Verkiesings 2024

Michael le Cordeur: Stem vir beter onderwys

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ouers van die George Jacques Primary School in Alicedale in die Oos-Kaap het hulle verlede jaar tot protesaksies gewend omdat hulle ontevrede was met die omstandighede by die skool. Foto: Gallo Images
Ouers van die George Jacques Primary School in Alicedale in die Oos-Kaap het hulle verlede jaar tot protesaksies gewend omdat hulle ontevrede was met die omstandighede by die skool. Foto: Gallo Images

RSG se Suzanne Paxton vra my tydens 'n radioprogram hoe ver Suid-Afrika se onderwysstelsel onder demokrasie gevorder het.

Dis 'n moeilike vraag, maar 'n onlangse voorval is dalk die beste aanduiding van waar ons tans is.

Klein Unecebo Mboteni (3) is verlede maand oorlede nadat hy in Mdantsane, Oos-Londen, in 'n puttoilet geval en verdrink het. Dit is, soos al die ander voorvalle oor die jare waar kinders in puttoilette verdink het, 'n sinlose verlies aan 'n kosbare lewe.

In hoe 'n mate het aartsbiskop Desmond Tutu se reënboognasie in ons skole gestalte gevind?

In reaksie op 'n parlementêre vraag het Fundile Gade, LUR vir onderwys in die Oos-Kaap, erken dat 113 000 leerlinge by 427 skole verlede jaar in dié provinsie nog puttoilette moes gebruik. Ook in ander provinsies het min verander, ten spyte van talle oproepe uit talle oorde dat die regering hierdie euwel moet uitwis.

Beloftes daaroor het 'n muis gebaar. Die voorval onderstreep die ongelykheid in Suid-Afrika se onderwysstelsel.

Om die vraag oor hoe ver ons onder demokrasie gevorder het met onderwys in die land te beantwoord, antwoord ek dus met teenvrae.

Hoe lyk ons skole? In hoe 'n mate het aartsbiskop Desmond Tutu se reënboognasie in ons skole gestalte gevind? Het elke Suid-Afrikaanse kind toegang tot basiese onderwys soos die Grondwet beloof? Hoe bevorderlik en veilig is die skoolomgewing vir effektiewe onderwys? Het alle kinders toegang tot moedertaalonderrig?

Meer as net rugby

Toe Tutu sy visie van 'n Suid-Afrikaanse reënboognasie met die wêreld gedeel het, het hy beslis nie net 80 minute op 'n rugbyveld in gedagte gehad nie. Sou dit dan te veel gevra wees dat leerlinge en onderwysers in skole ook die diversiteit in ons land uitbeeld?

Dit is waar dat sommige skole 'n diverse samestelling van leerlinge het, maar as ons regtig eerlik is, is dit slegs die geval by voormalige model-C-skole en by private skole.

Ouers wat dit kan bekostig, stuur hul kinders na spogskole waar hulle toegang kry tot die beste hulpbronne, onderwysers en sportgeriewe.

Meestal is dit daardie leerlinge wat hul pad vind na die Cravenweek of uiteindelik Springbokke word. Kurt-Lee Arendse, 'n oudleerling van die Paulus Joubert Secondary School is 'n uitsondering. 'n Mens haal jou hoed vir hom af.

Dis ook daardie skole wat meer welgesteld is wat dit kan bekostig om die beste onderwysers te lok.

By die oorgrote meerderheid skole in Suid-Afrika het sedert 1994 min of niks verander nie.

Ek hoor gereeld studente wat sê die eerste keer wat hulle met studente en dosente van 'n ander ras interaksie het, is wanneer hulle die universiteitskampus betree. Hoe verwag ons dat jong mense as 'n verenigde nasie of minstens 'n nasie-in-wording optree as hulle ná 30 jaar steeds apart van mekaar opgroei?

Dit is baie moeilik vir volwassenes om met mekaar oor die weg te kom as hulle nooit as kinders saamgespeel het nie.

Moedertaalonderwys

Navorsing het bewys moedertaalonderwys bied aan 'n kind die beste geleentheid om te presteer. Die waarheid is dat minder as 15% van Suid-Afrikaanse kinders in hul moedertaal onderrig word.

Net Engelssprekende kinders (ongeveer 10% van die skoolgaande bevolking) en sprekers van Standaardafrikaans (ongeveer 5%) het toegang tot ware moedertaalonderrig.

Alhoewel byna 9% Suid-Afrikaners hul huistaal aandui as Afrikaans, is ongeveer 4% daarvan sprekers van Kaapse Afrikaans en ander variëteite van Afrikaans. Alhoewel baie mense aanvaar dat dit een taal is, is Kaaps inderwaarheid 'n ander taal met 'n gans ander letterkunde, idiomatiese woordeskat en grammatikale onderbou. Dit verklaar hoekom Kaapse Afrikaanse sprekers so swak vaar in Afrikaans (Standaardafrikaans) op skool. Ouers het reeds in 2000 begin beswaar maak omdat kinders nie die taal 100% verstaan nie.

Leerlinge met een van die swart inheemse tale as moedertaal, kry boonop slegs moedertaalonderrig tot in gr. 3. Daarna moet hulle oorskakel na Engels sonder dat hulle hoegenaamd Engels onder die knie het.

Die gepaardgaande swak prestasie in geletterdheid en syfer-kundigheid is nie wat jy van 'n demokratiese onderwysbestel verwag nie. Dikwels is dit die onderwerp van skerp kritiek terwyl dit nóg die kind nóg die onderwyser se skuld is.

'n Veilige omgewing

Dit is enige ouer se ideaal dat sy kind in 'n skool is wat 'n veilige hawe is binne 'n omgewing wat bevorderlik is vir doeltreffende onderwys. Ná drie dekades van demokrasie is dit egter steeds 'n droom.

Kinders word daagliks aangerand op pad skool toe of op pad huis toe. Meisies word verkrag. Kinders word ontvoer en met messe gesteek. Onderwysers word doodgeskiet en kinders sterf in die kruisvuur tussen bendes.

Dis iets wat ek self al beleef het. Verlede winter, tydens die taxi-staking, het ek twee skole besoek om studente in hul proeftyd te assesseer. Toe die klok lui by Skool A het verskeie leerlinge na hul rugsakke gegryp en 'n mes uitgehaal.

Dit is, het ek verneem, "om hulself te beskerm" teen diegene wat hulle wil seermaak omdat hulle dit durf waag het om skool toe te kom tydens die staking. Veral vir een meisie was die tog terug huis toe vreesaanjaend. Sy moes 10 km stap na die township omdat daar nie taxi's was nie. Enigiets kon met haar gebeur het.

By Skool B was dit 'n doodgewone skooldag. Die skoolprogram het normaalweg voortgegaan. Leerlinge het pouses sorgeloos op die terrein gestaan en praat, lag en hul broodjies geëet.

Dat die demokrasie vir sommige leerlinge 'n aangename skoolervaring gebring het, kan jy nie ontken nie. Maar vir die meeste kinders is dit steeds 'n droom wat hulle bly ontwyk.

Oorvol skole

Daar is elke dekade 'n miljoen nuwe leerlinge op ons skoolbanke. Teen 'n gemiddeld van sowat 1 000 leerlinge per skool, beteken dit 1 000 nuwe skole.

Dit het egter nie die afgelope 30 jaar gebeur nie. En ek twyfel of dit in die afsienbare toekoms gaan gebeur.

Danksy vrot finansiële bestuur deur die regering, sit Suid-Afrika met 'n skuldlas waarvan die land omtrent nie eens die rente kan bekostig nie.

Te midde van swak ekonomiese groei is daar kort-kort dreigemente dat ons op 'n resessie afstuur. Daar is dus eenvoudig nie geld (of is dit politieke wil?) vir nuwe skole nie.

Tog is die reg op onderwys 'n fundamentele mensereg. Ingevolge art. 29(1)(a) van die Grondwet het elke kind die reg tot onderwys.

Toe ek in gr. 6 moes skoolgaan in opslaanklaskamers in Wellington se versengende hitte, het ek gebid dat 'n demokratiese bestel 'n einde aan sulke omstandighede sou maak.

Ongelukkig en ten spyte van die stryd van die jeug van 1976 (waarvan ek deel was), het duisende kinders vandag nog nie toegang tot gehalteonderrig nie.

Ek het al klasse gesien waar meer as 120 leerlinge ingeprop sit. Hoe leer jy kinders om effektief te lees in klasse van meer as 60 leerlinge? Hoe handhaaf 'n skoolhoof dissipline as daar meer as 2 000 leerlinge op die terrein is?

Toe ek in gr. 6 moes skoolgaan in opslaanklaskamers in Wellington se versengende hitte, het ek gebid dat 'n demokratiese bestel 'n einde aan sulke omstandighede sou maak.

Toe nie. Ná 30 jaar van demokrasie is sulke tydelike opslaanklaskamers by talle skole 'n bewys van 'n regering wat sy grondwetlike pligte versuim het. So wat nou?

Jou stem is belangrik

Die spreekwoord lui dit is makliker om 'n begraafplaas te skuif as om 'n onderwysstelsel te verander.

In 'n moderne demokratiese samelewing het gewone burgers wat onderwys op hul harte het, basies slegs een meganisme om die situasie te verander. As jy dus steeds twyfel of jy môre moet gaan stem of nie, bring Plato se woorde hopelik perspektief: "Een van die strawwe daarvan om te weier om deel te neem aan politiek is dat jy op die ou end deur jou minderes regeer word.

• Prof. Le Cordeur is die visedekaan vir onderrig en leer aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit opvoedkunde. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM