Verkiesings 2019

Mashatile ontken bestaan van verslag

Paul Mashatile, tesourier-generaal van die ANC.Foto: News24
Paul Mashatile, tesourier-generaal van die ANC.Foto: News24

Paul Mashatile, tesourier-generaal van die ANC, hou voet by stuk dat daar geen verslag bestaan van dié party se integriteitskomitee nie, terwyl George Mashamba, voorsitter van die komitee, sê dit is aan die top-ses oorhandig.

Die komitee is deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee aangesê om die party se lys van nasionale en provinsiale kandidate te hersien.

Mashamba het vroeër vandeesweek aan News24 gesê die komitee het die proses afgehandel en sy verslag aan die top-ses van die party oorhandig.

Maar Mashatile, wat Donderdag besig was met 'n deur-tot-deur verkiesingsveldtog in Kagiso in die weste van Johannesburg, sê die top-ses weet niks van enige verslag nie.

"Wat die top-ses betref, is daar geen verslag nie. Ons sal dit hanteer wanneer ons daarmee te doen kry. Amptelik het ons geen verslag nie. Ek dink dit is iets waaraan hulle gewerk het, wat uitgelek het."

Dié ontkenning van Mashatile kom nadat ook Dakota Legoete, nasionale woordvoerder van die ANC, aan joernaliste gesê het die top-ses bestudeer die verslag, maar het dit nog nie bespreek nie.

City Press het vroeër berig adj.pres. David Mabuza en Gwede Mantashe, voorsitter van die ANC, word in die verslag geïmpliseer.

Bronne in die ANC het aan News24 gesê die nasionale uitvoerende komitee sal nie die verslag aanvaar nie, al het leiers soos Mantashe self en Fikile Mbalula, die party se verkiesingshoof, vroeër gesê die verslag sal bindend wees.

Op 'n vraag oor die ANC se begroting vir die verkiesing het Mashatile geantwoord die party se finansies is stabiel. "Ons is piekfyn. Ons kan t-hemde vir ons vrywilligers en ondersteuners kry. Ons kan ons plakkate en advertensieborde kry. So ons is piekfyn."

Lizeka Tandwa, News24

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM