Verkiesings 2019

Koalisies: Al 3 partye praat

Die land se drie grootste partye het begin om versigtig voelers na mekaar uit te steek oor wat om te doen indien die ANC landwyd of in 'n provinsie minder as 50% van die stemme kry in 8 Mei se verkiesing.

Navrae deur Rapport toon daar is nie eensgesindheid binne die ANC, DA of EFF oor wat hulle te doen staan nie, met sterk sentimente in al drie partye dat hulle samewerking teen alle koste wil vermy. Dit is vol konflik en kiesers verstaan dikwels nie die kompromieë wat getref moet word nie.

Almal wil samewerking vermy.

Geen van die gesprekke is openlik aan die gang nie en die afloop daarvan is veranderlik, maar navrae in onderskeidelik die ANC, DA en EFF het getoon watter voorlopige denkpatrone bestaan.

* African National Congress: Vier opsies word oorweeg. Die sterkste voorkeur indien die ANC volstrekte meerderhede landwyd en in provinsies behaal, is om alleen 'n regering te vorm.

Volgens 'n leidende staatsamptenaar met sterk ANC-wortels is 'n tweede opsie wat lank gelede op die tafel was en nou weer genoem word, dat 'n regering van nasionale eenheid met 'n ANC-meerderheid gevorm word, soos in 1994 onder oudpres. Nelson Mandela. Dit sal vir pres. Cyril Ramaphosa die voordele hê dat die luidrugtige twee grootste opposisiepartye ingebind sal word, dat daar 'n groter poel ministersmateriaal beskikbaar sal wees en dat swakker ANC-ministers uit die kabinet gelaat kan word.

Die derde opsie is om met die EFF saam te werk. Daar is sterk minderhede in albei partye wat dit lankal wil hê en in 2016 met die munisipale verkiesing het dit amper gebeur, maar toe het die meerderheid in die EFF-leierskap verkies om eerder met die opposisie saam te werk.

Hierdie keer het groepe in sowel die Ramaphosa-faksie as die Zuma-Magashule-faksie van die ANC gesorg dat hul verhouding met die EFF beter is as in 2016.

Die vierde ANC-opsie, wat deur sommige gematigdes in die regerende party voorgestaan word, is dat hulle met die DA wil saamwerk, veral as die ANC slegs in Gauteng minder as 50% kry en die DA meer as 50% kry in die Wes-Kaap. Die DA se strydlustige en uitgesproke teenstand teen samewerking met die ANC maak gematigde ANC's egter moedeloos oor die praktiese uitvoerbaarheid daarvan, het 'n leidende gematigde ANC-bron aan Rapport gesê.

* Demokratiese Alliansie: Die DA sal hom in onderhandeling met moontlike politieke vennote laat lei deur spesifieke, praktiese beleidspunte in die ander party se beleid en verkiesingsmanifes. Daar is betroubaar verneem die DA het reeds omvattende werk gedoen oor watter beleidspunte van die ANC en die EFF vir die party onaanvaarbaar en aanvaarbaar is, en watter aspekte oop is vir onderhandeling.

Binne die DA word die denkskole oor die vier opsies - regering van nasionale eenheid, samewerking met niemand, samewerking met die ANC of samewerking met die opposisie - tans druk maar informeel op die hoogste vlak intern bespreek.

Luidens DA-bronne is die meeste DA-leiers nie lus om met die ANC of die EFF saam te werk nie, maar verskeie besef die uitslae kan hulle dwing om moeilike besluite te neem.

Een scenario is om aan 'n moontlike regering van nasionale eenheid deel te neem, maar die party se leiers­korps in opposisie te hou.

Wat die keuse van samewerking met die ANC of die EFF betref, het die DA van albei ondervinding. Verskeie leidende DA-lede meen dit het die party baie hoofpyne besorg. Die alternatief tot samewerking is egter om DA-kiesers oor te laat aan 'n ANC-EFF-koalisie.

Navrae wys egter die DA-leierskap is besig om vir keuses soos hierdie voor te berei.

* Ekonomiese Vryheidsvegters: Wat die EFF betref, is daar soos altyd verskillende denkpatrone oor samewerking met ander partye. Die partyleier, Julius Malema, wou nog altyd eerder met die ANC saamwerk as met die opposisie, maar in die verlede was dit nie die meerderheidsiening in die EFF-leierskorps nie.

'n Leidende EFF-bron het aan Rapport gesê binne die EFF is daar sterk klem op beleid, en 'n voorkeur om te kyk watter beleidstoegewings van die ANC en die DA onderskeidelik verkry kan word voordat samewerkingsooreenkomste gesluit kan word. Die EFF verlang ook die stigting van 'n staatsbank en - so het Malema al dikwels laat blyk - die burgemeesterskap van 'n metro, wat volgens 'n lid van die EFF-binnekring verkieslik die Tshwane-metro in Pretoria moet wees.

Hoewel EFF-bronne beklemtoon dat albei ANC-faksies reeds voelers uitgesteek het, en hoewel kontak tussen die EFF en DA op leiersvlak deurlopend is omdat hulle in munisipaliteite saamwerk, is daar kommer in die EFF dat hulle in geval van samewerking deur die ANC ingesluk kan word, wat die deur nogmaals ooplaat vir samewerking met die DA - so min as wat die EFF ook al daarvoor lus het.

Jan-Jan Joubert

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM