Hlaudi Motsoeneng, die omstrede oudhoof van die SAUK en leier van die African Content Movement (ACM), se voorspelling dat hy Suid-Afrika se volgende president gaan word, is onwaarskynlik.
Die stemme is nog nie naastenby klaar getel nie, maar dis veilig om die gevolgtrekking te maak dat Motsoeneng nie gou 'n kantoor in die Uniegebou gaan kry nie. Waarskynlik ook nie 'n enkele setel in die parlement nie.
'n Party het sowat 35 000 stemme nodig om vir 'n setel te kwalifiseer.
Hy het nog kort voor die verkiesing verkondig sy party gaan die land regeer.
Teen die tyd dat hierdie berig gepubliseer is, was 30% van die stemme getel en het die ACM 0,03% van die stem, oftewel 1 272 stemme, gehad.
Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, het in reaksie op die party se swak uitslae getwiet.
Motsoeneng, die voormalige bedryfshoof van die openbare uitsaaier, het die ACM vanjaar gestig, en hy het in 'n video wat in sy tuin geneem is opgewonde aangekondig dat die party sy manifes op 6 April bekend stel.
Die video is wyd op sosiale media gedeel met mense wat in die kommentare die spot met hom gedryf het.














