Die deur is nie toe vir die DA om deel van die regering van provinsiale eenheid (RPE) in Gauteng te word nie, sê Panyaza Lesufi, premier.
Die DA het Woensdag op die nippertjie kop uitgetrek uit die RPE omdat hulle nie tevrede is met Lesufi se aanbod vir LUR-poste nie. Die DA wou hê dat die ANC die provinsiale kabinet proporsioneel verdeel volgens die stemme wat die partye in die afgelope verkiesing in die provinsie gekry het. Die ANC, wat 34% (1,3 miljoen stemme) gekry het, wou 70% van die LUR-poste hou en het vir die DA, met 28% (1 miljoen stemme), 30% van die poste aangebied. Dit het daartoe bygedra dat onderhandelinge misluk het en die partye nie 'n ooreenkoms kon bereik nie.
Lesufi het ná twee geleenthede waar hy die aankondiging uitgestel het, sy leierskorps uiteindelik Woensdagaand bekend gemaak. Die ANC behou sewe LUR-poste - finansies en ekonomiese ontwikkeling, paaie en vervoer, behuising, maatskaplike ontwikkeling, samewerkende regering, onderwys en jeugontwikkeling asook gesondheid. Al die LUR'e het in die vorige administrasie onder Lesufi gedien.
Drie partye is deel van die RPE. Die IVP het e-regering, Rise Mzansi landbou en landelike ontwikkeling en die PA omgewingsake gekry.
Solly Msimanga, Gautengse DA-leier, sê hulle sal terugkeer na die onderhandelingstafel as die ANC hul houding oor die proporsionele verdeling verander.
"Die deur is nie toe nie, maar ons gaan nie ons tyd mors met onderhandelinge as hulle nie wil bes gee oor proporsionele verdeling nie."
Msimanga sê hulle sal terugkeer na die onderhandelingstafel as die ANC drie van die sewe LUR-poste aan die DA afstaan en die ander kleiner partye hul poste behou.
Volgens hom sal hulle nie Gautengers versaak nie.
"Ons wil dien waar ons 'n beduidende invloed kan hê op beter dienslewering."
Refiloe Nt'sekhe, DA-LPW, wat in Junie in die eerste sitting van die wetgewer onbestrede tot adjunkspeaker verkies is, gaan ook bedank om haar plek in die opposisiebanke in te neem.
Ons loof die dapper besluit van Lesufi om sy kabinet aan te kondig nadat dit uit lang onderhandelinge geblyk het die DA is moeilik om tevrede te stel.
— Cosatu
Kenners dink omdat Lesufi met 'n minderheidsregering die provinsie regeer, kan hy uitdagings hê om 'n begroting deur te voer en verslae te laat aanvaar. Dr. Levy Ndou, politieke ontleder verbonde aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie, sê Lesufi sal dan by ander partye vir steun moet gaan aanklop.
"Dit gaan egter nie 'n groot impak op dienslewering hê nie. Jou plaaslike regering is vir dienslewering verantwoordelik met die provinsiale regering wat moet toesien dat die plaaslike regering hul werk doen."
Hy verwag dat Lesufi dalk ander partye soos die EFF kan betrek deur vir hulle voorsittersposte in die wetgewer in ruil vir hul steun aan te bied.
Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder verbonde aan Unisa, dink die ANC en DA kan mekaar nog vind.
"Omdat hy nou sy kabinet aangestel het, beteken dit nie dis die einde van onderhandelinge nie. Daar was 'n leierskapsvakuum en hy het besluit op 'n minderheidsregering. Dit hang nou af of hy die LUR-poste proporsioneel gaan verdeel."
Cosatu in Gauteng loof Lesufi dat hy nie aan die DA se eise toegegee het nie.
"Ons loof die dapper besluit van Lesufi om sy kabinet aan te kondig nadat dit uit lang onderhandelinge geblyk het die DA is moeilik om tevrede te stel."
Die oënskynlike motivering agter die hergebruik van die ANC-leierskap is om begunstiging te bestuur en mense in die ANC-faksies te paai.
— Nkululeko Dunga, EFF
Die EFF in Gauteng is ook beïndruk met Lesufi wat "moed getoon het en die DA se boelietaktieke vir regeringsposte weerstaan het".
Nkululeko Dunga, Gautengse EFF-leier, lewer egter ook kritiek.
"Die EFF is nie beïndruk met die heraanstelling van dieselfde ou ANC-leiers in regeringsposte - nadat die mense van Gauteng hul duidelike ontevredenheid by die stembus te kenne gegee het - nie. Die oënskynlike motivering agter die hergebruik van die ANC-leierskap is om begunstiging te bestuur en mense in die ANC-faksies te paai, pleks daarvan om geloofwaardige en toegewyde individue aan te stel om Gautengers te dien."
Dunga sê die LUR'e het jammerlik misluk in die uitvoering van hul verantwoordelikhede in die vorige administrasie.
Adv. Anton Alberts, nasionale voorsitter van die VF Plus en LPW in Gauteng, sê dit is onaanvaarbaar dat Lesufi se aanstellings in die breë nie die samestelling van die regering van nasionale eenheid op nasionale vlak weerspieël nie.
"Daarmee is 'n gulde geleentheid verspeel om 'n meer verteenwoordigende en redelike regering vir Gauteng daar te stel."
Hy sê Lesufi gaan 'n opdraande stryd hê om enige besluite deur te voer omdat hy tans met 'n wesentlike minderheid regeer.
"Sonder die steun van die VF Plus en die DA sal Lesufi sukkel om die nodige 50% plus in die wetgewer te kry."












