Verkiesings 2024

Mense stem ANC ‘uit vrees vir verandering’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gladys Wittes (40), Dieketseng Sehloho (31), Michael Diphoko (35), Ntyabeleng Gaba (17) en Mathapelo Xuma (44) het met Netwerk24 oor die verkiesing gepraat. Foto: Mlungisi Louw
Gladys Wittes (40), Dieketseng Sehloho (31), Michael Diphoko (35), Ntyabeleng Gaba (17) en Mathapelo Xuma (44) het met Netwerk24 oor die verkiesing gepraat. Foto: Mlungisi Louw

Baie mense voel die ANC moet aan bewind bly omdat mense gewoond is aan die party en 'n groot vrees het vir verandering.

So sê Gladys Wittes (40) van fase 2 in Bloemfontein. "Mense raak deurmekaar, want daar is te veel partye en dan weet hulle nie vir wie om te stem nie."

Sy glo wel dat dit tyd is dat die ANC uitgestem word en dat 'n ander party die geleentheid moet kry om aan bewind te kom.

Sy sê jong mense in haar gemeenskap steun eerder die EFF.

Haar vriendin Mathapelo Xuma (44) van Lourierpark sê dat sy ook agterkom dat die jong mense meer geneig is om vir die EFF te stem as vir die ANC.

"Enigiets is seker beter as die ANC," sê sy. Sy glo dat elke party 'n ander provinsie moet kry en dat hulle dan "onder mekaar moet baklei".

Siseko Faku (20) sê dat hy opgewonde is om vir die eerste keer te stem. Foto: Mlungisi Louw
Siseko Faku (20) sê dat hy opgewonde is om vir die eerste keer te stem. Foto: Mlungisi Louw

Xuma sê sy is baie bekommerd oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). "As ons nie reggekom het by staatsinstansies nie, het ons na private instansies gegaan," sê sy. "Wat gaan ons nou doen?"

Ntyabeleng Gaba (17) sê dat sy nog nie kan stem nie, maar sy sou vir die ANC stem. Mense hou van die voordele wat die ANC bied. "Hulle weet hulle gaan nie dieselfde voordele kry as hulle nie vir die ANC stem nie," sê sy.

"Mense is bang vir verandering en dit is ook hoekom hulle nie vir iemand anders as die ANC sal stem nie."

Siseko Fakin (20), 'n onderwysstudent van Rouxville in die Suid-Vrystaat, sê hy is opgewonde om vir die eerste keer te stem. "Ek sien daarna uit om te stem, want ek weet dat daar verandering moet kom."

Moleleki Mamello sê dat sy nie vanjaar gaan stem nie omdat sy nie verwag dat daar enige verandering gaan kom nie.  Foto: Mlungisi Louw
Moleleki Mamello sê dat sy nie vanjaar gaan stem nie omdat sy nie verwag dat daar enige verandering gaan kom nie. Foto: Mlungisi Louw

Hy sê baie jong mense wil graag hê dat daar verandering moet kom, maar hulle is nie bereid om te stem nie.

"Dit help nie jy kla, maar jy doen niks nie."

Moleleki Mamello (21), 'n student aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), sê sy gaan nie in hierdie verkiesing stem nie. "Dit help nie ek stem nie, want ek weet in elk geval dat daar geen verandering gaan kom nie."

Sy sê sy weet nie hoekom sy moet stem as die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) haar geblok het nie.

Mamello sê dat haar ma ook nog nooit gestem het nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM