Verkiesings 2019

S-Kaap: Reën demper nie geesdrif by stembus

Nie eens die koue, reënerige weer in die Suid-Kaap kon Woensdag die geesdrif demp van kiesers wat hul kruisies in die algemene verkiesing getrek het nie.

In Plettenbergbaai is die polisie se eenheid vir openbare orde ontplooi (Pops) weens protesaksie wat Dinsdagaand in die woongebied Qolweni uitgebreek het. Die N2 is Woensdag vroeg weer oopgestel nadat dit lank gesluit was. Twee mense is in hegtenis geneem. Woensdag was Pops-lede ook in Thembalethu in George sigbaar.

Mense wag Woensdag om by die NG kerk George-Suid te stem. Foto: Jackie Kruger
Mense wag Woensdag om by die NG kerk George-Suid te stem. Foto: Jackie Kruger
Dawid Kamfer, Wes-Kaapse leier van die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa) en die party se hoofkandidaat in die provinsie, wys Woensdag sy duim nadat hy stem in Mosselbaai gestem het. Foto: Verskaf

"Die Pops-lede is ontplooi by sekere brandpunte wat vooraf geïdentifiseer is sodat kiesers veilig kan gaan stem," sê kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder.

Teen die middag is geen voorvalle by stembusse aangemeld nie en het die stemproses vlot verloop, sê hy.

By van die stempunte was toue vroegoggend langerig, maar by ander stempunte het kiesers blitsig in en uit stemlokale beweeg.

Helen Zille, uittredende Wes-Kaapse premier en 'n lid van die DA, het by die Primêre Skool Chris Nissen in Knysna gestem en 'n foto van haar duim getwiet.

Rochelle Snyman en haar dogter, Luné (3), wag Woensdag buite die NG kerk George-Suid om te stem. Foto: Jackie Kruger
Rochelle Snyman en haar dogter, Luné (3), wag Woensdag buite die NG kerk George-Suid om te stem. Foto: Jackie Kruger
Jacob Loggerenberg (79) van Rosemore in George Woensdag vroeg op pad stembus toe saam met sy kleinseun, Raymondo Loggerenberg. Foto: Jackie Kruger
Jacob Loggerenberg (79) van Rosemore in George Woensdag vroeg op pad stembus toe saam met sy kleinseun, Raymondo Loggerenberg. Foto: Jackie Kruger

Zille het ook op Twitter gesê by die Concordia High School in Knysna het sommige personeellede van die Verkiesingskommissie (OVK) skynbaar nie geweet van VEC4-vorms wat ingevul kan word as 'n mens weg van die jou geregistreerde stempunt stem nie. Volgens Zille beskik mense steeds oor 'n provinsiale en 'n nasionale stem as hulle steeds in dieselfde provinsie is.

Dawid Kamfer, Wes-Kaapse leier van die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa) en die party se hoofkandidaat in die provinsie, het sy stem in Mosselbaai uitgebring. "Ons is tevrede met die opkoms en hoe die stemmery verloop," sê hy.

In Rosemore in George was Jacob Loggerenberg (79) en sy kleinseun, Raymondo Loggerenberg (10), kort ná 07:00 reeds op pad stempunt toe by die Rosemore-ouetehuis.

"Ek stem vir die Vryheidsfront Plus want dis ons almal se land. Die ANC is korrup, al kom hy menslik voor," sê Loggerenberg.

By die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal in George het verteenwoordigers van onder meer die DA en Plaaslike Besorgde Inwoners (PBI) kiesers ingewag.

Marenda Coleman, Lorraine Heyser, tesourier, en Claire Kleinhans, nasionale sekretaris, van die Plaaslike Besorgde Inwoners by die gemeenskapsaal in Pacaltsdorp in George. Foto: Jackie Kruger
Marenda Coleman, Lorraine Heyser, tesourier, en Claire Kleinhans, nasionale sekretaris, van die Plaaslike Besorgde Inwoners by die gemeenskapsaal in Pacaltsdorp in George. Foto: Jackie Kruger

"Dit is 'n groot dag vir ons," het Claire Kleinhans, nasionale sekretaris van die PBI, gesê. "Ons verwag 'n groot opkoms."

Van die kiesers by dié stempunt het gesê die ANC het baie foute gemaak, maar verdien 'n tweede kans, terwyl ander dit eens was dat net die DA 'n verskil in die Wes-Kaap kan maak en mense nie hul stemme moet mors op ander partye nie.

Die polisie se eenheid vir openbare orde Woensdagoggend in Thembalethu, George. Foto: Jackie Kruger
Die polisie se eenheid vir openbare orde Woensdagoggend in Thembalethu, George. Foto: Jackie Kruger
Die ANC verwelkom kiesers Woensdag by 'n stempunt in Thembalethu, George. Foto: Jackie Kruger
Die ANC verwelkom kiesers Woensdag by 'n stempunt in Thembalethu, George. Foto: Jackie Kruger

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM