"Daar waar ek woon, vreet die burgemeester hom dik en ons het nie kos nie."
Dit was hoe Ida Phiri (45) van Botshabelo buite Bloemfontein Woensdagoggend haar siening van die politiek beskryf het waar sy as veiligheidswag by die stemlokaal van die Westdene-rolbalklub in die stad gewerk het.
"Ek stem, maar ek stem nie ANC nie," sê sy.
Dit is die eerste keer dat sy nié vir die ANC gaan stem nie. "Mense is moeg daarvoor dat niks gebeur nie. Ons moet stem vir verandering.
"Die burgemeester se toilet werk, maar ons openbare toilette wil nie eens spoel nie."
Jaco Smith (51) het skuins voor 07:00 in die ry by die munisipale rolbalklub in Bloemfontein kom staan om sy kruisie te trek. Hy sê hy het sedert 1994 nog nooit 'n stemdag misgeloop nie.
Smith moedig almal aan om te stem.

"As almal dink een stem gaan nie 'n verskil maak nie, dan gaan niks gebeur nie. Jou stem is dalk net 'n druppel aan die emmer, maar 'n klomp druppels maak darem die emmer vol."
Kiesers by hierdie stemlokaal was gefrustreerd omdat stembriewe eers teen 07:15 opgedaag het. Verder was die stelsel ook met tye van lyn af en kiesbeamptes moes kiesers se name op 'n uitgedrukte lys soek.
Daar was ook kiesers wie se naam glad nie op die lys was nie, hoewel hulle geregistreer het om te stem.
Willemiena Becker (61) en Hester Koen (64) het saam geregistreer om by die rolbalklub in Westdene te stem, maar hul name was nie op die lys nie. Hulle het 40 minute in die ry gestaan net om toe hulle binnekom, met 'n skok te besef dat hulle nie hier kan stem nie.
As gevolg van die stadige stelsel het dit beamptes nóg 30 minute geneem om te kyk of Becker en Koen dalk iewers anders geregistreer is.

Hoewel Becker 'n SMS gekry het wat bevestig het sy moet by die munisipale rolbalklub stem, het die stelsel gewys dat albei eintlik by die NG kerk Heuwelsig moet stem.
Hulle het nie vervoer gehad om tot by die nuwe stempunt te kom nie, maar 'n medekieser het aangebied om hulle te neem.
"Dit is baie ongerieflik vir my, want ek het gisteraand nagdiens gewerk," sê Becker. Sy is 'n verpleegster by die Mediclinic in Bloemfontein. "Ek gaan nou maar net min moet slaap voor my volgende skof, maar stem sal ek stem."



















