Verkiesings 2024

Coetzee Bester: Magsdeling só moontlik

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
ANC-ondersteuners dans in die strate ná die uitslag van 2014 se verkiesing waarin die party 62,15% van stemme ontvang het. Foto: GALLO IMAGES
ANC-ondersteuners dans in die strate ná die uitslag van 2014 se verkiesing waarin die party 62,15% van stemme ontvang het. Foto: GALLO IMAGES

Gegrond op peilings lyk dit asof Suid-Afrikaners ná die verkiesing 'n vreedsame oorgang wil hê na 'n regering wat 'n aantal minderheidspartye insluit en wat hoofsaaklik op ekonomiese ontwikkeling en nasiebou konsentreer.

Dis billik om te sê dat die koalisie-ervaring in Suid-Afrika nie altyd 'n aangename een is nie. Hoewel sommige koalisies al positiewe resultate opgelewer het, is daar nie 'n tekort aan mediaberigte oor die negatiewe gevolge van die politieke manewales wat uit ondeurdagte en opportunistiese koalisiereëlings spruit nie.

Ons moet nuut dink oor hoe minderheidspartye by regeringstrukture ingesluit kan word. Suid-Afrikaners verdien beter as die eksperimente in die munisipale sfeer.

Ofskoon hy die grootste minderheid sal wees, sal hy steeds nie op sy eie kan regeer nie.

Theuns Eloff en Daryl Swanepoel kom in onlangse artikels tot die gevolgtrekking dat 'n regering van nasionale eenheid (RNE) verkieslik is bo chaotiese, onvolhoubare koalisies. In veral twee opsigte slaan hulle die spyker op die kop.

Eerstens lyk dit of daar werklik 'n moontlikheid is dat die ANC se steun tot onder 50% kan daal. Dít maak hom 'n minderheid, en ofskoon hy die grootste minderheid sal wees, sal hy steeds nie op sy eie kan regeer nie. Die ANC sal op 'n manier met ander politieke partye moet saamwerk om 'n regering te vorm. 'n Verskuiwing van enkel­party-oorheersing na magsdeling sal die nasie goed doen.

Tweedens noem Eloff en Swanepoel dat daar nie genoeg tyd sal wees vir lang, filosofiese gesprekke oor die moontlikhede van politieke samewerking nie. Politieke partye het net 14 dae ná die bekendmaking van die verkiesingsuitslae om 'n regering te vorm. As dit nie behoorlik bestuur word nie, is dit 'n resep vir onoordeelkundige ooreenkomste wat tot mislukking gedoem is.

"Gedwonge" of "geriefshuwelike" en skielike prominensie vir klein stertkant­partye moet uit die staanspoor verwerp word.

In teenstelling met koalisieregerings wat kleiner partye kan insluk, behou alle partye in 'n RNE hul onafhanklikheid en reg om te verskil, dog met duidelike reëls en struktuur.

In 'n onlangse werksessie het in­divi­due wat die RNE van 1994 persoonlik beleef het die suksesse en uitdagings daarvan bespreek. In sommige geledere word verkeerdelik aanvaar dat FW de Klerk goedsmoeds besluit het om aan die destydse RNE te onttrek.

In die werksessie is tot die slotsom gekom dat die werking van die RNE fundamentele uitdagings opgelewer het. Hoewel die formaat goed was, het sekere ordereëls kortgekom. Die meerderheidsparty het byvoorbeeld aanstoot geneem as die minderheidspartye verskil het met beleide waaroor die kabinet besluit het.

Maar dit was tóé. Met die ANC se enorme meerderheid destyds het hy nie kleiner partye nodig gehad nie; nou hét hy. Dit verander die hele raadplegende omgewing en dui op 'n verskuiwing na meer inklusiewe besluitneming ná hierdie verkiesing.

Baie gemeenskappe en taalgroepe het hul lojaliteit en toewyding aan nasiebou verklaar.

Daar is verskeie modelle om 'n regering te vorm, hoewel "gedwonge" of "geriefshuwelike" en skielike prominensie vir klein stertkant­partye uit die staanspoor verwerp moet word. Die RNE van 2024 moet vrywillig wees met partye wat self kies of hulle ingesluit wil word. Sodra hierdie partye se gesamentlike steun 51% bereik, kan die vrywillige RNE homself begin struktureer, hoewel ander partye steeds 'n kans het om daarby aan te sluit.

Die tydsbeperkinge van 14 dae sal die nodige dringendheid onder politieke partye skep. Mits daar genoeg steun vir die idee is, is 'n RNE maklik haalbaar binne die tydperk. Die gesprekke gaan immers uitsluitlik oor die struktuur van die regering, en nie beleid nie.

Ervaring het geleer dat vergelyke en kompromieë oor beleid die tyd­rowers is. Dít was so in baie munisipaliteite wat in koalisiegesprekke voor onoorkomelike probleme te staan gekom het.

Volgens Eloff en Swanepoel behoort die ideale RNE van 2024 te konsentreer op ware, verantwoordbare leierskap wat op gemeenskap­like waardes en 'n volhoubare kern berus. Dít sal aan kiesers se eise van ekonomiese groei, maatskap­like samehang en nasiebou voldoen.

In dié verband verg die onlangse debat oor die Afrikaner-verklaring ook oorweging. Baie gemeenskappe en taalgroepe het hul lojaliteit en toewyding aan nasiebou verklaar.

Party, soos die Afrikaners, staan oënskynlik reeds saam as een van die boustene van ons nasie; ander is nog besig met die proses.

Alle politieke partye het hulle in hul verkiesingsbeloftes tot eerlikheid, verantwoordbaarheid, diens­lewe­ring en nasiebou verbind. Die bou van 'n doeltreffende min­der­heids­­gebaseerde regering is dalk 'n goeie begin.

Kom ons hoop en vertrou dat die politieke leiers die uitslag van die verkiesing sal aanvaar en Suid-Afrikaners se wense sal respekteer.

Hoe doen ons dit? Die ANC sal na verwagting die grootste minderheid wees, en dus moet sy leier 'n uitnodiging rig aan alle partye wat 10% of meer steun in die nasionale en provinsiale verkiesings ontvang om vrywillig by die RNE aan te sluit.

Omdat die emosies hoog loop gedurende en ná 'n verkiesing, sal dit dalk verstandig wees om 'n paar betroubare en geloofwaardige moderators te nooi om die aanvanklike vergaderings te fasiliteer.

Kom ons hoop en vertrou dat die politieke leiers die uitslag van die verkiesing sal aanvaar en Suid-Afrikaners se wense sal respekteer.

Die plig om 'n doeltreffende regering binne die grondwetlike raamwerk te vorm is ons s'n. En dis ons verantwoordelikheid om ons nasie te bou en te verenig.

• Dr. Bester is 'n direksielid van die FW de Klerk-stigting, maar skryf in sy persoonlike hoedanigheid.Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Coetzee Bester

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM