinggewend, veral omdat daar baie probleme op plaaslikeregeringsvlak is.
— Theo Venter, Beeld se verkiesingsontleder
Volgens Mathekga en Theo Venter, Beeld se verkiesingsontleder, sal dit vir die ANC baie moeilik wees om Gauteng met 'n koalisievennoot te regeer of om 'n minderheidsregering te wees. Dit sal belangrike besluite en die uitvoering daarvan vertraag.
Hulle glo ook nie die ANC sal in 'n koalisie met die DA of die EFF wil regeer nie, maar eerder hulp by kleiner partye soek.
Venter sê daar was nie net negatiewe aspekte vir die ANC in Gauteng nie. Hy glo die mense het in hul massas vir die ANC gestem om Ramaphosa te help.
"Met die oog op die munisipale verkiesing in 2021 is die uitslag in Gauteng rigtinggewend, veral omdat daar baie probleme op plaaslikeregeringsvlak is."
Fikile Mbalula, verkiesingshoof van die ANC, het aan Beeld gesê hy is hoopvol dat die ANC uiteindelik 51% van die stemme sal kry.
"Ons is tans nog in 'n skrum in beseringstyd," het hy gesê.







