Alles het tot dusver "baie goed verloop" by stemlokale waar gesiggestremde mense spesiale stemme uitgebring het.
Een van hulle was Quinten Pendle, 'n blinde musikant wat Maandag met sy vrou se hulp gaan stem het. Hy sê die hele proses was baie maklik en hulle was binne 15 minute klaar.
Heaven van der Merwe sê ook "dit was uitstekend".
"Ons is baie mooi gehelp."
Van der Merwe het met die Universele Stembrieftemplaat (UBT) by Innovation for the Blind in Worcester gestem.
Sy gebruik al sedert haar eerste verkiesing in 2011 die UBT - 'n hulpmiddel wat die OVK saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Blindes (SANRB) ontwikkel het sodat mense met gestremdhede en spesiale behoeftes steeds in die geheim kan stem.
Dié templaat is 'n harde soort stensil van plastiek waarin kiesers hul kruise trek. Die bokant het 'n flap met uitgesnyde vensters wat in Braille genommer is en ook groot wit druk wat uitstaan.
Sodra die stembrief in die oop kant van die stensil geplaas word, sal die venster of gaping in lyn met 'n kandidaat of party se boksie wees.
Die kieser kan seker maak dat die posisionering korrek is deur regs bo aan die agterkant van die stensil die stembrief by die uitgesnyde driehoek te voel. Die kieser is dan vry om sy/haar keuse te maak.
Diegene met swak sig, disleksie, lae geletterdheid, motoriese en senuweetoestande en bejaardes wat bewerig is, kan ook die UBT gebruik.
'n Stembeampte kan gevra word om die proses te verduidelik en die volgorde van die kandidate of partye op die stembrief te lees.
Hoewel die UBT vir nasionale en provinsiale verkiesings gebruik kan word, is daar nie voorsiening vir die streeksverkiesing gemaak nie.
Kiesers met gestremdhede of spesiale behoeftes kan ook 'n metgesel vra om hul stembriewe te merk. Die metgesel moet 18 jaar of ouer wees en nie 'n party-agent, kandidaat of waarnemer wees nie. As 'n kieser geen metgesel het nie, kan die stembeampte sulke hulp verleen.
Dit moet gedoen word in die teenwoordigheid van twee party-agente van verskillende partye en een geakkrediteerde waarnemer, indien iemand beskikbaar is.
Die OVK sê nie op sy webwerf of die UBT vir die streekstembrief beskikbaar sal wees nie, en Van der Merwe het bevestig daar is nie een nie.
• Stefani Terblanche is 'n Netwerk24-beursjoernalis.





















