Verkiesings 2024

‘Al KZN se stemme voor einde van dag getel’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ntombifuthi Masinga, hoofkiesbeampte van die Verkiesingskommissie (OVK) in KwaZulu-Natal is aan die woord. Foto: Deaan Vivier
Ntombifuthi Masinga, hoofkiesbeampte van die Verkiesingskommissie (OVK) in KwaZulu-Natal is aan die woord. Foto: Deaan Vivier

Die tellery in die 98 stemlokale in KwaZulu-Natal, wat nog aan die gang is, sal na verwagting voor die einde van Donderdag klaar wees.

Die vertragings in die tellery word toegeskryf aan 'n hoë kieseropkoms in veral die Ethekwini-metrogebied, sê Ntombifuthi Masinga, die Verkiesingskommissie (OVK) se hoofkiesbeampte in die provinsie.

Die meeste stemlokale waar die tellery nog nie klaar is nie, is in die Ethekwini-metro en die Ugu-distriksmunisipaliteit.

"Daar was Woensdagmiddag ná middagete 'n geweldige toename in kiesers by van die lokale. Dit het ons beamptes onder groot druk geplaas en lang rye veroorsaak."

Masinga sê in sommige lokale in KwaZulu-Natal was daar wel vroegoggend probleme met die skandeerders, maar dit is vinnig opgelos. "Ons het teen 09:00 opdrag gegee dat die skandeerders gelos word en dat die proses met die hand gedoen word," sê sy.

Duisende kiesers van oor Durban het Woensdag ná 21:00 nog buite die stemlokale gestaan en wag om te stem. Veral by die stadsaal het mense nog tot Donderdag in die vroeë oggendure in toue gestaan.

Masinga is Donderdagmiddag gevra of die vertragings in die stemlokale weens die OVK se tekort aan hulpbronne was.

"Dis nie die geval nie. Ons het die meeste hulpbronne tot nog toe gehad. Met die derde stembrief het ons meer beamptes ingekry om te help tel. 'n Vars oog het ook in die middag by die spanne aangesluit."

Masinga sê ongelukkig was daar ook voorvalle van geweld by stemlokale in KwaZulu-Natal. "In Eshowe is 'n beampte van die OVK aangeval, terwyl 'n kieser in Cato Ridge glo deur 'n polisiebeampte aangeval is. Twee mense is ook dood. 'n Man is dood nadat hy naby 'n stemlokaal van 'n bakkie afgeval het en die bakkie oor hom gery het. Elders is 'n man in 'n rusie doodgesteek."

Masinga sê in Pietermaritzburg is 'n OVK-beampte ook "weens 'n kwessie oor 'n stemboks" in hegtenis geneem. "Die OVK het sy kant gestel, en die voorval word ondersoek."

Masinga sê Donderdag teen middagete was 17% van die stemme in KwaZulu-Natal reeds getel en geoudit.

Die bord in die uitslagsentrum het egter nog gewys dat net 11,04% van stemme getel is.

Die uMkhonto weSizwe-party (MK) loop voor met 96 166 stemme teenoor die ANC se 45 796 stemme. Die IVP het 41 317 stemme en die DA 24 472 stemme.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM