Verkiesings 2019

‘Hoë stem-persentasie sal ANC in Gauteng help’ – kenner

Hoe hoër die stempersentasie in Gauteng met die algemene verkiesing op 8 Mei, hoe skraler is die kans op 'n koalisieregering in dié provinsie, sê die politieke ontleder dr. Piet Croucamp.

Dr. Piet CroucampFoto: Jaco Marais
Dr. Piet CroucampFoto: Jaco Marais

Croucamp, 'n dosent in politieke wetenskap aan die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoek-kampus in Vanderbijlpark, meen met 'n stempersentasie van 70% sal die ANC genoeg steun hê om meer as 50% van die stemme op hom te verenig. Dan sal hy alleen kan regeer.

"As hy sê nou maar 47% of 48% van die stemme kry, sal hy eers probeer om met van die kleiner partye in koalisie te gaan, voordat hy hom moontlik tot 'n party soos die EFF sal wend," sê Croucamp.

Emeritusprofessor Pieter Labuschagne, 'n politieke kenner van Unisa, meen die ANC sal net meer as 40% van die stemme op hom verenig, teenoor die 34% van die DA.

Hy sê die ANC kan nog met kleiner partye saamwerk vir 'n meerderheid, maar die DA se 34% sal dan te klein wees om met die hulp van kleiner partye beheer te kan oorneem.

"Hoewel die EFF te kenne gee dat hy nie belang stel om in die toekoms 'n samewerkingsooreenkoms met die DA aan te gaan nie, kan hy ná die verkiesing sy posisie verander.

"Maar, dit sal alles afhang van wat in die Wes-Kaap gebeur. Sou die ANC en die EFF daar 'n ooreenkoms bereik om 'n koalisieregering te skep, kan dit 'n ‘dubbelooreenkoms' wees wat ook Gauteng insluit.

En wat van Juju?

Die politieke toenadering wat Julius Malema, die EFF-leier, die laaste ruk tot die ANC soek, is baie insiggewend, sê die politieke ontleder dr. Piet Croucamp.

"Dit dui daarop dat hy 'n manier soek om terug te kom in die ANC.

"Malema se ambisie om president van die land te word is baie groot en hy weet hy kan dit net regkry as hy weer deel word van die ANC.

"As hy dit regkry om in die volgende paar jaar weer deel van die ANC te word, sal hy waarskynlik genoeg steun binne die party hê om Cyril Ramaphosa as leier uit te daag.

"Populiste soos hy smag na mag en hy sal dit nie van buite die ANC kry nie. Die EFF is te klein.

"Kyk maar, daar sal met die verloop van tyd toenemende samewerking en assimilasie tussen die EFF en die ANC wees," sê Croucamp.

Malema het dit die laaste ruk baie duidelik gemaak dat hy nie meer met die DA wil saamwerk nie, maar wel met die ANC.

Die DA het met die hulp van kleiner party en die EFF die beheer van die metrorade van Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth) by die ANC oorgeneem ná die plaaslike verkiesing van 2016. Hy het later met die ANC begin saamwerk om die beheer terug te wen. - Sarel van der Walt

"Onthou, politiek word deur belange - en nie waardes nie - gedryf," sê Labuschagne.

Ralph Mathekga, 'n politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, meen ook 'n groot uitdaging wag op 8 Mei op die ANC in Gauteng.

Hy glo ook die ANC sal hom eerste tot die klein partye wend indien hy 'n koalisie moet vorm om in beheer van die provinsie te bly.

"Dit sal waarskynlik makliker wees om met die kleiner partye saam te werk omdat dit nie so moeilik sal wees om aan hul eise in 'n koalisie te voldoen nie," het Mathekga gesê.

Dawie Scholtz, News24 se verkiesingsontleder, het Vrydag geskryf hoewel daar geen twyfel is nie dat die ANC die grootste party in Gauteng sal wees, is die groot vraag of hy meer as 50% van die stemme sal kry.

"Die stempersentasie sal absoluut kritiek wees, maar nog belangriker is die stempatrone in Gauteng se stedelike townships, waar veral die EFF, en tot 'n mindere mate die DA, in die verlede veld gewen het.

* Met die plaaslike bestuursverkiesing in 2016, toe die ANC die beheer van die metrorade van Johannesburg en Tshwane verloor het, het groot getalle ANC-ondersteuners in veral Gauteng uit protes teen oudpres. Jacob Zuma van die stembus weggebly.

Baie van dié mense is Ramaphosa-ondersteuners.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM