Verkiesings 2019

Leon: ‘SA in selfde bootjie as met FW’

Tony Leon gesels met twee kleuters van Eldoradopark, 'n tradisioneel bruin woonbuurt in die suide van Johannesburg, waar hy namens die DA stemme gewerf het.Foto: Felix Dlanagamandla
Tony Leon gesels met twee kleuters van Eldoradopark, 'n tradisioneel bruin woonbuurt in die suide van Johannesburg, waar hy namens die DA stemme gewerf het.Foto: Felix Dlanagamandla

Suid-Afrika is op politieke gebied in dieselfde bootjie as 30 jaar gelede voordat oudpres. FW de Klerk in 1990 besluit het om die rigting te verander.

"Die situasie in die land is op die oomblik baie toksies," het Tony Leon, 'n voormalige leier van die DA, Dinsdagaand op ‘n DA-verkiesingsvergadering in Centurion gesê.

Die 62-jarige Leon het gesê die DA is die enigste party wat alle Suid-Afrikaners kan verenig.

Leon het gesê De Klerk het ondanks die feit dat die Nasionale Party (NP) met die verkiesing 1989 die minste steun in meer as 30 jaar gehad het, die stemme van die NP en die Demokratiese Party (die DA se voorganger) saamgetel en tot die slotsom gekom Suid-Afrikaners het met dié verkiesing (die laaste wit verkiesing) gestem vir verandering.

De Klerk kon die NP en die Konserwatiewe Party (KP), wat die tweede meeste stemme op hom verenig het, se stemme saamgetel en anders besluit het.

Leon het gesê die ANC-regering is besig om die land bankrot te maak.

"Wat die regering besig is om te doen, is om die skuld van een kredietkaart met 'n ander kredietkaart te betaal.

"Dit is eenvoudig nie volhoubaar vir die regering om geld te leen om sy rente te delg nie," het Leon gesê.

Tony Leon gesels met twee kleuters van Eldoradopark, 'n tradisioneel bruin woonbuurt in die suide van Johannesburg, waar hy namens die DA stemme gewerf het. Foto: Felix Dlanagamandla
Tony Leon gesels met twee kleuters van Eldoradopark, 'n tradisioneel bruin woonbuurt in die suide van Johannesburg, waar hy namens die DA stemme gewerf het. Foto: Felix Dlanagamandla

"Ek het nog nêrens gesien of gehoor wat die ANC gaan doen om die situasie te verander nie."

Leon sê 'n stem vir die DA in die algemene verkiesing op 8 Mei sal 'n rigtingwyser vir pres. Cyril Ramaphosa (die ANC-leier) wees dat die land van rigting moet verander - in die regte rigting.

"Dit is tyd dat die president sê ons gaan nie meer die huidige weg volg nie."

Leon sê die DA het in die Wes-Kaap gewys hy weet hoe om goed te regeer.

Die DA het in dié provinsie gewys deur ten nouste met maatskappye saam te werk, het hy die afgelope jaar die meeste werksgeleenthede in die land geskep.

Hy glo die party sal weer 'n volstrekte meerderheid in dié provinsie behaal, het Leon gesê.

* Douglas Gibson, 'n voormalige hoofsweep van die DA in die parlement, het gesê hy voorspel die DA sal op 8 Mei meer swart stemme op hom verenig as die EFF.

"Dit sal wys die party is op die regte pad."

Gibson het ook gesê "hoe meer mense met die verkiesing vir die ANC stem, hoe meer van die skobbejakke op die ANC se kandidatelys gaan terug parlement toe".

"Onthou ook, David Mabuza, is as visepresident 'n enkele hardklop weg van die presidentskap. En wie het hom in daai posisie geplaas? Cyril Ramaphosa."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM