Verkiesings 2019

‘Mmusi Maimane het my gebel! En vir jou?’

Die DA het bewyse dat sy oproepsentrum-veldtog in 2016 se munisipale verkiesing die deurslag gegee het in sy deurbraak in Nelson Mandelabaai. Daarom sal daar vanjaar min kiesers wees wat geen oproep of SMS van die DA kry nie.

Die DA het twee oproepsentrums ingerig in Kaapstad en Johannesburg van waar hy miljoene kiesers bel. "Ons kry diegene wat ons teiken van die kieserslys, maar ons gebruik ook kruisverwysings daarvan met inligting wat ons die afgelope jare in werwingsveldtogte ingesamel het. Ons gebruik ook inligting wat ons kommersieel aankoop om mense te teiken wat vatbaar is vir oorreding," sê Jonathan Moakes, nasionale bestuurder van die DA se verkiesingsveldtog.

Hy sê die oproepsentrum wil die hele kiesersbevolking bereik. Hy wil nie verklap hoeveel dit kos nie.

"Ons bestee effens meer van ons oproepsentrum-hulpbronne in dié provinsies waar ons dink ons 'n kans het om die ANC se meerderheid tot minder as 50% van die stemme af te druk," sê hy.

In die twee vorige verkiesings in 2014 en 2016 het die DA ook heelwat meer op die oproepsentrum-strategie gefokus as ander partye. "Dis 'n veldtog-metode wat net so geskik is vir landelike gebiede as in stedelike gebiede. Ons het in 2014 en 2016 baie sukses daarmee gehad. In die munisipale verkiesing het dit in die finale fase van die veldtog in Nelson Mandelabaai 'n wesenlike uitwerking gehad om kiesers te oorreed," sê Moakes. Bel is darem nie al wat die DA doen nie.

"Ons teenwoordigheid op grondvlak is meer uitgebreid as ooit vantevore. Ons het veldtog-eenhede wat die lengte en breedte van al nege provinsies dek. Daar is meer vrywilligers wat help as in enige van die vorige verkiesings.

"Daar is veral 'n skerp fokus op die Wes-Kaap, Gauteng en die Noord-Kaap, maar die mate waarin ons in ander provinsies soos Limpopo, die Vrystaat, die Oos-Kaap en in KwaZulu-Natal ontplooi is, is vir my baie bevredigend," sê Moakes.

Jan de Lange

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM