Verkiesings 2019

Solly wil as premier e-tol in Gauteng beveg

Hy sal in sy eerste 100 dae as premier van Gauteng toesien dat dié provinsiale regering 'n interne regeringsdispuut oor die e-tol-stelsel in dié provinsie verklaar.

Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat vir Gauteng, sê hy sal ook die denkwyse agter die regering se besluit om die e-tol-kontrak te hernu, in die hof betwis.

Solly Msimanga. Foto: Argief
Solly Msimanga. Foto: Argief (Foto: Argief/Netwerk24)

Die e-tol-stelsel is hoogs omstrede in Gauteng. Die ANC in dié provinsie is ook teen dié stelsel gekant.

Msimanga sê voorts hy sal toesien dat Qedani Mahlangu, voormalige Gautengse LUR vir gesondheid, en senior amptenare wat in die Life Esidimeni-tragedie geïmpliseer word, uit hul eie sakke betaal vir hul rol in dié tragedie waarin 144 psigiatriese pasiënte dood is.

Hy sal ook toesien dat die families die vergoeding kry waarop hulle nou al lank wag.

Die aanduidings is dat die ANC met die provinsiale verkiesing op 8 Mei in Gauteng moontlik nie meer as 50% van die stemme sal kry om alleen in dié provinsie te regeer nie.

Die DA glo hy kan die provinsie met die hulp van ander kleiner partye regeer, hoewel die EFF reeds gesê het hy sal nie meer met die DA saamwerk nie.

Msimanga, die vorige DA-burgemeester van die Tshwane-metro, sê hy sal ook 'n ondersoek na staatskaping in Gauteng begin en 'n eenheid soortgelyk aan die eertydse Skerpioene in die provinsie op die been bring om korrupsie op hoë vlak te ondersoek.

Hy sal ook 'n provinsiale ministeriële handboek laat saamstel om die voordele van die premier, die speaker en LUR'e in te perk. Dit sluit in beperkings op luukse onthale, private sekerheid, vermaak en advertensies.

Ten einde meer werksgeleenthede en regverdige toegang tot werk te verseker, sal hy 'n lotery-stelsel vir die uitgebreide program vir openbare werke instel.

Hy sal ook 'n vrywillige diensjaar vir matrikulante in die provinsiale staatsdiens instel en 'n agentskap in Gauteng begin wat sal fokus op die lok van beleggings.

Volgens Msimanga sal hy provinsiale wetgewing instel wat aan die provinsie groter beheer oor die polisie sal gee.

'n DA-beheerde provinsiale regering sal ook 'n titelakte-afdeling in die premier se kantoor vestig om op die uitbreiding van eiendomsreg te fokus.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM