Beter dienslewering, die einde van korrupsie en werkgeleenthede. Dít is waarvoor baie van die inwoners van Durban Woensdag gestem het.
Mense het reeds douvoordag in die koel weer uitgegaan om hul kruisies by stempunte oor die stad heen te gaan trek.
Lichkus Paul (68) van Westville het gesê hy het Woensdagoggend vir 'n "groot verandering" in KwaZulu-Natal gestem. "Ons dienslewering moet dringend verbeter. Dit sluit in ons water, krag en onderwysstelsel. Ek het vandag vir daardie verandering gestem."
Hy het gesê hoewel die stemproses Woensdagoggend by sy stempunt in die Pitlochry Primary School stadig verloop het, was die beamptes van die Verkiesingskommissie (OVK) baie behulpsaam. "Ek was 20ste in die ry en dit het so 30 minute geneem voordat ek kon stem."
Nikita Jagaran (25), ook van Westville, sê sy voel baie geëerd en opgewonde om te kon stem. "Ek wil net 'n verbetering in KwaZulu-Natal sien. Ek dink my stem sal daardie verandering meebring."

Rob Stephen (67) van Northwood in Durban-noord het Woensdag by die Northwood High School gestem en gesê sy stem gaan ook daaroor om die dienslewering te verbeter.
"Ek wil ook hê korrupsie moet uitgeroei word."
Hy is tevrede met hoe die stemproses verloop het.
Londiwe Mathemjwa hoop dat "oudpres. Jacob Zuma se uMkhonto weSizwe" (MK) vir haar beter geleenthede kan bring. "Ons sukkel met beurtkrag. Dit is die eerste ding wat opgelos moet word. Ook ons waterkrisis en die feit dat ons in informele nedersettings bly. Ons wil nie in shacks bly nie. Ons soek werk.
"Ek dink Msholozi (Zuma) sal daardie verandering vir ons kan bring. Met ons hulp sal hy dit kan doen.

"Msholozi, wees getrou aan jou mense. Doen wat ons jou vra. Baie mense is kwaad."
Mathemjwa het gesê daar is onlangs baie oor Zuma gesê en dat hy korrup is. Sy glo egter nie die stories nie, en is vol vertroue dat MK in KwaZulu-Natal gaan regeer.
Macy Miya Appasamy (18) het Woensdagoggend in Durban-noord vir die eerste keer gestem. "Dit was baie opwindend. Dit is belangrik om te stem en dit was 'n baie goeie ervaring.
"Dit is belangrik om korrupsie te beëindig. Ons hulpbronne moet reg bestuur word sodat die minderbevoorregtes ook gehelp kan word. Ek het dit in gedagte gehou toe ek gestem het."
Die 100-jarige en geesdriftige Joe Schloms van Northwood in Durban-noord het gesê dit is vir hom steeds belangrik om sy kruisie te trek, want dit is die enigste manier om sy stem te laat hoor.
Hy het Woensdag net ná 10:00 saam met sy vrou, Lynn Schloms (86), by die Northwood High School opgedaag.
"Ek stem vir my land se onthalwe. Ek wil nie noodwendig hê dinge moet verander nie. Ek wil net hê dat 'n nuwe regering dinge beter moet doen," het hy gesê kort nadat hy gestem het.
Hy het ook in elke verkiesing in sy leeftyd gestem.

Netwerk24 wou ook by hom weet hoe beurtkrag en swak dienslewering hom op sy hoë ouderdom raak.
"Dit raak my nie so erg nie. Ek is 'n baie kalm mens en op my ouderdom doen ek nie veel nie. Sulke goed kan my nie meer pla nie."
Mxolisi Kaunda, burgemeester van Ethekwini, het gesê hy het as 'n gewone landsburger gestem. Dit is waarom hy net soos die ander mense in die lang ry buite die Pitlochry Primary School sy beurt afgewag het.
Kaunda het bygevoeg dat die ANC nog baie werk het om in KwaZulu-Natal te doen. "Daar is baie mense wat nie huise het nie, wat nie werk het nie. Maar die party is vasberade om dit reg te stel."
Hy het gesê indien die ANC steeds in KwaZulu-Natal aan die bewind bly, sal sy party voortgaan waar hulle opgehou het.
"Ons verstaan die infrastruktuur, waaronder water, krag en sanitasie, gee ons baie probleme. Dit is hoekom ons baie van ons hulpbronne daarin ploeg. In die stad waar ek lei, het ons al baie daaraan gedoen. Soos ons hier praat, is daar ondernemings op die grond besig om iets aan daardie probleme te doen. Werkskepping is ook vir ons 'n groot prioriteit. Mense soek werk."
Kaunda het gesê die ANC in KwaZulu-Natal is nie nou te bekommerd oor moontlike koalisies nie. "Ons mik vir 'n volstrekte meerderheid."





















